Loading...

Een Boer Wat Woeker En Aanhou Leer

Een Boer Wat Woeker En Aanhou Leer
Posted by on 1 March 2015 and filed under

VOORWOORD

’n Boer met planne én hy maak werk daarvan. Dit is Bossie Coetzer, wat binnekort ’n klein abattoir op sy plaas in gebruik neem om nie heeltemal uitgelewer te wees aan prysskommelinge in die formele mark nie. Daarby begin hy nou ook met strookbeweiding waar koeie en hul kalwers tot op drie maande gaan saam wei. Die afhok van kalwers tot op drie maande ouderdom op kraal het oor die groot dae in Desember sy oë oopgemaak en hom laat besluit om ’n ander stelsel vir roofdierbeskerming in werking te stel.

Hy gaan ook nie weer die fout maak om sy teelseisoen te ver-vroeg nie. Dié duur les het hy in 2012-2013 se droogte geleer.-Agriforum-se Marietjie van Staden en Feedmaster se Dawid Krause was einde Februarie op sy plaas Hortensia in die Okahandja-omgewing waar daar kopstukke gesels is oor boerdery met dié wêreldreisiger, leergierige boer en sakeman.

Onderbestokking, sowat 1 bees op 15 ha, het hier ook gewys dat die droogte nog nie sy tande te diep ingeslaan het nie. Daarmee saam is Bossie se passie vir georganiseerde landbou die afgelope vier jaar die voorsitter van die Okahandja Boerevereniging eerstehands beleef.

Hy beskou deelname aan georganiseerde landbou as seker die belangrikste deel van landbou in Suider-Afrika. Bossie het begin vanjaar as voorsitter van sy boerevereniging uitgetree en begin Maart die raadsaal van die Namibië Landbou Unie (NLU) betree as verteenwoordiger van die Okahandja-streek daar waar daar op nasionale vlak koppe bymekaar gesit word om landbousake in die land op koers te hou en pro-bleme by die horings te pak. Hy glo elke boer in hierdie land moet ’n NLU-lid wees. Die NLU doen uitstekende werk en hou ons boere op die regte pad. Lees hiernaas hoe Bossie ’n lewe uit sy plaas maak.

BOSSIE COETZER ‘N BOER WAT WOEKER EN BLY LEER

Op Hortensia (die Latynse woord vir tuin) word daar baie planne gemaak en deur­gevoer om die kosteknyptang waarin boere vasgevang is, te oorleef. Dit is hier in die Okahandja-omgewing waar Bossie Coetzer bly woeker. Immers wou hy van kindsbeen af boer ’n droom van ’n eie plaas wat in Janu­arie 2007 vir hom waar sou word toe hy uiteindelik sy eie stuk aarde van net onder die 5 000 ha kon bekom. Maar eintlik boer hy nog sy hele grootmenslewe lank. Eers as plaasbestuurder in Botswana, toe op huurgrond in die Okahandja-­omgewing en nou op Hortensia.

Die kennis het hy. Bossie het as ’n boer­seun grootgeword en landbou studeer. Sy loopbaan het in Botswana begin waar hy twee jaar lank plaasbestuurder was, in 1997 en 1998. “Dit is hier waar ek verlief geraak het op die Tuli-ras.” Die mooi verse op die buurplaas het hom oorgehaal om ’n Tuli-teler te word. Hy het toe die tweede een in Namibië geword. “Nou is ons drie aktiewe telers,” sê hy. Maar “rassisties” is hy allermins. “Nie een ras is beter as ’n ander een nie. Dit is soos ’n man wat ’n vrou kies. Die ras wat jy kies, is vir jou die mooiste.”

Intussen is daar twee groot dinge aan die gebeur op Hortensia. ’n Klein, netjiese abattoir is bykans voltooi en sal na verwagting begin Mei in werking wees. Prysskommelinge in die formele mark het Bossie laat besluit om te diversifiseer. “Ek het self die plan opgetrek vir die abattoirtjie en is daarmee Vleisraad toe. Hulle het gehelp met aanpassings ook advies dat ek ’n wasplek vir die werkers buite die abattoir moet aanbring vir inspeksie-doeleindes.” Bossie beoog om sowat vyf beeste per week hier te slag vir onder meer voorsiening aan hy en sy vrou, Jackie, se Chameleon Lodge in Windhoek en vir private verkope. Die groot koelkamer vir die rypmaak van karkasse sal ook ingespan word vir wildvleis wat hy by wild­boer Tielman Neethling naby hom gaan koop vir verwerking. Dit spaar Tielman die moeite en die koste om die vleis Okahandja toe te ry. Die abattoir beskik oor toerusting om karkasse te halveer en in kwarte te sny, maalvleis en wors te maak en vakuumverpakking te doen. Die toerusting is reeds geïnstalleer en binnekant is alles netjies en spierwit geteël. Dit is nog net die wasgeriewe wat aangebring moet word.-

Bossie se ander plan het middel Maart gestalte gekry toe ’n kruiptrekker (bulldozer) 60 ha se indringerbos weggevat het. Die witgatte en die kameeldorings staan nog. “Hier gaan ek met strookbeweiding, elektries omhein, begin. Ek het einde verlede jaar ’n duur les geleer. Ek gaan nie meer my kalwers tot op sowat drie maande ouderdom op kraal afhok om roofdierverliese te voorkom nie. Ek het dit vyf jaar lank gedoen. Toe ek op Oukersdag op die plaas kom, was die drywer onverwags op Krismis. Hy het die kalwers uit die krale laat gaan. Ek hou toe die spulle­tjie fyn dop en sien die koeie loop op hul eie. Hulle soek nie hul kalwers nie. Die instink om hul kalwers op te pas was nie meer daar nie.”-

Nog ’n fout waaruit Bossie geleer het, was om sy teelseisoen vroeër te verskuif. “Toe kom 2013 se droogte en die koeie kalf in Mei. Hulle het baie swaar gekry. Volgens Tuli-rasstandaarde moet ’n vers op 39 maande kalf. Ek het gesukkel om ook daarby uit te kom. Ek is nou terug by ’n teelseisoen van begin Januarie tot einde Maart sodat die koeie weer in Oktober kalf. Verlede jaar was net een vers nie dragtig nie. Ek laat so ’n klein bietjie ruimte toe vir eer­ste­kalfverse. Dit vat baie uit hulle. Met die tweede kalf kan dit ook nog sukkel, maar van daar af is koeie behoorlik oop en moet hulle elke jaar ’n kalf gee.”-

Die verskuiwing van sy teelseisoen het gespruit uit nog ’n fout, vertel Bossie. “Ek het lynteling te ver gevat. Dit het toe uitgeloop op inteling. Ek het een jaar geen kalwers aangekry nie en my dekseisoen vroeër begin skuif, toevallig ook in die klomp agtereenvolgende nat jare. Nou weet ek teling is nie ’n bedryf van tien of twintig jaar nie. Dit is ’n leeftyd joune en jou kinders s’n.”-

SIENING VAN BOERDERY-

Bossie glo boere in die land moet buite die boks begin dink. “Ons boer nog soos in die sewentigerjare. Ons moet ons grond baie meer intensief benut. Ons moet kyk hoe ons produktiwiteit kan verhoog sonder om koste te verhoog. Mieliemeel se prys is al klaar met 17% op. By die Aldam-vleisbeesskool het ek gehoor ’n boer wat nie 80% speen nie, maak nie geld nie.”-

Volgens Bossie kan boere die beste bestuurders wees, met die beste rasse teel en die goedkoopste voer produseer, maar as hulle nie geld vir hul produkte kry nie, trek hulle noustrop. “Die middelmanne loop met ons geld weg. Ons moet winsgewendheid verseker. Boere raak al ouer, en wat kan ’n jong man in die land moti­veer om te boer as hy na ontwikkelde lande kyk waar regerings boere in ’n groot mate bystaan en ondersteun? As jy grond in ons land wil koop, het die regering die eerste opsie. Buitendien is grondpryse so hoog dat jy dit nie kan uitboer nie.”-

Oor grondhervorming voeg Bossie by dat dit noodsaakllik is, maar dit word verkeerd gedoen omdat daar nie na winsgewendheid gekyk word nie. “Dit strek die land nie tot voordeel nie. Toe ek as ’n plaasbestuurder in Botswana gewerk het en ’n buitelander ’n plaas wou koop, moes die grond geadverteer word. As jy in hierdie land wil boer, moet jy op jou grond bly, die grond ontwikkel en ekonomies produktief boer.”-

Dit het Bossie gebring by die belangrikheid van boerdery vir ekonomiese groei in enige land. “Dit is so ’n prioriteit dat ons met ’n bewusmakingsveldtog moet begin oor wat ’n boer doen en wat sy bydrae tot die ekonomie is. Ons gee mense kos. Sonder ons kan hulle nie eet nie. Ons moet die media vir so ’n veldtog inspan, ook die groot advertensieborde in die stad en op dorpe, want die media is so kragtig dat hulle regerings op hul knieë dwing. Ons moet ook die wanopvatting regstel dat boere ryk is. Hoeveel ryk boere het ons in ons land?”-

Nog ’n kwessie wat hy aangespreek het, is die jagluiperd. “Veeboere soek hom nie, want hulle vreet die vee op en soek elke dag vars vleis. Wildboere wil hom ook nie hê nie, want dié roofdiere het geen waarde vir hulle nie. Die bewaringsmense het daarin geslaag om die jagluiperd op die Cites-lys vir internasio­naal bedreigde spesies te kry. Hulle moet van hierdie lys afgehaal word. Namibië het reeds die grootste jagluiperd-bevolking in die wêreld. Wat gaan van die vee en die wildsbokke oorbly? Daar moet waarde toegevoeg word aan hierdie diere en ’n mark moet vir hulle gesoek word.” Bossie het vanjaar drie kalwers aan jaglui­perds afgestaan. Hulle het die kalwers in die krale kom haal. Tog glo hy ’n boer kan met 1% se roofdierverliese saamleef ter wille van ba­lans in die natuur. “Gelukkig het ek nie te veel las van hulle nie.”-

Hy byt ook moeilik aan Meatco se voerkraalplanne. “Ons produseer nie voer in Namibië nie. Sparta in Suid-Afrika, waar voer op groot skaal geproduseer word, se voerkoste beloop net onder N$2 per kg en hulle sukkel om geld te maak.”-

TELING EN SELEKSIE

Bossie vertel hoe sy Tuli’s hom in 2013 se droogte verras het toe hul gemiddelde gewig hoër was as dié van die kruisingdiere ’n bewys dat hulle droogtes baie goed deurstaan. Die kudde in sy Chameleon Tuli stoet staan op 163 koeie. Hy en Jackie se drie ondernemings word ook onder die Chameleon-naam bedryf.-

Eienskappe van die Tuli wat hom beïndruk, is die feit dat hulle poenskop is, wat werk en be­stuur vergemaklik. Hulle is ook baie rustig, gehard en vrugbaar. Bossie se gemiddelde dragtigheidsyfer is 85% en sy speenpersentasie 95%. “Daarby is die koeie uitstekende moeders. Ek verloor net so twee kalwers per jaar, roofdierskade uitgesluit. As ons besig is om met die kalwers te werk en een van hulle skreeu, kom al die koeie nader.” Geboortegewig lê op sowat 32 kg terwyl jy op 18 tot 20 maande al kan sien watter bulkalwers goeie bulle gaan word en watter uitgeskot moet word. Die gekorrigeerde speenmassa is gemiddeld 205 kg vir bulle en 190 kg vir verse.-

Aan vleiseienskappe skiet die Tuli ook nie tekort nie. Hulle slag ­goeie gewigte uit op gemiddeld net oor die 240 kg en hoofsaaklik B-grade.-

’n Bewys van die ras se vrugbaarheid is ’n jong koei in Bossie se kudde wat keer op keer eerste kalf. Sy het nou haar derde kalf op vyf jaar ouderdom en dit lyk of sy weer dragtig is. Hy het nog so ’n koei gehad met ’n TKP van 340 dae wat hy aan medeteler Burgert Liebenberg van Outjo verkoop het, maar hy glo dié jong koei van hom gaan nog beter vaar. “As ’n bul net by haar verbyloop, is sy dragtig. Sy is ook al deur ’n Brahmanbul gedek wat oor die draad gespring het.” Die resultaat was ’n pragtige kruisvers wat Bossie laat besluit het om nou ook Brahman-bloed in sy kommersiële kudde in te bring. Nog ’n kombinasie wat hom verras het, was toe hy ’n Tuli-bul op ’n Sussex-kruiskoei gesit het. “Sy het ’n tweeling gekry - sulke fris tollies.” Bossie gebruik hoofsaaklik Simbra-bulle op sy Tuli-tipe koeie in sy kommersiële kudde wat baie goeie osse produseer.

Behalwe vir prestasietoetsing gaan hy ook nou veldbultoetse doen om met dié bykomende seleksiemiddel ondoeltreffende diere uit sy kuddes te haal. Bossie het onlangs die veldbulkursus in Windhoek bygewoon en hy glo dit is ook ’n goeie bemarkingsmiddel.-

Van vanjaar af gebruik Bossie ook neusringe vir speen op agt maande. “So skakel jy speenstres uit en spaar jy tyd om hooibale aan te ry. By we­ging ’n maand of twee later haal ek die neusringe weer uit.”-

As Bossie bul koop, kyk hy hulle met ’n skerp oog deur. “Ek identifiseer so tien kandidate en kyk dan na hul teelwaardes om uiteindelik ’n keuse te maak. So het ek al by Alwyn Marx, ’n-stockman-by uitstek en ’n Tuli-teler van Burgersdorp in Suid-Afrika, vyf bulle se nommers sewe maande voor die jaarlikse Oktober-veiling op ’n stuk papier geskryf. Ek het die papier verloor en moes toe op die teelwaardes staatmaak.­ L­ater het ek die stuk papier opgespoor en die twee top-keuses se nommers het ooreengestem.”-

Die Tuli het sy oorsprong in 1949 tot 1950 in die destydse Rhodesië (Zimbabwe) op die oewers van die Tuli-rivier gehad. Dit was toe ’n voorligtingsbeampte, Len Harvey, baie bekommerd was oor die grootskaalse invoer van Britse en Europese rasse wat nie die paal sou haal in die strawwe, droë omgewing nie. Hy het toe finansiering van die staat gekry om ’n plaaslike ras te ontwikkel. So het hy by die watergate gesit en die beste tipe inheemse beeste geïdentifiseer en met hulle begin teel – ’n mengsel van Sangas en Bos Taurus wat geklassifiseer is as ’n Bos Taurus Africanus. Op 21 April 1951 is die eerste poenskop-bul Guyu, seun van die basis-vaar Mahuke, gebore. Hy het ’n enorme invloed op die navorsingskudde, ook na hom genoem, gehad. Later jare is die Tuli ook in Suid-Afrika, Noord-Amerika en Australië gevestig. ’n Groot eer vir dié ras was die Triple Crown-toekenning in 1978 in Zimbabwe. So het ’n saamgestelde ras, die Tulim, waarvoor die Limousin gebruik is, ook intussen in Suid-Afrika ontwikkel.-

Die Tuli het ’n klein skof en is eenvorming in kleur – geel, goudbruin en rooi. Bossie probeer nou om die goudbruin-kleur in sy kudde vas te lê.-

BEMARKING WERK SÓ-

Bossie verkoop net Tuli-teeldiere van sy plaas af. Sy sowat sewe kliënte kom elke tweede of derde jaar terug om bulle te koop wat in die veld uitgesoek word. Hy rond nie sy bulle af nie. “My filosofie is as ’n boer ’n goeie bul by jou koop, hy lewenslank ’n kliënt bly. Een van my kliënte vertel toe hy ’n Chameleon-bul op sy plaas aflaai, was hy dadelik tussen die verse – besig om te dek.” Bossie, lid van die nuwe Namibië Veldbulklub, beoog om wel van sy bulle op veldbulveilings aan te bied. Dié veilings behoort oor sowat twee jaar te realiseer.-

WEIDING EN VOEDING-

Vir sy stryd teen indringerbos het Bossie ’n Bosvark aangeskaf waarmee hy al 50 ha skoongemaak het. “Ek laat die hout droog word, saag dit op en maak dan vuurmaakhout vir verkoop.” Dit is veral swarthaak wat hier ’n probleem is.-

Daarby glo Bossie aan ’n goeie lekaanvullingsprogram. Hy gebruik ’n onderhoudslek van Feedmaster-produkte wat fosfaat, sout en ureum bevat en waarby hy Rangeland Grower voeg. “’n Bekende feit is ’n fosfaat-tekort in Suider-Afrika wat sonder lek vrugbaarheid en groei negatief beïnvloed. Ek het nog altyd lek gegee en glo boere wat dit nie doen nie, behoort gou daarmee te begin om produksie te verhoog.”-

Natuurlike weiding is betreklik goed met klimaksgrasse soos Kalahari-­sandkweek, blinkhaar-Boesmangras en krulblaar. En in goeie reënjare is die eenjarige-Fettweide-volop. “Niks kan ook mors met weiding soos gemsbokke nie. Waar hulle wei, is die aarde plat. Dit lyk asof ’n gras­snyer bo-oor was,” voeg Bossie by.-

OPLEIDING ’N PRIORITEIT-

Bossie glo boere moet moeite doen met hul plaaswerkers en hulle oplei. “My filosofie is om hulle so te bemagtig dat, as hulle eendag terugkeer na hul tuisland, hulle iets moes geleer het en dit kan toepas. Ek betrek hulle, vra hulle raad en partykeer kom hulle met goeie idees vorendag.”-

Volgens Bossie besef baie mense daar buite nie dat die plaaswerkers se kinders ook eintlik die boer se kinders is nie. Jy betaal hulle skoolgeld en ry hulle vakansies huis toe en weer terug skool toe. Bewerings dat plaaswerkers te min verdien, is ’n wanvoorstelling. “Werkers by my toerisme-ondernemings in Windhoek is op ’n gelyke vlak met my plaaswerkers of selfs effe swakker daaraan toe. Die plaaswerkers kry ­huise, water, krag en nat rantsoene (vleis en melk) gratis, terwyl die stadwerkers vir al hier­die lewensmiddele moet betaal en nog die duur taxi-geld ook.”-

EERS OP VER PAAIE EN TOE BOER-

As student het hy hom eers in die regte begewe aan die Universiteit van Pretoria, maar die La­tyn het hom so geboelie dat hy oorgeslaan het na landbou wat eintlik sy belangstellingsveld is. Hy het aan die Glen Landboukollege by Bloemfontein studeer. Daarvan het hy ’n groot sukses gemaak. Hy was ook die John Deere-student van die jaar van sy kollege.-

Ná sy studies het hy sy reisskoene aangetrek en gaan kyk hoe die wêreld oorkant die waters lyk. Europa, Brittanje en Amerika. Dit was in 1992 toe die Olimpiese Spele in Barcelona, Spanje, gehou is. “In die 13 maande het ek baie geleer. Dit is wat ek wou doen – om te leer om met mense van ander kulture om te gaan en aan te pas by hulle. So tussendeur het ek allerhande los werkies gedoen. Karre se windskerms gewas en op ’n skaapplaas in Skotland gewerk. Hier het net die boer, twee wer­kers en vier skaaphonde ’n kudde van 6 000 skape behartig. Die skape is voor die lamseisoen geskandeer en in ’n groot skuur opgedeel in lammergroepe wat drielinge, tweelinge en enkellammers gaan kry. Met moeilike geboortes weet jy dan hoeveel lammers om te trek. Planne moet gemaak word, want soms word daar tot 24 uur op ’n dag gewerk.”-

Bossie het in sy omswerwinge agtergekom die meisies is ook nie mooier daar nie. Maar op die ou end sou ’n buitelander sy lewensmaat word, ’n Australiër. Heelwat besoeke aan haar geboorteland sou ook volg. Hy het vir Jackie in Windhoek ontmoet in sy “Australiese fase”, sê hy. Eers het hy met ’n ander Australiese meisie uitgegaan wat hom later aan Jackie voorge­stel het. Bossie het al mooi grootgeword voordat hy vrou gevat en kinders gekry het. Op 34 het hy die eerste keer pa geword het en hy is dol oor sy twee witkopdogters, nou 12 en 10 jaar oud. Op 46 jaar beoefen hy ook nog ’n vinnige, veeleisende sportsoort – rolskaatshokkie.-

In 2009 het die reislus Bossie weer beetgepak. Hierdie keer was hy saam met Jackie en hul twee dogters noord op in Afrika vir sowat vier maande.-

Oor sy Afrika-ervaring vertel hy van Zimbab­we se hartseer. Van die opgeboude plase en tabakplantasies was min oor. In Malawi het landbou-ontwikkeling opgeval. In Tanzanië het daar niks dieper die veld in as in die 200 meter strook langs die paaie gebeur nie. In Kenia het die baie teeplantasies die oog gevang. In Uganda was daar groter bedrywighede met suikerriet, mielies en beeste met lang-lang horings. In Mosambiek het boere 12 permitte nodig om hul diere 300 km verder by die mark te kry. “So, eintlik gaan dit baie goed met ons. Wat vir my bemoedigend was, is die oud-Zimbabwiese boer wat ek in Tanzanië ontmoet het. Hy het aan die stuur van ’n tabak-projek gestaan met eers 10 nuweling-boere onder hom en later 30. Hy het hulle geleer hoe om tabak te plant – in ’n gebied waar daar voorheen niks was nie. Die oeste koop hy by hulle op vir bemarking en so maak almal ’n lewe.”

Bossie se boerderyloopbaan het in Botswana begin as plaasbestuurder van Sefalana-Metro se baas in dié land, Brian Frolich. Hy het op 11 000 ha in die Tuli-blok en 24 000 ha in die sentraal-Kalahari geboer met onder meer ’n Brahman-stoetkudde (wit en rooi) en ’n klein Bonsmara-kudde. Bossie wou ná twee jaar grond van sy eie in dié buurland by Ghanzi koop – ’n transaksie wat deur die mat geval het. Hy het toe teruggekom Namibië toe.-

Nie lank daarna nie was hy vir vyf jaar lank ’n deeltydse boer op huurgrond op verskeie plase in die Okahandja-omgewing. “My skoolmaat en vandag nog ’n goeie vriend, Willem Tromp, het onder meer vier kampe aan my beskikbaar ge­stel. Een aand om ’n braaivleisvuur praat hy my ernstig aan en sê vir elke maand wat ek nie ’n bees in ’n kamp bysit nie, kan ek een bees min­der insit. Dit het my wakker gemaak.” So onthou Bossie hoe sy oudste dogter Kayla (12), toe nog in doeke, in ’n tent saam met hom by sy beeste gekamp het. “Haar blonde hare het maar wild en woes gestaan. Ons het nie altyd ’n kam ingepak nie. So kom ’n os toe op ’n dag en lek haar kop van agter – seker gedink dit is gras.”

Stadig maar seker het Bossie sy stempel begin afdruk. Hy het die beginnerkursusse vir die keu­ring van Tuli’s, Limousins, Simmentalers, Braunvieh en die Afrikaner gedoen. Einde vandeesmaand kom Stefan van Wyk, senior keurder van Tuli’s, Brahfords en Herefords in Suid-Afrika, plaas toe om hom te evalueer vir toelating as senior Tuli-keurder wat hom en Kiep Lepen die enigstes in die land sal maak. Willie Grobler sal terselfdertyd touwys gemaak word oor klein veranderinge in die rasstandaarde.

In die sakewêreld is Bossie ewe bedrywig. Hy en sy vrou het drie ondernemings in die toerisme­bedryf in Windhoek: die Chameleon Lodge (sedert 1996) met slaapplek vir vyftig mense en kampeergeriewe, Chameleon Safaris (sedert 1995) wat weekliks toere onderneem op ’n vaste roete na Etosha, Swakopmund en Sossusvlei maar ook op aanvraag ander bestemmings besoek en die vakansiebesprekings­agentskap Chameleon Holidays (sedert 2007). Jackie het al hierdie ondernemings op die been gebring.

Intussen gebruik Bossie elke moontlike geleentheid om sy kennis te verbreed: die Aldam-vleisskool, die Namibiese Stoettelersvereniging (NSV) se vleisproduksieskole, boeredae en onlangs, in Februarie vanjaar, het hy die Veldbul-kursus in Windhoek bygewoon.

Gedrewe tot sukses.

  • Print this article
  • Email this article
  • Share this article