Loading...

Onder Begin Is Goed Begin

Onder Begin Is Goed Begin
Posted by on 1 May 2015 and filed under

VOORWOORD

Brahman-teler Ernst Groenewaldt draai nie doekies om nie, sal dié sê wat hom ken. Hy is trots Baster en beskou met reg sy volk se ryk kultuurerfenis as een van sy kosbaarste nalatenskappe. Tog onthou hy nog sy loopbaandae in die polisie en later die nasionale verkeersafdeling toe apartheid ook in koffiebekers geskuil het. Kom dit by die toekoms van boerdery in die land, het hy ’n boodskap vir die nuwe leiers van die dag. “Ons sukses hang af van die regering se benadering en houding.

Ek persoonlik glo ons regering is nie landboukundig nie, maar skep wel ’n omgewing waarin ons goed kan boer. As ons kyk na die res van Afrika, het ons seker nie rede om te kla nie. Dit help nie ons is negatief nie.” As ’n man wat nie arm of ryk wil wees nie, het Ernst dit al ver gebring.

Hy noem homself ’n-university reject, wat sy gesondheidsinspekteur-studies aan die Kaapse Technikon gestaak het omdat dit nie eintlik sy belangstellingveld was nie. Hy was op 28 jaar al ’n inspekteur in die polisie en is later oorgeplaas na die nasionale verkeersafdeling, waar hy hoof van opleiding was. Hy het toe reeds deeltyds geboer, want hy wou niks anders as ’n boer wees nie. Kyk jy vandag wat hy as die eerste anderskleurige in die Hochfeld-omgewing op ’n verwaarloosde, swak ontwikkelde plaas vermag het, weet jy vir hierdie hardwerkende man se hande staan niks verkeerd nie. Hy leer ook graag by ander.

Sy doeltreffende kraalstelsel het hy aangepas by dit wat hy by ’n Bulawayo-boer gesien het, vir groenteverbouing het hy by Suid-Afrikaanse boere kers gaan opsteek, goeie roofdier-advies het van ’n Thabazimbi-boer gekom. Maar dit is vir medeboere in sy omgewing vir wie hy die grootste lof het. Dit is hulle wat hom op die suksespad help plaas het, vertel hy. Ernst is ’n meester in draaksteek, en ja, anders as sy kalm skoolhoof-eggenoot, Amanda, sal hy soms die vrede tart, maar onder daardie moedswillige streep lê ’n diep omgee vir sy medemens, sy gesin en sy boerdery.

Ernst vertel dat hy moontlik ’n nuk en ’n gril van sy streng ouers, Izak en Anna, geërf het. Sy pa Izak was ’n skaapboer in die suide. Marietjie van Staden van-Agri-forum-het twee heerlike dae saam met die gasvrye Groenewaldts op hul plaas Otjosondu deurgebring. Dit was groot bederf eers tydens die Brahman-telers-dag en later om ’n laataandvuur en ’n heerlike Chinese braai. Vroeg-vroeg die volgende oggend is aangesit vir ’n heerlike ontbyt en toe ’n dag se boerdery gesels waarvoor Christo du Plessis van Feedmaster aangesluit het op nog ’n Feedmaster-suksesverhaalroete. Lees hiernaas meer oor die Groenewaldts se boerdery-aktiwiteite.

GROENEWALDTS WYS ONDER BEGIN IS GOED BEGIN-

’n Indrukwekkende kraalstelsel wat 14 krale met mekaar verbind en waar tweehonderd koeie maklik in drie uur met die hulp van twee wer­kers gespuit kan word, is van die spog-infrastruktuur op die Groene­waldts se plaas, Otjosondu, in die Hochfeld-omgewing. Sprei­ligte maak beeswerk of die op-en aflaai van diere selfs in die nag moontlik danksy die twee Groenewaldt-seuns se elektrisiteit-kennis.

Toe Ernst en Amanda meer as twee dekades gelede in 1992 hul intrek hier geneem het, was die plaas erg verwaarloos. Bosse het tot feitlik teen die agterstoep van die opstal en die houtkrale gegroei. Eenkant was ’n werkershuisie. Dis al. Vandag is daar behalwe vir die indrukwekkende kraalstelsel ook twee skure, ’n groot koelkamer, ’n groot opgaardam vir besproeiing, ’n netjiese woonhuis, moderne hondehokke vir Hueston se Boerboele wat hy later na sy Brakwater-kleinhoewe verskuif het, netjiese werkershuise en buitegeboue. Die twee veeposte met net een windpomp en die nege kampe het ses poste met elk ’n windpomp en 48 kampe geword.-

Oor die bosse van ouds op die stoepdrumpel vertel Ernst: “Dit het my verdring (nie net die gras nie) en vasgedruk. As ’n boorling van die suide met sy oop ruimtes was dit vir my baie erg.” Van daar ook sy ver­antwoordelike sin vir bodembewaring, versterk deur twee droogtes kort ná mekaar.-

Die dure les van die droogtes van vanjaar en twee jaar gelede was dat sy koeikalfstelsel ’n risiko inhou en hy nooit weer sal oorbestok nie.“Ek het nie diere gehad om te verkoop nie. Ek skakel nou maar weer gedeeltelik terug osse toe, want ek het besef ek het nie ’n gesonde boer­dery om droogtes te deurstaan nie. ’n Mens is so weerloos. Daarom is dit belangrik dat jy altyd voorsiening vir droogtes moet maak en jou beplanning reg moet wees.” Ernst meen osse het ook nie soveel werk soos die onthoorning van speenkalwers nie.

Die laat reën het ook vir Ernst verligting gebring, veral omdat hy nie akkerbone geplant het nie, maar wel 10 hektaar mielies onder besproei­ing aangesien die reën so lank weggebly het. In 2013 se droogte was hy beter af toe hy baie kopmeel en akkerbone geoes en ook energiebronne ingekoop het.-

Brahman die keuse-

Ernst se voorliefde vir kruisings het meegebring dat die Brahman met sy bewese basterkrag uit die staanspoor sy keuse was. Hy was reeds ’n sterk boer op kommunale grond in die Rehoboth-gebied toe hy sy Hochfeldplaas in die vroeë negentigerjare gekoop het. Later het die plaas Imkerhof bygekom en vandag bestuur hy die twee plase, 13 km van mekaar, as ’n eenheid. Hy boer ook op grond in die Khomas-Hochland.-

“Ek en my swaer, Steve van Wyk, het in 1987 ons eerste Brahman-tipe beeste by Wiid de Wet in die Outjo-omge­wing gekoop. Hy het ons goeie­ afbetaal-terme gegee. Dit is waar my liefde vir die Brahman posgevat het.” Vandag is beide Ernst en Steve suksesvolle Brahman-telers.

Die gesogtheid van die Brahman wys hy uit aan die hand van veilings. “Die wit verse en tollies vaar keer op keer die beste in veilingkrale.” In sy kommersiële kudde het Ernst al verskeie Europese rasse op die Brahman probeer, maar hy verkies die Braunvieh. Met dié kruisingsdiere het hy al op verskeie speenkalfveilings op Imker­hof en Hochfeld die eerste prys vir die beste veldpakkies gekry. “Ek hou nie van beeste met lang hare nie. Die Braunvieh is ook vrugbaar, het baie melk en ek kan enige bul op die koeie­ sit.” Hy glo F1-kruisings met enige Europese ras gee goeie kalwers.-

Stoetteling goed op dreef-

Ernst, wat gemaklik oor sy lesse in boerdery gesels, sê in die beginjare van sy stoetteling het hy die verkeerde pad geloop. “Ek kon nie bekos­tig om baie vroulike diere in te koop nie en het begin met ’n kudde waarin almal nie goed was nie. ’n Mens moet uit die staanspoor selekteer en dit nie uitstel nie. My fout was om getalle in plaas van kwaliteit na te jaag.” Hy voeg by dat hy egter nog altyd goeie bulle gebruik het, maar te gou van party ontslae geraak het as hul eer­ste groep kalwers nie bogemiddeld was nie. Sy filosofie is as jy ’n teler wil wees, moet jy teling verstaan en tyd daarvoor hê.-

Toe hy sy plaas in 1992 gekoop het, het hy vroulike diere by verskeie plaaslike telers aangeskaf, wat die basis van sy stoet gevorm het. Nog vroulike diere uit Suid-Afrika het gevolg. Sy rol­modelle was telers Fritzie Hein en Lorraine van Heerden. “Dit was veral Lorraine, ook van die Hochfeld-omgewing, wat my hand gevat het. Sy het my geleer teel en skou, en selfs my skou­diere in die beginjare uitgesoek. Tot vandag toe het ons nog baie stoepgeselse en kyk ons mekaar se diere deur tydens oor-en-weer kuiers. In dieselfde omgewing het ek baie by Jochen Neubrech geleer van kommersiële boer­dery, kruisteling en infrastruktuur-ontwikkeling. Ek het elke Woensdagmiddag oorgery na hom toe. Daar was ook ander gesoute boere wat my ondersteun het.”-

Ernst vertel dat hy nog elke dag iets byleer van boerdery. Hy ag homself gelukkig dat hy uit die Rehoboth-omgewing kon beweeg om meer blootstelling te geniet. Hy was die eerste Basterboer in die Hochfeld-omgewing.

Aanvanklik het Ernst hom toegespits op die Rooi Brahman. Later het die wittes bygekom en so het twee sterk kuddes apart gegroei. Hy het die Groenewaldt Brahman Stoet in 2000 geregistreer.-

Al sommer in sy tweede skoujaar in 2005 in Windhoek is Ernst se bekende rooi bul, Mister Boy, aangewys as die grootkampioenbul van die Brahmane. Die einste bul het die top-prestasie van interras-vleisbulkampioen op die volgende skou in 2006 behaal. Daarna het verskeie skou­prestasies gevolg met kalf-, junior en raskam­pioe­­ne onder sy manlike en vroulike diere.-

“Stoetteling het vir my baie deure oopgemaak. Ek het ook baie vriende gemaak. En loop ek my in oom Stephen Collard vas, is hy gou om my aan my verpligtinge te herinner: ‘Kyk jy nog mooi na jou diere? Jy moet lief wees vir die ras waarmee jy boer’.”-

Sy rekords hou hy in dagboeke – in drie van hulle, waarsonder jy hom nie sommer sal aantref nie. Vir die stoetdiere het hy twee kalfboeke en ’n dekkingsboek waarin hy aanteken watter koei deur watter bul gedek is om so paringsbeslui­te te verfyn. Dan is daar ook nog die kuddelyste­. Rekordhouding van kommersiële diere het aanvanklik volgens ’n nommerstelsel gewerk waarvoor die FANMeat-nommers deesdae gebruik word.

En soos in die geval van al die veeboere in die land is roofdiere ook ’n kopseer vir Ernst, veral in die Khomas-Hochland, waar die jagluiperds baie kalwers vat – al vyf vir die jaar. Hier het hy twee donkiemerries by elke koeitrop. “Ek het die raad by ’n Thabazimbi-boer gekry dat die merries nog nooit vullens moes gekry het nie. Dit werk. Hulle waak oor die kalwers as die koeie­ gaan water suip.”

Bemarking slaan nuwe koers in-

Ernst het aanvanklik deelgeneem aan gesament­like veilings soos die Brahman Nasionale Veiling en die Summer Sale. In 2012 het eie produksie­vei­lings gevolg wat mettertyd tot twee veilings per jaar uitgebrei het.-

Die Simply the Best-veilings van beide Ernst en sy seun Hueston, deesdae ook ’n Boran­teler, vind vanjaar die eerste keer plaas op Hueston se kleinhoewe buite Windhoek op die Okahandja-pad (Umti Lodge-afdraai na regs, Plot 25). Hier word spoggerige veilinggeriewe, ook om te verhuur, nou aangebring, bekend as die Namib­ian Dome. Dit sal soos die Windhoek-skou­ring lyk, net groter, vertel die Groenewaldts. Hier gaan ook geriewe vir kunsmatige inseminasie inge­rig word. En alles gaan onderdak wees, met die kantore en kroeg op ’n tweede verdieping. Vir die veilings self sal mobiele eenhede gebruik word om dit ná veilings te verskuif en die onder­­­dak­ruimte dan as ’n skuur vir sy elektrie­se toe­rusting te gebruik.

Die Groenewaldts het al goeie pryse van N$110 000 en N$90 000 vir hul bulle op veilings gekry.-

Weiding ’n prioriteit-

Ernst vertel hy het oorlog teen indringerbos verklaar. “My werkers is elke dag besig om van die weidingdiewe ontslae te raak. Maar ek glo nie aan die meganiese metode nie. Waar een bos was, kom vier, vyf op. Stambrand en die selektiewe strooi van bosdoderkorrels werk vir my.” Vir stambrand pak hy hout rondom ’n indrin­­ger­bos en brand dit totdat die bas bars wat die bos laat doodgaan. Andersins laat hy die bosse uitkap en strooi hy bosdoderkorrels. Die dooie bosse laat hy soos die meeste boere in die veld vir skaduwee vir nuwe grasvesti­ging, vogbewa­ring en om biomateriaal (voeding) terug te sit in die grond. Behalwe vir die skoonmaak van grond vir landerye het hy ook op 60 ha digte bos uitgedun waar weidingherstel 100% was.-

Soos baie ander boere kla hy dat vanjaar se weiding nie so goed is nie. “Opslag was daar nie, ook nie eenjarige grasse nie. En op die uitgetrapte grond het die onkruidbosse opgekom.”

Sy kampstelsel het hy ’n paar jaar gelede ver­ander. “Ek volg nou die gewilde vierkampstelsel met gange wat die vier poste met mekaar verbind en bestuur vergemaklik. Ek jaag nou sommer die beeste aan met my bakkie.” Ernst vertel sy koeikuddes van so 35 elk roteer altyd in dieselfde vier kampe om ’n waterpunt. Die verskil in die kwaliteit van weiding kom hy agter soos hy hulle dophou. So kry jy ’n koeitrop by een pos waar die veld swakker is, maar hul kondisie lyk goed. By ’n ander pos is die weiding weer beter, maar die diere se kondisie swakker.-

Aanvullings ’n moet-

Ernst boer nie sonder lek nie. “Jy kan nie daarsonder nie. En los maar die klipsout.” Vir aanvul­ling in die somer gebruik hy Feedmaster se klaargemengde Futterfos P6 behalwe in die fosfaat-ar­mer Khomas-Hochland, waar hy dié produk dwarsdeur die jaar gebruik. Wanneer die diere aan die skraler kant is, gebruik hy Droëveldkonsentraat en sout ook sy winteraanvulling op sy grond in die omgewing van Imkerhof en Hochfeld. Afhangende van die produksiefase en kondisie van sy diere, meng hy sy eie mie­lie­kopmeel by die Droëveldkonsentraat vir ’n produksie-tipe lek. Die resep hiervoor is 10 sakke Droëveldkonsentraat, 10 sakke sout en 4 sakke (50 kg) mieliekopmeel. Vir die uitgroei van jong bulle is sy lek­resep 10 sakke Droëveldkonsentraat, 10 sakke sout en 12 sakke Enerfeed.-

Skou-en veilingdiere kry soos normaalweg spesiale aandag in die afrondingstydperk. Dan word ’n mengsel van 20% HPK 30, 40% Enerfeed en 40% self geproduseerde mieliekopmeel gegee volgens die kafe­teria-stelsel met grashooi wat-ad lib-beskikbaar is. Vir diere wat sukkel om aan te pas by die afrondrantsoen en loopmaag het, word gemaalde gras by die rantsoen gemeng om ruvoer-inname te forseer.-

Ernst glo jy kan nie sonder Feedmaster se kundiges skou of veiling hou nie. Soms is klein verstellings vir beter resultate nodig, maar dan moet hulle die diere sien. “Ek was nog altyd suksesvol met Beefpro 14, maar verlede jaar moes ek Breker 12 op Feedmaster se advies inbring vir gesonde rumens omdat die grashooi van ’n swak kwaliteit was weens die droogte.-

Daarby glo Ernst dat skouprestasies in die geheim van afronding lê. “Om te skou is ’n duur storie. Jy moet uit die staanspoor dinge reg doen om koste te spaar en Feedmaster se kundigheid gebruik. Ek het al baie skoolgeld betaal, maar weet nou om kondisie en vordering daagliks te evalueer.” Ernst begin in Mei met skou­rantsoene, eers lig want ’n dier wat in ’n swakker kondisie is, word makliker mak as ’n vet dier. Hy ver­kies om oor ’n langer tydperk minder te voer omdat baie voer in ’n kort tydperk diere se rumen beskadig.

Rangeland Grower is nog ’n Feedmaster-produk wat op Ernst se voorkeurlys is. “Ná 2013 se droogte was die koeie en kalwers in die Khomas-Hochland se kondisie swak. Ek het vir die koeie gras aangery van Hochfeld af en op ­Christo du Plessis se aanbeveling Rangeland Grower volgens die kruiphokstelsel vir die kalwers gegee. Voortaan sal ek dit bly doen, behalwe in ’n goeie reënjaar.” Volgens Ernst is dit verstommend hoe gou die kalwers by die kruiphok­stelsel aanpas. Soggens sewe-uur wag hulle al vir hul kos sonder dat ’n koei in sig is. Hy speen nou dieselfde gewig twee maande vroeër en het boonop ’n baie mooier, beter afgeronde kalf. So spaar hy ook die koeie se kondisie omdat die kalwers minder afhanklik van hul ma’s is. Rangeland Grower is ’n groeimeel met goeie­ natuurlike proteïen (17%) en 9 mega joules ener­gie wat in rantsoene en lekke gemeng word.-

Ernst is in die gelukkige posisie dat hy die meeste van sy ru­voer en ener­gie (mielies) op sy plaas produseer.-

Nog ’n noodsaaklikheid by hom is ’n doseerprogram. Diere word geënt teen milt-, lam- en sponssiekte en die jong vroulike diere teen brucellose. Al die koeie kry ook in die eerste week van Julie ’n vitamien A-spuit­ en die jong diere ’n Multimin-spuit jaarliks.

Diversifikasie lyk só

Otjosondu is gewis nie net Brahman-wêreld nie. “Toe ek hier begin boer het en nog net 180 beeste gehad het, was ek vroegdag al klaar met my werk. Ek het met groenteverbouing op 20 ha onder druppers in tonnels en 14 ha onder spilpunt-besproeiing begin, maar eers gaan kers opsteek by boere in Natal en die Suid-Vrystaat oor hoe dit gedoen word.” Ernst het veertien jaar lank uie, murgpampoen, suikermielies en soetrissies aan kettingwinkelgroepe in Windhoek gelewer en selfs van sy produkte uitgevoer. “Dit was harde werk. Ons het tot laat nagte verpak.” Gesondheidredes het hom gedwing om af te skaal. Deesdae plant hy nog net voer – in normale jare akkerbone op 40 ha se droëland en onder spilpuntbesproeiing op 14 ha mielies in die somer en hawer vir die perde in die winter.-

Aan water is hier geen tekort nie. Die Groene­waldts se woonplaas lê op die ondergrondse waterdraer wat die Karstveld met Stampriet se artesiese waterbronne verbind. Water word in een sentrale opgaardam naby die opstal gepomp en met ’n sterk drukpomp na die besproeiings­punte gelei. “Dit is ’n duur stelsel, maar veilig omdat daar altyd reserwe water is.”-

Ernst maak ook tyd om sy liefde vir koekoekhoenders en sy pragtige, bont Pinto-perde uit te leef. “Ek het so 24 merries en drie hingste. Die ses reunperde gebruik ek vir beeswerk.” Volgens Ernst is dié perde ’n algemene gesig in rolprente oor die Indiane. Hul makheid maak van hulle gewilde kinderryperde, veral vir meisies. “Ek hoef hulle nie te adverteer nie. Ek het ’n waglys van ouers in Windhoek wat vir hul kinders dié perde wil aanskaf.”-

Kleinvee is daar ook sowat honderd Boerbokooie, 80 Persie-ooie en 40 Van Rooy-ooie hoofsaaklik vir eie gebruik. In Augustus en September het hy wel ’n goeie mark vir sy Persie-hamels wanneer Piet “Biltong” Nel van Okahandja dit wat beskikbaar is, koop vir die maak van boerewors.-

Tyd vir tuinmaak, nog ’n passie van Ernst, is daar ook. Hy het veral ’n voorliefde vir sy blomtuin.-

Arbeidsake op Otjosondu-

Om al die boerdery-aktiwiteite suksesvol te be­stuur, maak Ernst gebruik van veertien permanente werkers. Dit sluit kontrakwerkers uit van wie drie tot vier feitlik voltyds in diens is om bosse uit te kap. Van die werkers, hoofsaaklik San-mense, is al 19 jaar in diens van die Groene­waldts. Benewens ’n goeie basiese salaris van tussen N$900 en N$1 600, kry hulle nat rantsoene vleis, melk en groente. Aartappels word weekliks by ’n buurman-akkerbouer gekoop en as daar nie is nie, word kool vir die werkers bestel.-

Dan is daar ook nog drie vroue wat in en om die huis werk onder die bekwame toesig van Amanda se tannie Mara Beukes, ’n raakvatter wat ook die heerlikste kos voorsit danksy haar ervaring in die spyseniersbedryf.

GESOUTE ONDERWYSER DIE STEUNPILAAR IN DIE FAMILIE-

Amanda Groenewaldt, Ernst se skoolhoof-egge­note, was op haar dag self ’n teler van Santa Gertrudis-beeste. Immers is sy ’n boerenooi van die plaas Fyndraai in die Khomas-Hochland waar haar pa, Karl “Boela” Freygang, met Afrikaner-kruisings geboer het. Hy was Rehoboth se eer­ste burgemeester en het ook dié gebied as volksraadlid gedien.

Vir haar moeite om die Groenewaldt-skou­stalle aantreklik vir besoekers en verbygangers te maak, is Amanda met die hulp van skoondogter Celeste en dogter Ludmilla al ’n paar keer met die skouprys vir die netjiesste stal beloon.

Maar haar eintlike passie is onderwys. Sy het pas nadat hulle hul plaas gekoop het in 1993 by die destydse Otjozondu spesiale skool vir ­seuns ingeval. ’n Jaar later het die skool ’n primêre skool geword waar sy eers departementshoof was en toe skoolhoof. Die leerlingtal het van 260 tot die huidige 520 gegroei. Die voedingsbron is die kinders van plaaswerkers van die omge­wing, hoofsaaklik van San-oorsprong. Amanda hou al 32 lank skool waarvan 21 jaar by die Otjozondu-skool.

’n Mens kan Amanda ook amper ’n permanente student noem. Sy het eers aan die Windhoek Onderwyskollege gestudeer en by die Primêre Skool H. Greeff haar loopbaan begin. Sy het haar studie voortgesit en ook ’n BA-graad in sielkunde aan die Akademie (vandag Unam) verwerf waarna sy die voorligting-juffrou by die Sekondêre Skool Cosmos was. ’n BEd-graad in spesiale onderwys by Unisa het gevolg. En wanneer Amanda wel volgende jaar gaan aftree soos sy beoog, wil sy haar in die rekenaarwese bekwaam. Gee haar enige elektroniese toerusting en sy raak dit gou baas – van die aanleer van rekenaarprogramme tot die instel van televisies. “Ek het Ernst ook probeer touwys maak op die rekenaar, maar hy behoort aan die BBC-era oftewel-born before computers.”

Oor haar San-skoolkinders sê sy hulle is baie intelligent, maar skaam en nie juis lief vir skoolgaan nie. Hulle draai graag stokkies en wanneer hulle hoërskool toe gaan op Okahandja, loop baie van hulle weg. Sy glo die probleem lê by ouerbetrokkenheid en ’n gebrek aan moti­ve­ring, maar voeg by dat die San-kinders nie maklik aanpas by die vinnige lewe in ’n groot dorp of die stad nie.

Amanda het Ernst ontmoet toe sy hom na sy matriekafskeid in 1978 by die Sekondêre Skool Dr. Lemmer vergesel het. Sy was ’n jaar agter hom. Hy het nou nog die spoggerige pak klere wat haar pa, ook ’n gesoute kleremaker, vir hom vir dié geleentheid gemaak het. Ma Grete het haar pa bygestaan met sy kleremakery. Amanda vertel as ’n knap rugbyspeler het Ernst se paaie ook met dié van haar pa, destydse voorsitter van die Rehoboth Rugbyklub, destyds die Buffaloes, gekruis. Amanda se oupa Karl Freygang was ook ’n kleremaker van beroep – ’n talent wat hul ses kinders nie eintlik geërf het nie. Ja, klein goedjies soos gordyne en tafeldoeke maak, maar nie detail-werk soos wat ’n pak klere vereis nie.

Intussen het groot uitbreidings in Brahman-teling op hul plaas meegebring dat Amanda verlede jaar haar Santa Gertrudis-stoet wat sy by haar oudste seun, Hueston, oorgeneem en uitgebrei het, verkoop het. Die top-veilingprys van N$112 000 is deur Boetie Jooste, ’n bekende Santa-teler betaal. Deesdae hou die boerdery-administrasie en haar sewe mopshonde (pugs) haar ná skooltyd besig.

Vir sy fyn afgeronde, kalm vrou het Ernst net mooi woorde: “Sy is die ruggraat van ons boer­dery en ons gesin. Sy het ook ’n streng beleid dat ons nie kwaad vir mekaar mag gaan slaap nie al het ons die heeldag baklei. Sorteer dinge uit en môre begin ons weer nuut, glo sy.”-

Die groter familieboerdery-

“My visie was nog altyd dat my seuns die boer­dery moet oorneem. Die oudste, Hueston, het in 2008 my rooi kudde gekoop wat vandag op 300 geregistreerde diere staan. Twee jaar gelede het wit bygekom met 80 geregistreerde diere en ’n Boran-stoetkudde van 70 koeie.” Deesdae het Hueston sy eie plaas in die Witvlei-omgewing.-

In Hueston se matriekjaar het Ernst vir hom 28 Santa Gertrudis-stoetverse gekoop wat die grondslag vir die Hue-Waldt Santa Gertrudis Stoet gelê het. Dié diere het hy hoofsaaklik aan sy ma verkoop om sy eie onderneming, Hue-Waldt Electrical Construction, te begin. Hue­ston is ’n elektriese ingenieur-tegnikus wat gemoeid is met groot projekte. Hy word byge­staan deur sy vrou, Celeste, ’n nooi Ludick van Rehoboth en ’n gekwalifiseerde radio­grafis. Sy het egter net ’n paar maande haar beroep beoefen voordat sy be­sluit het om haar man by te staan. Jongsus Ludmilla, wat haar honneurs­graad in re­ke­ning­kunde aan Unam behaal het, werk ook vir ouboet by sy on­derneming, Hue-Waldt Electrical Construction, wat sewentig permanente werknemers in diens het en dorpe en nederset­tings van krag voorsien. Klein­­boet Freygang, ’n elek­tri­siën, het eers vir ouboet en toe vir Medi­­Clinic as tegnikus ge­werk, maar bedryf nou sy eie on­der­neming, FEG Electric, wat op die huismark fokus. Anders as pa en ouboet is Freygang ’n klein­­veeboer in murg en been en ’n suideman. Hy het sy eie Boerbok-stoet en boer ook kommersieel met beeste.

Die jongste toevoeging tot die gesin is William Klazen, Ludmilla se man, wat sy landbou­graad het. Hy het voorheen by die Sandveld Navorsingstasie naby Gobabis gewerk en is nou by Meatco. Naweke boer hy saam met pa Geoff, ’n afgetrede bankbestuurder, en ma Owney op hul plaas in die Rehoboth-omgewing. Hy en Ludmilla se eersteling daag eersdaags op om die vyfde trotse kleinkind en eerste kleinseun van Ernst en Amanda te word. Hueston en Celeste se vier dogters kuier graag by oupa en ouma op die plaas.

  • Print this article
  • Email this article
  • Share this article