Loading...

Fosfate En Mikro Minerale

Fosfate En Mikro Minerale
Posted by on 1 October 2015 and filed under

WAAROM IS FUTTERFOS BETER AS DIE RES?

Fosfaat is ‘n makro element waarvan hoeveelhede in gram per dag benodig word deur feitlik alle diere. Hierdie mineraal is betrokke by ‘n wye verskeidenheid metaboliese, neurologiese en sellulêre funksies. Dit speel veral n belangrike rol in die energie-metabolisme en bloed buffer sisteme. Die onderstaande illustrasie toon hoe die metabolisme van proteien, stysel en vet by mekaar aansluit en opeindig in die elektron transport ketting waar die fosfor molekule onvervangbaar is:

Dit is ‘n komponent van die genetiese materiaal (RNA en DNA). Dit speel ook ‘n rol by die aktivering van verskeie B vitamines en saam met Kalsium verseker dit die ontwikkeling en onderhoud van gesonde bene en tande.

‘n Fosfaattekort kan lei tot verlaagde inname, vertraagde groei by koeie sowel as hul ongespeende kalwers, swak herbesetting, anestrus en verlaagde melkproduksie. Dit kan dus lei tot ‘n algehele verlaging in die produksie van diere wat n fosfaattekort het. Dit kan lei tot groot finansiële verliese vir die boer. Ongelukkig is die meeste weidingstipes in Namibië laag in fosfaat en is dit gewoonlik noodsaaklik om ‘n fosfaat lek te voorsien.

Feedmaster-Futterfos-verskaf 18.5g P per dag per dier indien die aanbevole hoeveelheid van 300g/dag/ dier in geneem word en 12.6g P indien 200g/dag/dier ingeneem word. P12-Produkte verskaf 18g P/dier/dag indien die aanbevole hoeveelheid van 300g/dier/dag ingeneem word en 12g P indien 200g/dier/dag ingeneem word.

Die bio-beskikbaarheid en kwaliteit van fosfaatbronne wat in die afmeng van fosfaatlekke gebruik word is die afgelope ruk ʼn warm besprekingspunt in voedingskringe en het navorsing op hierdie bronne interessante feite op die tafel geplaas. Hieruit kan ons aflei dat die tradisionele gebruik van P18 bronne aan die verdwyn is en eerder plek maak vir P21 en P23 bronne wat ʼn 1:1 kalsium tot fosfor verhouding het en ook ‘n mindere mate van interaksie tussen die beskikbare fosfaat en kalsium.

Die onderstaande tabel illustreer baie mooi die afname in bio-beskikbaarheid. Dit is geneem uit ʼn presentation wat aangebied is deur FeedFirst Animal Nutrition Consultants in die RSA.

Wat selfs nog meer interessant is, is die opneembaarheids persentasies op elkeen van hierdie bronne wat dit definitief vir die boer finansieel die moeite werd maak om die voervervaardiger te vra van watter bronne hulle gebruik maak sodat hy /sy nie vir fosfaat betaal wat nie vir produksie gebruik word nie. Hieronder is ʼn tabel uit die selfde aanbieding wat dit uitlig:

Met die posisionering van-Futterfos-in die mark het Feedmaster dan ook alles in hul vermoë gedoen om ʼn monokalsiumfosfaatbron met 23% fosfaat te bekom wat seker van die beste verteerbaarheid % het. In gevalle waar die wisselkoers invoere verhinder maak Feedmaster ook van die beste P21 bronne in die RSA gebruik. Die gebruik van laer verteerbare P18 bronne vind glad nie in Feedmaster se fosfaat reeks plaas nie.

‘n Goeie fosfaatlek verskaf egter nie net fosfaat aan die dier nie maar ook ‘n wye verskeidenheid mikro minerale wat ook noodsaaklik is vir optimale produksie. Dit bly egter van kardinale belang dat die mikro-minerale wat gebruik word in ʼn gebalanseerde verhouding tot mekaar aangevul word. Hierdie bekende illustrasie toon die moontlike interaksies wat kan plaasvind tussen minerale:

Futterfos-is so geformuleer dat dit meer as net aan die 25% wetlik voorgeskrewe behoeftes voldoen en het dus ʼn hoër mineraal spesifikasie as die normale P12 produkte in die handel wat op 25% van behoefte geskoei is.-Tradisionele fosfaatlekke se mikromineraal vlakke verskaf slegs 25% van die dier se daaglikse behoeftes, volgens die vereistes van Wet 36/1947. Nuutste navorsing toon egter dat hoër aanvullingsvlakke groter voordele vir diere en ook boere inhou.

Magnesium-is noodsaaklik vir optimale spierfunksie, dit is ook ‘n belangrike komponent van verskeie ensiemsisteme. 30% van die totale magnesium in die liggaam kom in die sagte weefsel en liggaamsvloeistowwe voor. Die ander 70% kom in die skelet voor. ‘n Magnesium-tekort lei tot hypomagnesemia, wat gekenmerk word deur senuweeagtigheid, oormatige sweet produksie, spiersametrekkings en hart-en-spierweefsel degenerasie. Indien Magnesium-vlakke in die dieet verhoog word, verhoog die kalsium absorbsie ook sonder enige nadelige invloed op die absorpsie van fosfate.

Koper-is n katalis in verskeie ensiem-sisteme, na die werking van die ensiem word koper gebruik vir hemoglobienvorming. Hemoglobien is die suurstofdraer in die bloed. Koper word benodig vir beenvorming, groei, velpigmentasie asook reproduksie.

Sink-funksioneer as ‘n belangrike komponent van verskeie ensiemsisteme, dit speel n belangrike rol in die metabolisme van proteïene, koolhidrate en vette. Die effektiewe werking van die immuunsisteem is ook afhanklik van sink en ‘n tekort aan sink gee aanleiding tot infeksies. Die slymvliese (waaronder ook die baarmoeder) word veral beïnvloed. Die vorming en funksionering van verskeie hormone word ook deur sink beïnvloed. Spermproduksie en die ontwikkeling van die primêre en sekondêre geslagsorgane by manlike diere word ook deur- ‘n tekort aan sink beïnvloed.-Futterfos-word ook onderskei van die res deurdat ʼn aansienlike gedeelte van die selenium en sink mikro-minerale wat ingesluit is bestaan uit organiese bindings wat ʼn beter bio-beskikbaarheid het as P12-produkte wat se selenium en sink volledig uit anorganiese bindinge bestaan.

Selenium-vorm deel van die ensiemkompleks Glutatioonperoksidase wat betrokke is tydens die afbreek van lipo en waterstofperoksiede wat ‘n nadelige uitwerking op selwande van die liggaam kan hê. Vitamien E is ook betrokke by hierdie reaksie en voorkom oksidasie van poli-onversadigde vette.

Kobalt-word benodig vir die vorming van Vitamien B12 wat n belangrike rol speel in die aktivering van ensieme. Kobalttekorte lei tot bloedarmoede (anemia), gewigsverlies en vertraagde groei. Aangesien die ensiemsisteme wat inwerk op die energie-oordrag reaksies beïnvloed word. Kobalt word nie in die weefsel gestoor nie en dus moet gereelde aanvullings verskaf word

Mangaan-speel ‘n aktiewe rol tydens kraakbeenvorming. Dit word ook benodig vir die aktivering van verskeie ensiemreaksies en is betrokke by hormoonwerking. Tekorte aan Mangaan ly tot ongereelde estrus aktiwiteit by vroulike diere. In manlike diere veroorsaak ‘n mangaantekort ‘n afname in libido en sterilitiet kan ook volg. Degenerasie van die testis kan ook voorkom.

Jodium-funksioneer as ‘n essensiële komponent van die Tiroïed hormone, wat die tempo van energie-metabolisme in die liggaam reguleer. ‘n Tekort aan jodium lei tot vertraagde metabolisme en traagheid. By vroulike diere kan tekorte lae reproduksie tot gevolg hê as gevolg van ongereelde estrus aktiwiteit, lae bevrugtingspersentasie en plasentas wat nie volledig los kom na geboorte nie. Laer libido en swak semenkwaliteit is tekens van jodium tekort by manlike diere. Groei en volwassenheid van die geslagskliere word ook vertraag.

Yster-is ‘n essensiële komponent van verskeie proteïene wat betrokke is by suurstofvervoer of verbruik. Dit vorm ook deel van verskeie ensiemsisteme en aktiveer ook sommige ensiemsisteme. ‘n Tekort aan yster lei tot anemia, lusteloosheid, lae innames, gewigsverlies en bleek slymvliese. ‘n Ystertekort is dikwels die gevolg van inwendige parasietbesmetting wat tot kroniese bloedverlies lei.

Vir enige navrae op ons fosfaat reeks en as u enigsins ʼn mate van wantroue teenoor ons fofaat produkte het skakel gerus ons voedingkundiges by 061-218713 vir die nodige gemoedsrus. Ons sien u as vennote in die bedryf en voel dit ook belangrik dat u saam met Feedmaster ʼn opvoedingsrol het in die ekonomiese vooruitgang van Namibiese boere omdat fosfaataanvulling alleen alreeds ʼn 40% produksie verbetering te weeg kan bring.

  • Print this article
  • Email this article
  • Share this article