Loading...

Die Kuddesamestelling van ‘n Kommersiële Kleinveeboerdery

Die Kuddesamestelling van ‘n Kommersiële Kleinveeboerdery
Posted by on 12 February 2020 and filed under

Die kuddesamestelling van veeboerdery verwys na die verhoudings tussen ramme, ooie, vervangingsooie en lammers op die plaas. Vir optimale produksie en volhoubare weidingsbestuur is daar spesifieke riglyne om te volg.

Vir enige vleisproduksie-eenheid moet die kuddesamestelling deurlopend bestuur word. Die bestuur van die veegetalle begin by die korrekte veebelading of bestokking van die plaas wat ‘n baie groot invloed het op volhoubare vleisproduksie.

Elke plaas het sy eie drakrag wat bepaal word deur die plaas se ligging, grondtipes, weidingsamestelling, kleinvee, grootvee en reënval. ‘n Kleinvee-eenheid (KVE) is ‘n ooi van 50kg, dus word alle groepe diere verwerk na KVE om die bestokking te bepaal. Lammers jonger as 6 maande is 0,4 KVE.

Volgens die inligting van Tabel 1 kan die plaas 2 000 kleinvee-eenhede in normale jare dra en dit beteken beslis nie 2 000 ooie nie. Die 2 000 KVE moet bestaan uit 60% lambare ooie, 3% ramme, 20% vervangingsooitjies en lammers wat verkieslik voor 6 maande ouderdom bemark gaan word.

Vir optimale produksie van die ooitrop moet ongeveer 20% van die oudste ooie elke jaar vervang word deur jong ooie. Volgens ons voorbeeld van 1 200 lambare ooie moet 240 ooie elke jaar vervang word. Die 240 is hoofsaaklik ou ooie, maar sluit ook oorslaanooie, ooie met net een speen, ooie wat lam verloor het en ooie met swak kontitusie in.

Tabel 1

Plaasgrootte

6 000 ha

Drakrag

1 op 3 ha

Bestokking

2 000 KVE

60% Ooie

1 200 ooie

3% Ramme

40 ramme

20% Vervanging

240 ooilammers

In Tabel 2 word die effek van lampersentasie op bestokking uitgelig. Een van die belangrikste winsdrywers in boerdery is ‘n hoë lampersentasie met min verliese of vrektes om by ‘n goeie speenpersentasie uit te kom. Produsente praat ook van die “lorriepersentasie” wat verwys na die aantal lammers wat bemark kan word vanaf ‘n spesifieke getal ooie.

Tabel 2

Volwasse ooie

1 200

Lampersentasie

65%

85%

100%

Lammers

780

310 KVE

1 000

400 KVE

1 200

480 KVE

10% Oorloop

80

50 KVE

100

80 KVE

120

100 KVE

Bees/Wild/Perde

?

?

?

Totale KVE

1 820

1 950

2 040

In die geval van ‘n 100 persent lampersentasie, is die 6 000 ha plaas se bestokking binne die langtermyn riglyn van 2 000 KVE. In die bespreking is wel voorsiening gemaak vir 10 persent lammers wat eers later bemark kan word, maar glad nie vir bees, wild of perde op die plaas nie.

Tabel 3 illustreer wat gebeur indien ‘n produsent 2 000 ooie op die 6 000 ha plaas sou aanhou met ‘n lampersentasie van 80 persent.

Tabel 3

Plaasgrootte

6 000 ha

Drakrag

1 op 3 ha

Bestokking

2 000 KVE

Aantal ooie

2 000 ooie

3% Ramme

80 ramme

20% Vervanging

400 ooilammers

Lammers

1 600 = 650 KVE

10% Oorloop

160 = 120 KVE

Totale KVE

3 150

Dit is duidelik dat die plaas vir ‘n groot deel van die jaar 1 150 KVE ekstra moet dra. Indien die ooigetalle nie verminder word nie, kan die weiding nie die kudde se produksie volhoubaar ondersteun nie.

Enkele gevolge van oorbestokking:

  • Onmoontlik om hoë lampersentasie te handhaaf want daar is te min kos vir die ooie

  • Hoër lamverliese binne die eerste 7 dae na geboorte (lae geboortemassas van lammers en ooie het te min melk)

  • Lammers groei swak, laer speengewigte

  • Sukkel om lammers voor 6 maande ouderdom te bemark

  • Lammers het lae uitslagpersentasies by slagpale

  • Weiding gaan verder agteruit (sneeubaleffek)

Wat moet produsent doen om produksie te verbeter:

  • Raak betyds/gereeld ontslae van onproduktiewe ooie om nie drakrag te oorskrei nie

  • Bly verbeter die kudde se kwaliteit deur jaarlikse ooiseleksie en ramaankope

  • Elektrifiseer drade/kampe vir doeltreffender ongediertebeheer, beperk verliese

  • Toets ramme vir vrugbaarheid

  • Haal ramme 2 maal per jaar uit om te verhoed dat ooie in die slegste tye lam

  • Goeie versorging van vervangingooitjies tot op 12 maande ouderdom verseker optimale produksie en reproduksie

  • Verhoed dat jong ooitjies te vroeg gepaar word want dit benadeel toekomstige reproduksie van die ooitjies

  • Lammers moet kruipvoeding kry; lammers word vroeër bemark en ooie kan herstel

  • Korrekte lekaanvulling vir biesmelkkwaliteit en melkproduksie van ooie ten minste 6 weke voor tot 8 weke na lam

  • Doen kruisteling op ‘n gedeelte van u boerdery om voordele van basterkrag te benut

  • Weeg 10 persent van u diere elke keer wat hulle geënt en doseer word

Die uitdaging is om met dieselfde hoeveelheid ooie of met minder ooie, meer te produseer. Pak hierdie uitdaging aan met die beste genetika, die regte bestokking vir u plaas, optimale byvoeding, goeie bestuur en rekordhouding en nuwe tegnologie waar nodig.

  • Print this article
  • Email this article
  • Share this article