Loading...

Voedingstrategie Na Afloop Van Droogte

Voedingstrategie Na Afloop Van Droogte
Posted by on 3 March 2016 and filed under

Na die afloop van ʼn droë seisoen, of erger ʼn landsdroogte soos wat ons tans ondervind het, is daar altyd ʼn vraag rakende die lekprogram wat gevolg moet word sodra die eerste reën begin val het. Gewoonlik begin die diere agter die eerste groen gras aanhardloop en word hulle selfs maerder word as wat hulle voor die reën was.

WEIDINGSITUASIE

As ons kyk na die situasie in die veld, sal ons sien dat veral na ʼn rampsdroogte daar weinig bestaande polveld oor is, en dat die weiding gedomineer word deur nuwe ontkieming en natuurlik meer as genoeg onkruidspesies wat floreer. Alhoewel hierdie weiding nie noodwendig op ʼn jong ouderdom hoef terug te staan wat kwaliteit aanbetref nie, is die kwantiteit ʼn groter probleem en verg dit relatief baie energie vir hierdie diere om hulle rumens vol plantmateriaal te kry.

Omdat meerjarige polveld gedurende ʼn rampsdroogte gewoonlik erg beskadig was, is dit belangrik dat diere getalle gereguleer moet word om te verhoed dat smaaklike polveld permanent beskadig word en verdwyn. As jy met weidingkundiges gesels sal hulle met goeie rede ook ekstra klem plaas dat genoegsame rusperiodes tussen beweidingdae gegee moet word, vir die polle om genoegsame blaarmateriaal te ontwikkel. Dit is om te verseker optimale fotosintese vind plaas en die pol kry geleentheid om weer reserwes op te bou, omdat dit leeggetrek was met die voortdurende beweiding vir oorlewing in die droogte.

VOEDING

Wat hier belangrik is, is om jouself nie heeltemal in ʼn maagwerk in te skrik wanneer die diere met die eerste groenigheid skielik erger begin lyk as voor die reën nie. Dit is ʼn heeltemal normale reaksie, waar die rumen inhoud vinnig krimp a.g.v. die hoë proteïen-weiding soos jong gras of blaarmateriaal van vreetbare bosspesies soos mopanie, koffiebos, rosyntjiebos en sandgeelhout. Die hoë proteïen inhoud veroorsaak dat die vertering drasties styg en die deurvloei tempo van die rumen verhoog en die uitgerekte rumen raak dan skielik kleiner en vertoon die diere dan ook plat of selfs baie dun.

Wat ook belangrik is, is dat indien jou diere nog nie met elke byt ʼn ordentlike hap groen gras kan vat nie, dit voordeliger is om op jou bestaande lekprogram te bly waarop jou diere was voordat die eerste reën geval het. Dit is tipies in areas, waar dit na die droogte en met die eerste reën net ongeveer 30mm en minder gereën het en waar die weiding traag is om te reageer.

Indien dit met ʼn goeie skoot begin reën het, met 40mm tot 50mm plus en daar voldoende grondvog is en waar die weiding welig groei, gaan die diere in elk geval skepties na die lekbak kyk en hulle moeilik oortuig word om van die droëveldlekke te vreet. Hier is dit voordeliger om oor te gaan na jou normale fosfaat onderhoudsmengsel van Futterfos en Sout. Omrede die diere nog baie gaan rondhardloop, verhoog hulle energie behoeftes en is die fosfaat tot voordeel omdat dit die Energie metabolisme aanhelp deur die verskaffing van fosformolekules in die ATP (adinosien-tri-fosfaat) na ADP (adinosien-di-fosfaat) energie reaksies.

In die gevalle van rampsdroogtes het dit hoofsaaklik gegaan oor die voorsienning van ruvoer net om die diere aan die lewe te hou en word mineraal aanvulling baiekeer agter wee gelaat, veral in gevalle waar gesnyde bos-materiaal ens. gevoer was. Baie van hierdie diere se mineraalstatus is suboptimaal en is dit baie belangrik om hierdie diere se mineraal tekorte op te hef met ʼn goeie spesifikasie fosfaatlek wat die nodige mikrominerale soos Sink, Selenium, Kobalt mangaan ens. bevat. In hierdie gevalle sal ook ten sterkste afgeraai word om slegs makro fosfaatbronne te gebruik wat nie mikrominerale bevat nie. Dit sal ook tot voordeel wees om te kyk na ʼn fosfaat lek waarvan die fosfaatbron wat gebruik was saamgestel is uit beter biobeskikbare bronne soos monokalsiumfosfaat en/of monoammoniumfosfaat en waarvan die Ca: P verhouding nader aanmekaar is, vir optimale fosfaatbenutting.

PRAKTIESE BESTUURSVOORSTELLE

Gewoonlik na die afloop van ʼn droogte is goeie kwaliteit aanteel diere so skaars soos hoendertande en is dit slegs tot eie voordeel wanneer jong vroulike aanteel diere goed versorg word. Die dryfveer hiervoor is omrede jy nie alleen goeie pryse op die veiling vir hulle kan kry nie, maar ook hoe beter hulle kondisie, verkieslik 3.5 +, soveel beter is hulle dragtigheids-persentasie wanneer hulle by die bul/ram kom. Wat ook al die keuse van bemarking gaan wees, dit bly tot jou eie voordeel. Ander opsies is natuurlik ook die aankoop van swaarder speenversies wat op die groen weiding gesit kan word en bietjie later in die jaar bemark word wanneer aanteelvee steeds hoog op aanvraag is.

Tydens hierdie eerste reëns wat val en waar die diere relatief swak is, is dit ook voordelig om seleksie te doen ten opsigte van tipe en grootte sodat groter dominante diere nie jonger diere onderdruk en jy swakker groei op jou jonger diere met beter groeipotensiaal kry nie.

Boere wat diere terug gehou met die hoop dat hulle die diere direk na afloop van die droogte wanneer dit goed gereën het en veepryse begin styg in die mark te sit, kan gerus met enige tegniese adviseur by Feedmaster gesels oor watter afrondingspraktyk om te volg en saam besluit watter produkte in jou streek, inaggenome die omgewings toestande in jou omgewing die beste gaan werk.

Omdat baie boere se kontantvloei onder druk was en heel moontlik nog later in die jaar steeds onder druk gaan bly is dit krities om alle aanteel wat jy tot by bemarking kan kry, nie langs die pad verloor nie. Daarom is jou produksiediere se kondisie met die aanvang van die dekseisoen krities vir optimale herbesetting. Ewe belangrik is die toets van bulle/ramme, jy wil nie 2-3 maande na die afloop van jou dekseisoen besef een van jou bulle/ramme het nie sy werk gedoen nie. Dit verleng jou moontlike inkomste met ʼn verdere 4-5 maande wat jou onder onnodige druk kan plaas. Afhangende van jou kontantvloei status, gaan dit hoofsaaklik bepalend wees van watter bemarkingstrategie jy gaan moet volg, of jy bv. al jou vroulike speendiere gaan bemark en of jy hulle bietjie ouer gaan maak, of jy ouer koeie/ooie gaan afrond en bemark of dalk nog 2 kalwers/lammers uit hulle probeer kry terwyl jy onder druk is ens. Afhangend ook van jou noodverkope sal jy ook opsies moet oorweeg om weer jou kudde op te bou en diere moet aankoop .

FINANSIËLE OORWEGING VIR LEKAANVULLING

Die mikpunt moet wees om maksimale produksie inkomste te bank met die minimum insetkoste en jouself nie bankrot te spaar deur lekuitgawes te probeer spaar wat eintlik na regte ʼn belegging vir verhoogde produksie is nie.

Hieronder is ʼn grafiek wat die dalende-meer-opbrengs konsep aandui, en behoort dit die besluitneming van watter produksiestelsel om te volg te vergemaklik om maksimale winsgewendheid te verseker:

Hier is dit belangrik om om vir ʼn spesifieke groep diere ʼn produk aan te vul wat nie die lekkostes onnodig verhoog nie, maar steeds die optimale produksie gaan gee.

Feedmaster het ook in 2006 proewe oor ʼn reeks produkte gedoen, wat aandui dat ʼn fosfaat lek reg deur die jaar reeds ʼn ±45% verbetering in winsgewendheid na lekkostes gerealiseer het in vergelyking met die groep diere wat net soutklip gekry het. Waar ʼn gebalanseerde program van-Futterfos-en Sout in die somer en ʼn onderhoudslek soos-Eco-Grasveldlek-aangevul was, het dit ʼn verdere ±20% verbetering kon bied na lekkostes in berekening gebring is. Hierdie data is oor die afgelope 7 jaar oor droogtes, goeie reën, asook duurder en goedkoper pryse in konteks aangepas en die resultaat bly altyd min of meer in lyn en in guns van die gebalanseerde lekprogram. Wat wel belangrik is om in ag te neem, is dat die aanvulling van produksielekke vir langer as 90 dae in ʼn kommersiële produksiestelsel nie winsgewend was nie, maar indien dit reg aangewend word vir ʼn korter tydperk met die oog op afronding vir bemarking het dit ʼn definitiewe voordeel. Die gee van ʼn produksielek in rampsdroogte toestande vir oorlewing het ook ʼn voordeel en is dit belangrik om dit in konteks te verstaan en indien u enigsins onseker is, skakel met ʼn tegniese-adviseur vir die nodige tegniese insette.

Sien die grafiek van die proewe onderaan.

In die omstandighede waarin ons is, is dit selfs nog belangriker om jou diere die nodige aanvulling te gee om te verseker die plaas se fabriek het die nodige hulpbronne om optimaal en volhoubaar te produseer om die boer en sy familie tot in ʼn beter seisoen te dra.

AFSLUITING

Die domste vraag, is die een wat nie gevra was nie. Baie suksesvolle boere het al baie geld gespaar deur raad en advies te vra van mede boere asook kundiges in hulle veld. Dit is altyd ʼn moeilike tyd na die afloop van ʼn droogte en ʼn tyd waar baie keuses gemaak moet word, die regte keuse kan hierdie oorgang net makliker maak. Skakel gerus enige Feedmaster tegniese adviseur vir raad oor afrondingspraktyke en aanvullingsadvies as u onseker is oor u volgende stap, dit is verniet beskikbaar en net ʼn telefoonoproep vêr.

Alle voorspoed en baie reëns word u toegewens.

  • Print this article
  • Email this article
  • Share this article