Loading...

Hochfeld Se Wennerboer

Hochfeld Se Wennerboer
Posted by on 1 February 2015 and filed under

VOORWOORD

’n Slim plan wat uit droogtenood gebore is en vandag vir ’n bykomende inkomste sorg, is een van die bestanddele van suksesvolle boerdery op die Feedmaster-span se jongste roete – hierdie keer na die Von Dewitze op die plaas Spes Bona in die Hochfeld-omgewing.

Meer verrassings het gewag: die Von Dewitz-familiestamboom wat sedert 1212 bygehou word – ’n raps meer as 800 jaar – en die klim teen twee steil, regop stelle houttrappe deur twee nou luike om van bo uit die toring ’n oog oor boerdery-aktiwiteite rondom die opstal te gooi. Ook oor die geploegde 16 ha wat begin Februarie nog gesmag het na reën. “Vir mielies plant was dit te laat. Dalk nog akkerbone – as die reën sou kom,” het Jörg “Stokkies” von Dewitz hoopvol met sy hand oor die stuk droë land beduie.

Nege jaar het verloop sedert-Agriforum-laas op die plaas Spes Bona was met Stokkies se opedag in 2006 toe hy as die Namibië Landbou Unie (NLU) se 2005 Jongboer van die Jaar aangewys is. Intussen het baie verander – tipies van ’n hardwerkende boer wat geleenthede bly ontgin. Marietjie van Staden (Agriforum) en Lourens Swart (Feedmaster) het die voorreg gehad om ’n dag saam met Switserse gaste, ook boere, op Spes Bona deur te bring. Al die interaksie – die belewenisse in die veld en die bederf uit die kombuis was ’n groot lekkerte.

Teen sterk skemer is daar gegroet met die besef dat bepaalde eienskappe nodig is vir sukses behalwe vir hardwerkendheid en bly planne maak, ook ’n positiewe gesindheid, lewensvreugde en aktiewe deelname aan boerevereniging-aktiwiteite. As die enigste manlike lid van Hochfeld se kampioenbraaispan van verlede jaar is Stokkies nou die voorsitter van die reëlingskomitee van elf Hochfelders ’n kragtige poging om as gasheer van Meatco Nasionale Braaikompetisie op 27 en 28 Maart die land te wys hoe opwindend ’n braaifees kan wees boonop ’n spesiale een wat saamval met die 80ste bestaansjaarvieringe van die Hochfeld Boerevereniging.

HOCHFELD SE WENNERBOER EN KAMPIOENBRAAIER-WYS HOE DIVERSIFIKASIE SUKSES HELP DRYF-

Ongelooflik! Om diversifikasie op die plaas Spes Bona in die Hochfeld-omgewing te ervaar gee hoop vir boerdery se toekoms. Jörg “Stokkies” von Dewitz woel en werskaf hier al 17 jaar lank om volhoubaar te produseer. Nie dat alles tot dusver suksesvol was nie. Maar dit wat nie volhoubaar is nie, word uitfa­seer sonder sentiment, want hier praat syfers en fyn rekordhouding.

As ’n moderne boer span Stokkies die rekenaar en selfoon in om die boeke te laat klop. Selfs die data van Bonsmara-stoetdata is op sy selfoon oral byderhand. Stokkies het sy Afrikaanssprekende vrou, Marina, in sy studentejare aan die Universiteit van Port Elizabeth ontmoet. Hy het bourekenaarwese studeer en sy modeontwerp. Marina is oorspronklik van die Karoo waar haar pa ’n skaapplaas naby Victoria-Wes het. Deesdae is sy vlot in Duits, maar onthou dag en datum hul aankoms op Spes Bona. “Dit was op 8 Mei 1998 – ook die dag toe ek oor my land-en kultuurgrens gespring het. En ek geniet elke oomblik daarvan.”-

Agriforum-was einde Januarie saam met Feedmaster op Spes Bona waar boerdery heelwat ver­ander en ontwikkel het sedert Stokkies se opedag as die Namibië Landbou Unie se tweede Jong­boer van die Jaar van 2005. Die kompetisie is in 2004 ingestel.-

Bonsmara-teling en kommersiële beesproduksie vorm hier steeds die kern. Akkerboubedrywig­hede gaan volstoom voort met die plant van mie­lies en akkerbone, maar die nie-winsgewende olyfbome is uitgekap, houtskool-aktiwiteite is laat vaar en daar word nou volvoer en lemoenwyn gemaak albei baie gewilde produkte. Die Jerseys het ook bygekom, gras word op groot skaal gesny en die onlangse oorskakeling na sonkrag dra by tot groot besparings en meer geld in die sak. Tyd vir buitelandse gaste ontvang is daar ook.-

BONSMARA VORM DIE HOEKSTEEN-

“Beesproduksie en die verkoop van stoetdiere bly die hoofverdienste van boerdery-aktiwiteite op Spes Bona. Die insetkoste van akkerbou is nie vergelykbaar met die druppel aan die emmer vir veeboerdery nie. Masjinerie wat op landerye gebruik word, kos baie geld,” vertel Stokkies.-

Sy voorliefde vir die Bonsmara lê in ras se vrug­baarheid en kalwingsgemak – ook die goeie groei en die baie goeie moeders. “Kalwingsproble­me oor al die jare kan ek op my een hand tel.”-

Stokkies se pa, Klaus (ook bekend as Stokkies), het veertig jaar gelede op Bonsmara-teling besluit. Bulle is by verskeie telers plaaslik en in Suid-Afrika gekoop. In later jare het bulle uit veral wyle Arthur de Villiers en sy seun, ook Arthur, se bekende Arcadia Stoet in Suid-Afrika ’n groot impak op die Stokkies Bonsmara Stoet gehad.-

Dit is veral die streng vereistes vir Bonsmara-teling wat Stokkies opgewonde maak soveel so dat hy ook as senior keurder gekwalifiseer het. “Akkurate gegewens maak dat jy met vertroue ’n bul kan koop of verkoop. Jy kan vooruit bepaal hoe ’n bul of ’n koei gaan teel. Streng keuring, akkurate syfers, meting in detail en prestasietoetsing bring mee dat gemoedsrus die hoeksteen van Bonsmara-teling vorm. Diere word tussen agtien maande en twee en ’n half jaar gekeur. Hulle moet dan beskik oor drie indekse speen­ouderdom (205 dae), 12 maande en 18 maande (540 dae). Diere met ’n indeks van onder 90 uit 100 punte val uit. Hulle moet geslag word. Nog strenger keuring geld om strukturele foute uit te skakel wanneer twee keurders telers jaarliks besoek. Die keurders wissel mekaar af volgens ’n rotasiestelsel omdat gereelde besoeke deur dieselfde keurders by dieselfde telers ’n invloed op gesonde oordeel kan hê.”

’n Pluspunt van Bonsmara-teling is volgens Stok­kies daardie B-brandmerk waarvoor vrug­baar­heidsertifikate en DNS-toetsing as bewys van vaderskap verpligtend is.-

Stokkies bemark sowat 20 bulle per jaar by twee veilings die Top 10 op Otjiwarongo en die Mega Bonsmara Veiling op Hochfeld.-

STRENG KEURING GEE GEMOEDSRUS-

Stokkies streef in sy teling na geharde, veldaangepaste diere. “Hoe meer jy ’n dier voer, hoe makliker maak jy dit vir hom om te vreet wat jy gee eerder as om sy kos in die veld te gaan soek. Kommersiële produsente wil nie gevoerde teeldiere hê nie, want by hulle is daar nie vol voerbakke nie. Afronding geskied by hulle net in die veld.”-

Vir hom gaan dit veral oor vrugbaarheid, nie soseer oor bespiering of slaggewigte nie. Foute soos bouvorm en skede in ’n kudde kan reg­ge­stel word, glo Stokkies. Hy voeg by dat hy die volgende aan Meatco bewys het: “As ek tien osse meer bemark as ’n teler van ’n ander ras wat 20 kg meer op ’n karkas wen, kry ek meer uit per kg vleis as my kalfpersentasie meer as 90% is.” Die tussenkalfperiode in beide Stokkies se kommersiële en stoetkuddes staan op 386 dae.-

Makheid, dit waarvoor die Bonsmara bekend is, pas Stokkies. “Bees werk is maklik. Ook seleksie. Jy stap rustig deur die kuddes en kan hulle op jou tyd goed deurkyk. Aanpasbaarheid is nog ’n uitstaande eienskap. Hulle skakel goed in – oral in verskillende tipe omgewings ook die teel­diere wat van Suid-Afrika ingevoer word.”-

’n Kort haarkleed (nie te wollerig nie) om boslui­se weg te hou is nog ’n teelaspek waaraan Stokkies aandag gee.-

PLAN TEEN ROOFDIERE WERK-

Dit is nou die derde jaar dat Stokkies pasgebore kalwers tot op die ouderdom van ’n maand en ’n half afhok. “Die besluit spruit uit die astronomiese verlies van 25 stoetkalwers in ’n koeikudde van 100 in een jaar. Dit beteken wel meer koste om ’n bykomende werker naby die kuddes te laat bly. Voorheen het ek ’n plaaswerker aan elkeen van die vier kuddes afgestaan. Nou is dit twee manne wat elk na twee kuddes moet omsien. Voordele wat die hoër arbeidskoste regverdig, is ’n skerp daling in kalfverliese tot die hui­dige sowat vier per jaar asook meer groei op die kalwers omdat hulle min­der energie gebruik om te loop, al is die ma’s heel dag in die veld.”-

’n Verdere voordeel wat Lourens Swart van Feedmaster bygevoeg het, is beter besetting. Stywe uiers by koeie omdat hulle bedags nie by hul kalwers is nie, bring mee dat hulle gouer weer op hitte kom. Stokkies het dit beaam.-

Stokkies se stoetkudde staan op 120 koeie en die kommersiële Bonsmara-kudde op 150 koeie en verse.-

DROOGTEPLAN SORG VIR NOG ’N INKOMSTE

Die droogte van 2012-2013 het Stokkies op die gedagte van voerproduksie gebring. “Ek moes baie voer. ’n Medeboer was so beïndruk met die resultate van my voerresep dat ek met produksie begin het. Ná drie jaar se omvattende toetse met verskillende resepte op die bulle en die osse in my voerkraal en het ek, sou ek sê, amper die resep vervolmaak.”-

’n Bewys dat Stokkies se volvoerresep werk, is dat hy een van die pres­teerders in Meatco se Produsent van die Maand-kompetisie is.

Die hoofbestanddeel vir die volvoer is Feedmaster se Enerfeed. Stokkies het mielies ook probeer, maar die groei op Enerfeed was beter. Daarby word HPK 30, gras en akkerbone gemeng. In sy proefnemings het hy ook agtergekom dat mieliestronke en gras dieselfde proteïen-inhoud het as albei droog is.-

Voerverkope het in 2013 begin. “Ek het nog glad nie adverteer nie, maar soos die boere onder mekaar praat, het die vraag toegeneem. Ek produseer die volvoer net op aanvraag, maar sal produksie opstoot namate die vraag dit regverdig. Produksie staan nou op 50 sakke volvoer van 30 kg elk per week. En dit verkoop soos soetkoek, ver­al onder ontluikende boere in nabygeleë kommunale gebiede vir die afronding van hul skou­diere. Boere in die Hochfeld-omgewing en van so ver as Omaruru is ook kliënte.”-

Gewigstoename op die volvoer is 1,45 kg per dag. Vir eie gebruik rond Stokkies osse vir 80 tot 90 dae af op die volvoer vir verkope in die tweede helfte van die jaar ook die ingekoopte diere.-

In die reuse-skuur by sy voerkraal is daar ’n klein voermenger, wat ook help om die vul van die sakke te bespoedig. ’n Netjiese stapel sakke met volvoer het op kopers gewag tydens die besoek van die Feedmaster-suksesverhaalspan.

DIVERSIFIKASIE ’N PRIORITEIT-

Jerseys maak deel uit van die groter beesboer­dery. Stokkies het sowat 30 Jersey-koeie wat hy aanhou vir melk vir huisgebruik en rantsoene, maar hy teel ook verse om te verkoop. “Die vraag is so groot dat ek nie kan voorbly nie en ’n waglys het. Die pryse is ook goed.” Sowat tagtig skape word ook aangehou, hoofsaaklik vir eie gebruik en hier en daar vir slaggoed vir verkope.-

Die sny en baal van gras tussen 1 500 en 2000 ronde bale per jaar vir lewering aan hoofsaaklik Meatco se Okapuka-voerkraal sorg vir nog ’n bykomende inkomste.-

As ook ’n volwaardige akkerbouer plant Stokkies mielies en akkerbone. “Ek kyk maar wat die reën maak. Hoe minder die reën, hoe meer akkerbone plant ek en andersom. Vanjaar is weer hoofsaaklik ’n akkerboonjaar, want dinge lyk nie goed nie. Verbouing geskied op tussen 30 en 50 ha.” Die mielies op 6 ha onder spilpuntbesproeiing het ’n gesonde knie-na heuphoogte gestaan tydens die suksesverhaalspan se besoek einde Januarie.-

Met die boord van 600 lemoenbome op 2 ha wat van die vorige eienaars, die Von Moltkes, geërf is, word daar ook gewoeker op Spes Bona. Hier hang die valencias, nawels, minneolas en suurlemoene geil aan takke. Op die varsproduktemark in Windhoek word die hoogste pryse vir die minneolas betaal. Nagenoeg 20 ton vars sitrus word jaarliks aan dié mark gelewer.-

Nog ’n produk van die boord is lemoenwyn waarvan die naam “Bona Vino” die pallet nog meer streel en soos mooi musiek op die oor val. Die landgoednaam is saamgestel uit die tweede deel van die plaasnaam Bona en die Italiaanse woord vir wyn “vino”. En wat ’n lieflike wyn. Van die skille wat ’n bitter smaak gee, raak die versappingsmasjien ontslae. Die lemoensap word dan met suiker by in groot plastiekdromme van 200 liter tot wyn verouder. Die wyn is reeds drinkbaar en smaaklik ná drie maande, maar bêre jy dit vir twee jaar word dit ’n heerlike sjerrie met ’n besonder pikante smaak. Daarvan het ons ook geproe so lekker dat die vier Switserse gaste hul glasies vir nog en nog se skink nader gebring het. Ja, daar is selfs ’n proehoekie in die kelder. Wynproduksie het agt jaar gelede begin en die wyn raak al gewilder. “Ons verkoop nou gemiddeld 8 000 liter wyn per jaar te min om te adverteer, maar net-net genoeg vir huidige kliënte.” So het die lemoene met vlekkies op die skil wat nie geskik is vir die varsproduktemark nie, ook ’n nismark op Spes Bona gekry.-

Agriforum-het van die wyn as ’n geskenk gekry. Baie spesiaal, want personeel, ook van die NLU, kry nou op Vrydagmiddae ’n paar slukkies om hulle met ’n vrolike lied in die hart die naweek in te stuur. Die boom van die spesiale bottel sal gewis nie gou gesien word nie.-

Dan is daar ook die buitelandse gaste wat vir ’n dag of twee ontvang word om hulle te wys hoe daar op ’n Namibiese plaas geboer word. Die toer­onderneming SWA Safaris sluit ’n lodge in die omgewing in op hul roete waarvandaan gaste vir ’n dag of twee na enkele plase uitge­plaas word dikwels boere om te kyk wat op Namibiese plase gebeur.-

WEIDING EN VOEDING-

Stokkies het 600 ha op sy plaas ontbos en dit in graslande omskep. Hy sny ook gras langs die paaie. “Tussendeur laat ek die graslande rus omdat die vraag daarna wissel. Verkope is swakker in goeie reënjare en die Okapuka-voerkraal se behoefte wissel ook.”-

Aanvanklik het Stokkies bloubuffelgras aangeplant, maar die kleierige, harde grond het nie goeie­ opbrengste gelewer nie. Daarby is bloubuffel eers drie jaar ná aanplanting gereed vir benutting. “As die bloubuffellande nie goed reën hier by ons kry nie, moet die grond elke twee jaar ge-rip-word, anders vrek dit. Bloubuffel aard beter in kalkerige of sanderige grond.”-

Stokkies vertel hierteenoor kan blinkhaar onmiddellik geoes word. Hy haal tussen 1 en 1,5 ton blinkhaar per ha af. Volgens weidingkundige dr. Axel Rothauge wat Stokkies se plaas al ’n paar keer besoek het, beskik hy oor goeie weiding klimaksgras soos borseltjie en swartvoetjie en meerjarige gras soos Kalahari-sandkweek en die minder smaaklike krulblaar. Stokkies voeg by: “Hoe meer ek die krulblaar sny, hoe meer kom die beter meerjarige Kalahari-sandkweek in.”-

Bestokking op Spes Bona is konserwatief vir die omgewing een bees op 12 ha. Voorts glo Stokkies aan ’n seskamp-rotasiestelsel. In die somer word die beeskuddes tweeweekliks roteer en in die winter maandeliks.-

Hy deel ook sy ervaring oor bosbeheer hetsy die strooi van korrels met die hand of uit die vliegtuig. “Onkruide soos John Deere en bitterbos kan ’n probleem word. In die eerste jaar ná behandeling met bosdoders is daar ’n ontploffing van gras. Dan maak die onkruidbosse, wat voorheen nie daar was nie, hul verskyning en die gras word al minder indien die bepaalde kamp druk bewei was en daar grondvogoordrag van ’n vorige goeie reënseisoen was.”-

Soos in enige ander beesboerdery, is uitgawes vir lek sinvol wat noodsaaklik is vir verhoogde produksie. Stokkies gebruik net Feedmaster-produkte-Beesmix 4:1:5-in die winter waarby ’n sak-Enerfeed-vir ʼn onderhoudslek gevoeg word. In die groen seisoen gebruik hy dieselfde produkte maar sny die ureum met die helfte.-

INFRASTRUKTUUR EN ARBEIDSAKE

Toe Stokkies se oupa Max die plaas in 1963 by die Von Moltkes gekoop het, was daar agt kampe. Nou is daar 57 kampe van gemiddeld 200 ha op die groter grond van ’n raps oor die 10 000 ha. Aanvanklik is daar kommersieel geboer met kruisings en die Simmentaler as basis. Twee jaar later, in 1965, het Stokkies se pa Klaus plaas toe gekom, grond bygekoop en met opbouwerk begin. Later het Klaus sy toetrede tot akkerbou gemaak deur op klein skaal gras te sny. Stokkies het in 1998 sy boerderyskoene begin volstaan die eerste drie jaar saam met Pa vir leiding en om die nodige kennis op te doen, toe op sy eie.-

Sy beste belegging tot dusver was in sonkrag, sê Stokkies. Die aanbring van ’n 15 kW sonkragstelsel in begin Mei 2013 by die opstal het ’n besparing van 60% in kragkoste meegebring. Die hoofwaterpunt by een van die poste, wat ’n drie­kwart van die plaas bedien, is in Oktober verlede jaar met ’n sonkragpompstelsel toegerus toe die een met die meeste krag op die mark wat gemid­deld 2, 7 kubieke meter (2 700 liter) per uur vir agt ure van die dag lewer. Dieselkoste van minstens N$600 per maand vir die Lister-enjin word nou gespaar. Die twee keer per week se ry aan die 10 km na die pos en terug huis toe om die Lister aan die gang te kry is nie ingereken nie, ook nie die daaglikse ritte as die Lister vol nukke was en soms gevrek het nie. Stokkies vertel trots dat die windpomp en die Lister nog nie weer gewerk het nie.-

Sy werkers deel dikwels in sy blydskap. Sy prysgeld van N$7 000 van Mutual & Federal as Jongboer van die Jaar het hy onder sy werkers verdeel. Ná vyf droë boorgate is water vir die huis, tuin en 6 ha mielies onder spilpunt ook ge­vier toe Stokkies ’n N$100-noot in elkeen van sy ses permanente werkers se hand gesit het. “Ek sal hulle nog meer gee as ons op die waterlose twee­derdes van die plaas ’n suksesvolle boorgat ge­sink kry. Dié deel kry nou van een boorgat af water.” Stokkies het nog ses kontrakwerkers in ­diens. Hulle kry net soos die permanente wer­kers bonusse. Vergoe­ding is ook ver bokant die minimum loon vir plaaswer­kers. Elke plaaswer­ker en sy gesin het ’n twee­slaapkamer-steenhuis met lopende water en tuine.-

PRESTASIES EN GEMEENSKAPSBETROKKENHEID-

Vir sy boerdery-vernuf is Stokkies al deur twee instansies vereer as die 2005 Jongboer van die Jaar in die NLU-kompetisie vir boere jonger as 40 jaar waarvoor beoordeling volgens streng kriteria deur ’n span kundiges geskied en as Meatco Produsent van die Maand (Oktober 2011) en as naaswenner (November 2014).-

Betrokkenheid by georganiseerde landbou het met sy toetrede tot boerdery geskied. Stokkies het twaalf jaar lank as tesourier in die be­stuur van die Hochfeld Boerevereniging ge­dien en vier jaar lank as raadslid van die Bonsmara Telers­­ge­noot­skap. As senior Bonsmara-keurder besoek hy tussen drie en vyf telers per jaar. Hy was ook in ’n sta­dium die voorsitter van die Hochfeld Skiet­klub en is steeds lid van die klub.

Tans staan Stokkies ook aan die stuur van die Meatco Nasionale Braaikompetisie waarvan sy boerevereniging vanjaar die gasheer is. Die omvang van hierdie braaifees beloof om ongekend te wees met ’n opwindende vol program wat ’n eerste kompetisie vir Namibiese afslaers insluit. ’n Lekker affêre! Sien bl. 100 tot 113 vir meer inligting.-

SLOTOPMERKINGS

Droogte het nie net vir Stokkies ’n plan gegee om geld uit volvoer te verdien nie, maar ook ’n les geleer om nie lek af te skaal nie en by jou beproefde lek te hou. “As jy koste in droogtes op lek wil spaar, maak jy jou grootste fout, want dan boer jy agteruit. Gevare daarvan is ’n afname in kalfpersentasie en kondisie. My pa glo as koeie se kondisie afneem, raak hulle nie herbeset nie. Ek sien nou by my so ’n trop koeie wat ek vinnig moet skuif.”-

Stokkies glo ook die duurste bul is nie nood­wen­dig die beste een nie. “Daar is goedkoper bulle wat ook goed presteer. Vir ’n beter bul moet jy egter meer betaal, maar hy moet vir jou ’n kalf en goeie groei gee sodat jy jou geld kan terugkry.”-

’n Boer wat sy sout werd is, moet volgens Stokkies in die veld wees, sy diere ken, hul kondisie dophou en die diere gereeld hanteer vir ’n goeie­ temperament.-

­Wat die NLU-beoordelaarspan vir die Jong­boer van die Jaar-toekenning destyds beïndruk het, was dat Stokkies tot op die sent rekord hou van sy produksie en finansiële bestuur – inligting wat hy vir die beplanning van sy boer­dery inspan. Algemene net­heid het ook opgeval die opstal met sy goed versorgde tuin, die skure, die sitrusboorde en die landerye.-

“Ek bly positief, al is boerdery-omstandighede nie aldag maklik nie en die koste-knyptang se greep al kragtiger. Ek wil boer, ek wil aangaan en daarom moet ek suksesvol wees.”

  • Print this article
  • Email this article
  • Share this article