Loading...

So Bewaar En Boer Junior Versveld

So Bewaar En Boer Junior Versveld
Posted by on 1 September 2015 and filed under

VOORWOORD

Knap weidingbestuur en noukeurige rekordhouding het opgeval toe die Feedmaster-suksesverhaalspan Junior Versfeld op 1 September op sy plaas Devonby suidoos van Gobabis besoek het. Dié Braunvieh-teler en osprodusent se passie vir weidingbestuur – ook sy vakgebied – het opgeval.

Verwysings na vandag se baie uitdagings is ook gemaak. “Boerdery is nie vir sissies nie. Dit verg dag-tot-dag besluitneming en aanpassing. Soms moet ’n mens vyf jaar lank wag om die sukses van ’n besluit te smaak, soos byvoorbeeld ’n sigbare verskil wat ’n paringskeuse in jou stoet maak. En die grootste ramp wat jou kan tref, is as ’n stoetbul beseer word en jy nie ’n goeie vervanging vir hom het nie.-

Boere moet sulke goed kan vat, anders is hulle nie boere nie,” sê Junior. Lourens Swart van Feedmaster en Marietjie van Staden van-Agriforum-het lentedag hier afgesluit met eerstehandse ervaring van ’n boer wat daarin glo om in harmonie met die natuur te boer.

‘n Blik op drie geslagte-

Junior se oupa, William Versfeld, het in 1929 ’n stuk rou aarde by die staat gekoop. As jy water gekry het, het die staat toestemming gegee dat jy die grond kan toekamp. In 1952 het Junior se pa, Ryne, die grond gekoop.-

Hy het later nog grond bygekoop wat Junior en sy broer, Paul, in 2002 oorgeneem het. Toe was Junior al goed voorberei op boerdery. Nadat hy matriek op Villiersdorp geskryf het, is hy na die Universiteit van die Vrystaat waar hy sy BSc Agric en honneursgraad verwerf het.-

Sy loopbaan het as ’n dosent in weidingkunde by die Neudamm Landboukollege begin, waarna hy by die Departement Weiding in Windhoek werksaam was. Hy het sy loopbaan by die staat in 2002 afgesluit as die hooflandbouvoorligtingsbeampte in die Omaheke-streek.-

Só-bewaar en boer Junior Versveld

“Grond is heilig. Dit kom immers van die Skepper af. Onderhou dit. Beskerm dit. Sorg daarvoor, want dit onderhou die mens, beskerm die mens en sorg vir die mens. Vernietig die grond, en jy vernietig mens en dier.”-

Met hierdie treffende boodskap lei Junior Versfeld, Braunvieh-teler en osprodusent, sy manier van boer op Devonby, 56 km suidoos van Gobabis, in. Hy vertel hy het grootgeword met ’n weidingagtergrond. Sy legendariese pa, wyle Ryne, het in 1969 die gesogte toekenning van meesterbewaringsboer ontvang. Op die ou end sou weidingkunde ook Junior se studieveld word waarin hy ’n honneursgraad aan die Universiteit van die Vrystaat verwerf het. Só is ’n stewige fondament gelê om ’n suksesvolle gras- en bewaringsboer te word. Junior bestok een bees op 20 ha, wat hy ’n “wye gemid­delde” noem.-

Braunvieh-teling bly op koers-

“Die dae van melk en room het my pa gebring by die Braunvieh, toe nog die Bruin Switser, omdat hy ’n ras gesoek het wat meer melk gee. Toe dié era verby is, het hy oorgeskakel na ’n vrysuip-vleisproduksiestelsel met osse. Afrikaners is vir kruisteling gebruik. Sy passie vir die Braunvieh het daartoe gelei dat hy sy eie bulle begin teel en in 1963 ’n stoet op die been gebring het. So het skoudeelname vir hom ’n liefde en ’n stokperdjie geword met baie ras- en interraskam­pioene wat uit Die Rante Stoet gekom het,” vertel Junior. Vanjaar is dié stoet waarop ­Junior sedert 2002 voortbou 46 jaar oud. So sit Junior ook die skoutradisie voort en het hy ook sy stempel stewig afgedruk. Hy is al ’n jare­lange lid van die beestekomitee van Gobabis se Skouvereniging.

Junior se selfgeteelde Domansie was al drie keer die “Champion of Champions” van die Windhoek Skou – die top-toekenning vir Namibies geteelde diere. Vanjaar is Domansie op tien jaar weer in die skouring op Gobabis en in Windhoek met haar agtste kalf en ’n indrukwekkende tussenkalfperiode van 358 dae. Die eer wat dié Braunvieh-koei hom die afgelope sewe jaar op skoue besorg het, beskou hy as ’n voorreg. “Dit bly egter ’n uitdaging om ’n dier te teel wat so goed presteer,” voeg hy by.-

Junior se paarbare stoetdiere wissel tussen 60 en 80 met ’n jaarlikse vervanging van 10%. Vir die uitskot van die ouer teeldiere let hy streng op tande.-

’n Lang somer-dekseisoen (1 Januarie tot 1 April) en ’n kort winter-dekseisoen (Julie tot Augustus) word in beide stoet- en kommersiële kuddes toegepas. Die Braunvieh-verse word op twee jaar by ’n uitgesoekte bul gesit en indien van hulle nie beset raak nie, word hulle ’n tweede kans in die kort winter-dekseisoen gegee.-

Tussen ses en tien stoetbulle is jaarliks beskikbaar vir die mark – uit die hand of op die Gobabis Bultelers­vereniging se veiling in November, vanjaar op 6 November by Karoo Ochse se veilingkrale.-

Só werk die kommersiële beesboerdery-

Junior vertel hy gebruik hoofsaaklik Brahman-bulle op sy kommersiële koeikudde. “Ek pas nie die tipiese heen-en-weer kruising toe nie om die voordeel van die Brahman se gehardheid in moeilike tye soos droogtes te benut. Dit is dan baie belangrik om ’n goed aangepaste dier te hê. Die ideaal sal wees om Brahman-bulle op suiwer Braunvieh-koeie te sit, maar weens marginale toestande in ons land beskou ek dit nie as ge­wens nie. Ek verkies die meer Brahman-bloed.”

Sy koeikudde bestaan uit Brahman-, Braunvieh- en Angus-kruisingskoeie. “Alle nageslag word gehou. Verse word op 18 maande geselekteer vir teling of uitskot en die manlike diere word grootgemaak vir osbemarking. Meatco is my hoofmark, maar by geleentheid word ander markte ook benut, want as ’n ander ou hom kop kan afsny, kan ek dit ook doen.”-

Sy liefde vir suiwer rasse leef hy verder uit in sy Boerbok-kudde van nagenoeg tweehonderd die­re wat sorg vir diversifikasie in sy veeboerdery. “Ek teel nie vir die stoetmark nie. Die bokke is maar vir eie gebruik en vir verkope op veilings.”-

Noukeurige rekordhouding geld ook vir die kommersiële veekuddes. Al die diere het getatoeëerde nommers in hul ore en rekord word in ’n kuddeboek gehou.-

Weiding en voeding ’n saak van erns-

As weidingkundige volg Junior die goue reël om elke jaar in Mei en Junie ’n omvattende evalue­ring van die veldtoestand te doen met inagneming van die vorige jaar se reënseisoen waarvolgens hy sy dieregetalle aanpas. “Ek hou nie baie koeie aan nie, want in tye van weidingskaarste of droogte is dit nie gewens nie. Indien weiding voldoende is, vul ek getalle aan deur jong diere­ in te koop. Dit is ’n meer buigsame proses.”-

Junior voeg by dat hy wisselweiding toepas in vier- en agtkampstelsels. “Die hardeveld in my boerdery-omgewing is geskik vir die vetmaak van beeste, maar kan risiko’s inhou in minder goeie reënjare. Die grondtipes verskil baie van sand tot klip en kalkerig tot vleie wat in bonormale reënjare baie nat is. Net so verskil die weiveldtipes, wat ’n hoë vlak van be­stuur verg. Ek kyk noulettend na die toestand van ’n kamp wanneer ek besluit om diere te wissel. Die seisoen word in aanmerking geneem en die persentasie ontblaring van die gewenste grasspesies (swartvoetjie, Kalahari-sandkweek, blinkhaar-Boesman, krulblaar en bloubuffel). Voorsiening word gemaak vir die genoegsame rus van kampe om genoeg saad, veral in die aktiewe groeiperiode, te verseker. Weiperiodes wissel tussen van 10 en 14 dae en rusperiodes tussen 60 en 90 dae.”-

Gras op die ou landerye en die padgordel word jaarliks benut vir die sny van hooi wat vir skoudiere en as noodkos vir siek diere gebruik word. Tussen 800 tot 1 500 vierkantbale word jaarliks geproduseer.-

Daarby word bosuitdunning deurlopend gedoen, hoofsaaklik deur bosdoderkorrels selek­tief met die hand te strooi om van die indringers, hoofsaaklik swarthaak en witdoring, ontslae te raak. Brandpaaie langs kampdrade word ook met die korrels skoon gehou. Junior sê hy het vliegtuig-bestryding op 300 ha laat doen, maar verkies die selektiewe metode van bosdoderkorrels. Nagenoeg 2 000 ha is al ontbos en nasorg word gereeld gedoen om nuwe hergroei te beheer.

Vir die afronding van beide stoet- en kommer­siële beeste gebruik Junior ’n mengsel van Feedmaster se-Enerfeed-en-Futterfos-waarby mie­lie­meel, sout, melassemeel en ureum gevoeg word. Die somerlek is weer ’n mengel van-Futterfos, sout, melassemeel en ’n bietjie swael. Wanneer die winter begin, word ­ureum bygemeng.-

Junior deel ook sy sukses met Feedmaster se-Bosverteerlek, gemeng met sout, wat hy die afgelope twee jaar vir sy Braunvieh-stoetkoeie gee. “Hulle hou nou beter kondisie en is steeds in ’n goeie kondisie wanneer hulle in Oktober kalf.”-

Om kompetisie in kuddes te beheer, sit Junior klipsout uit omdat alle diere nie dan noodwendig die lekbak bereik nie.-

Water en infrastruktuur ’n uitdaging-

Die feit dat Junior nie sterk water op sy grond het nie en die waterdiepte wissel tussen 150 en 200 voet, beperk getalle in kuddes op sekere dele van sy grond. “In sekere kampe kan ek nie meer as veertig beeste aanhou nie. Ek het ’n behoef­te aan ’n sterk boorgat. ’n Paar pogings het al misluk. Beperkte waterlewering bring ook mee dat ons nie veel tuin kan maak nie.”

Soos dit op baie familieplase die geval is, het oupa die rou stuk aarde mak gemaak, pa het uit­gebrei en opgebou en seun hou in stand en verfyn. Die 12 000 ha grond van Junior het 87 kampe, wat wissel van 100 tot 240 ha en 18 boor­gate wat toegerus is met windpompe en een met ’n enjin. Die waternetwerk bestaan uit ’n pyp­leiding oor 25 km wat 14 poste en gemid­deld vier tot agt kampe per stelsel bedien.-

Oor die baie kampe en die meer intensiewe manier van boer, wys Junior daarop dat dit ’n uitdaging is in die huidige era waarin boere in ’n kosteknyptang vasgevang is. “Die leeftyd van ’n windpomp is vyf tot agt jaar en vandag beloop die herstelkoste enig­iets van N$12 000 tot N$20 000 per kop. Wind is ’n kostelose energiebron, maar nie goedkoop nie met onderhouds­kos­te van nagenoeg N$30 000 oor veertien jaar. Algemene instandhou­ding is saam met arbeid en brandstof die hoogste uitgawes.”

Nog ’n uitdaging is die toename in roofdiere wat ook op Devonby ondervind word, met veral jakkalse en jaglui­perds wat ’n probleem is.

  • Print this article
  • Email this article
  • Share this article