Loading...

Voer Riglyne vir die Voeding Van Skoudiere

Showgrounds
Posted by on 22 June 2022 and filed under

Hoe moet voer lyk en voel, hoeveel en wanneer moet ek voer? Die tekstuur van voer, die hoeveelhede wat aan skoudiere gevoer word en voeding tydens die skou, dra by tot die afronding van dié diere en uiteindelik hoe hulle in die skouring lyk.

Voer moet 'n goeie tekstuur hê, naamlik 'n goeie mengsel van partikelgroottes en so min as moontlik uitermatige fyn of growwe materiaal. Stowwerige of gemufde voer moet glad nie gebruik word nie. Wanneer diere hoes kan dit 'n aanduiding van stowwerige voer wees. Sodra die volledige voer gemeng is kan die produsent ‘n monster van die voer in sy hande saam pers. Indien dit die produsent se hand steek is dit ‘n aanduiding dat die ruvoer komponent droog en stokkerig is, wat moontlik die mond van die bees kan steek en seermaak.

Een van die belangrikste aspekte van dierevoeding is die hoeveelheid wat hulle moet vreet. Daarom die noodsaaklikheid om die voer akkuraat met 'n skaal af te meet, veral as die produsent sy voer self meng. Baie mense voer hul beeste volgens die volume van 'n koffieblik of emmer. Dit is onakkuraat aangesien voere drasties verskil in digtheid per volume.

Voer daagliks minstens 1,5kg tot 2,5kg hooi. Die voer van ‘n goeie gehalte lusern kan diarree veroorsaak, aangesien dit baie proteïen bevat en gewoonlik maklik verteer word. Goeie grashooi of 'n mengsel van 1 kg lusern met tussen 1 kg en 1,5 kg grashooi sal beter wees.

Koringsemels of gemaalde kameelboompeule is ook goeie voere om volume aan 'n rantsoen te verleen. Geeneen daarvan moet egter meer as 15 % van die totale rantsoen uitmaak nie.

Verandering van Voeding

'n Reeks rantsoene moet gebruik word soos wat die dier groei. Aanvanklik behoort 'n aanpassingsrantsoen gegee te word wat meer proteïen (veral rumenverbyvloeiproteïen), minerale en vitamiene. Dit moet ook 'n bietjie meer vesel bevat om die dier 'n goeie wegspring te gee, en die jonger dier meer geskikte voer vir sy stadium van ontwikkeling.

Sodra die dier se voerinname voldoende is en hy goed vreet, behoort die produsent oor te skakel na 'n groeirantsoen wat die dier laat groei, sowel as om spier- en beenontwikkeling te bevorder sonder om 'n klomp voortydige vet te laat aansit. Dit is veral belangrik by verse en jong bulle.

Uiteindelik moet die dier se voeding oorgeskakel word na 'n energieryker afrondingsrantsoen wat gewigstoename en 'n afgeronde voorkoms of egalige vetneerlegging bevorder. Hoewel die meeste beoordelaars nie 'n oormatige vet dier in die skouring wil hê nie, verkies hulle wel diere wat 'n geskikte graad van afronding of "vetheid" toon.

Die ideaal is om met iemand saam te werk wat voldoende kennis van herkouervoeding het om vir die dier 'n spesifieke rantsoen volgens die beskikbare voerbronne uit te werk. Wanneer die produsent van een voer na 'n ander oorskakel, moet hy dit verkieslik oor drie tot vier dae doen deur die huidige voeding met die een te meng waarna hy wil oorskakel, verkieslik om die helfte.

Ter voorbereiding vir ‘n skou, maak 'n beraming van wat die afgeronde gewig van die dier gaan wees. Stel 'n voerprogram saam wat gewigstoename sal meebring in ooreenstemming met die datum wanneer die bees gereed moet wees. Dit word gedoen deur die verhouding van ruvoer en graan wat in verskillende periodes van die voerprogram gevoer word, te verander. Dit verseker dat die diere nie oorvet word nie, en kan ook die produsent kostes spaar. Die reël is om vroeër te begin oor ‘n langer tydperk met goedkoper komponente, eerder as om die diere te druk met hoë graanvoere wat duursaam is.

Voedingsbestuur by die Skou

By aankoms op 'n skou is dit waarskynlik die beste om die diere nie dadelik kos en water te gee nie. Gee hulle eers kans om te rus, veral as die reis langer as 'n uur of twee geduur het. Ná 'n ruskans behoort die beeste vir hul eerste voeding slegs die helfte tot twee derdes van hul normale voerinname te ontvang. Hierdie hoeveelheid kan geleidelik met elke voeding verhoog word.

Dikwels word die hoeveelheid goeie, droë hooi by skoue verhoog, aangesien dit die kans verminder dat die beeste hul voer sal weier en dit behoort hul mis ook fermer te maak. Dit is dan makliker om die dier en stalle skoon te hou.

Water moet aanvanklik beperk word sodat diere nie siek word nie. Moenie toelaat dat hulle oormatige hoeveelhede water suip nie, al is hulle dik gevreet. Diere kan weerstand bied teen water waaraan hulle nie gewoond is nie. Die byvoeging van 'n koppie melassestroop of 'n halfkoppie suiker per 20 liter water kan enige ongewone smaak of reuk uitskakel. Die ideaal is om vyf tot sewe dae voor die vertrek na die skou daarmee te begin sodat die dier aan die verskil gewoond kan raak op die plaas.

Dit is nie buitengewoon dat beeste weier om voer by 'n skou te vreet nie. As hulle nie goed vreet nie, moet die volgende aspekte nagegaan word:

  • Moenie diere pla, soos om hulle te kam of te borsel, terwyl hulle vreet nie. Verstel die tou lengte sodat die diere maklik by die voerkrip kan kom.
  • Gebrek aan oefening kan 'n dier se eetlus demp. Gaan stap 'n ent met die dier om sy eetlus te stimuleer.
  • Moenie van voere tydens skou verander nie, die dier vreet dit wat bekend is beter as ‘n vreemde nuwe voer.

Ander komponente van ‘n voer of voersamestelling waarna gekyk moet word deur die produsent is:

  1. Proteïenaanvullings

    Word algemeen in voere gebruik en bevat gewoonlik kostedoeltreffende verbyvloeiproteïenbronne, minerale en vitamiene. In die meeste gevalle sal skoumengsels wat 'n hoër persentasie van natuurlike proteïenbronne bevat (veral 'n goeie balans van rumenafbreekbare en rumenverbyvloeibronne) veel beter presteer as dié waarvan die proteïeninhoud slegs van nie-proteïenstikstof, soos ureum, kom. Die gebruik van ureum is egter in orde mits dit teen lae vlakke (minder as 1 % van die rantsoen) gebruik word om veral mikrobiese proteïenproduksie te bevorder. Feedmaster se HPK30 is spesiaal geformuleer om juis hierdie tipe proteïne aan die produsent te verskaf. Addisioneel bevat hierdie HPK30 ‘n lewendige giskultuur om ‘n gesonde rumen omgewing te bevorder.

  2. Energie

    'n Dier wat 'n matige tempo van gewigstoename toon (0,9 kg tot 1,4 kg per dag) het ongeveer 1,5 % van sy gewig in grane en konsentrate nodig om die vereiste energie te verskaf om daardie gewigstoename te handhaaf. Mielies het 'n hoë energie-inhoud en sal vinnige gewigstoename bewerkstellig en kondisie bevorder. Mielies moet sorgvuldig gebruik word in skourantsoene en deeglike aanpassing op mielies of ander stysel bronne is van kardinale belang om te verhoed dat diere asidose (suurpens) kry. Vette en plantolies is ook gekonsentreerde energiebronne en kan gewigstoename en afronding stimuleer by beeste wat daardie "iets ekstra" nodig het. Terselfdertyd help dit om die haarkleed 'n goeie glans te gee. Feedmaster se Rangeland Grower bevat ‘n kombinasie van plantvette en olie-koeke wat die energie- en proteïenbehoefte van die skoudier aanspreek.

  3. Minerale

    Die mineraalkomponent van die rantsoen moet behoorlik gebalanseer word. Feedmaster se reeks produkte bevat reeds ‘n spoormineraalpak wat spesifiek gebalanseer is om aan skoudiere se behoeftes te voorsien.

Enermol of 'n melassemengsel teen 5 % tot 12 % van die voer kan bygevoeg word om die smaaklikheid van 'n rantsoen te bevorder en stofprobleme te beperk, maar dit dra ook aansienlik by tot die energie-inhoud van die rantsoen.

Water kan by die melasse gevoeg word om die mengvermoë te verbeter. Vloeibare produkte, as die produsent dit self byvoeg, behoort kort voor voertyd bygemeng te word.

Voorgestelde Voerprogram:

  Finisher Grower Starter
Produk Kilogram Kilogram Kilogram
Enerfeed 450 500 400
Enermol 80 80 80
Rangeland Grower 100    
Voerkonsentraat HPK 30 100 100 150
Lucerne (NAM) 150 180 250
Veld Hay (NAM) 80 150 150
Total 960 1010 1030

Die aanvangsrantsoen (Starter) word voorsien vir die eerste 14 tot 21 dae, dit is ook die aanpassingstadium van die dier. Sorg dat daar genoeg vreetbakspasie beskikbaar is dat elke dier gelyke vreetkans het. Skoon, vars en koel drinkwater moet ten alle tye voorsien word aan diere. Addisioneel kan ‘n hooirak ook beskikbaar gestel word vir die diere. Voer kan opgedeel word in drie voedings per dag. Dit stimuleer nie net eetlus nie maar sorg ook dat die voer vars bly.

Vanaf dag 21 tot rondom 5 weke voor die skou kan die groeirantsoen (Grower) en die laaste 4 tot 5 weke voor skou kan die afrondrantsoen (Finisher) gegee word.

Feedmaster se kundige personeel kan help met voerformulasies op die plaas, teen geen addisionele koste nie. Skakel jou tegniese adviseur vir meer inligting.

  • Print this article
  • Email this article
  • Share this article