Loading...

Genomiese Merkerverrykte Teelwaardes Op Hartebeestloop Veiling

Genomiese Merkerverrykte Teelwaardes Op Hartebeestloop Veiling
Posted by on 8 March 2018 and filed under

Die jaarlikse Hartebeestloop Veiling op Vrydag 18 Mei 2018 bring ongekende vooruitgang in genomiese vordering vir die Namibiese vleisbeesindustrie. Dit sal die eerste keer wees in die geskiedenis van beesveilings in Suider-Afrika dat alle veilingsbulle en meeste van die bulmoeders genotipies tipeer is. Moenie dat hierdie groot woorde jou afskrik nie. Lees verder vir ‘n eenvoudige verduideliking oor hoe Genomiese Merkerverrykte Teelwaardes jou kudde se meriete, prestasie en winsgewindheid beinvloed.

1. Kort geskiedenis van die vleisbeesindustrie:

  • Daar was ‘n tydperk waartydens geen prestasietoetsing gedoen is nie. Die subjektiewe (met die oog alleen) beoordeling van diere was die enigste manier waarmee goeie en slegte diere van mekaar onderskei is. Hierdie beoordeling is gewoonlik gedoen deur persone wat gereken is as goeie boere en beeskenners.

  • Sedert rasse gevorm is, het die prentjie effens verander. Persone wat met ‘n spesifieke soort beeste boer, het bymekaar gekom en rasstandaarde daar gestel. Beeste kon dus uitgeken en ingedeel word in ‘n ras, afhangende of hulle die eienskappe vertoon wat in die rasstandaarde opgeteken is. Persone is dan ook opgelei om as inspekteurs en beoordeelaars vir spesifieke rasse op te tree.

  • Die Bonsmara ras is die uitsondering op bogenoemde. Dit is die enigste vleisbeesras in die werêld wat deur ’n volledige gedokumenteerde kruisteelprogram ontwikkel is ─ met behulp van objektiewe aantekening van prestasiedata. Visuele evaluasie volgens die norme vir funksionele doeltreffendheid en strukturele doeltreffendheid is vanaf die begin geïmplementeer, en word steeds streng toegepas. In kort, die prestasie van die Bonsmara dier word hoër gereken as sy met “die oog alleen” beoordeling.

2. Die huidige tydperk van Prestasietoetsing, BLUP Genetiese Ontledings en Teelwaardes.

  • Fenominale vordering is gemaak in die vleisbeesindustrie deur die 2 basiese elemente van BLUP tegnologie naamlik prestasietoetsing en stambome te kombineer en teelwaardes vir spesifieke diere te bepaal. ‘n Teelwaarde is ‘n aanduiding van die waarde van die bul vir ‘n spesifieke eienskap en die vermoë om daardie waarde na sy nageslag oor te dra. Inkomstes word mos verdien uit die nageslag van die bul.

  • Verpligte prestasietoetsing en DNA bevestiging dat die ouerskap korrek is, is kardinaal tot die bepaling van korrekte teelwaardes. Die Namibiese Bonsmara is tans die enigste ras waar prestasietoetsing en DNA bevestigde ouerskap (verkoopsbulle), verpligtend is.

  • ‘n Dier se teelwaardes is nooit konstant nie. Soos daar nuwe inligting bykom, verander die dier se teelwaardes. In die geval van ‘n bul, sal die teelwaardes verander soos sy nageslag vermeerder en hulle ook weer prestasietoetsing ondergaan. As sy nageslag nie goed presteer nie, sal die teelwaardes van die bul verswak en vice versa.

  • Daar is 2 tekortkominge in BLUP genetiese ontledings

    • Die onvermoë om die teelwaarde van ‘n jong dier akkuraat te bepaal. Die algemene beginsel is dat minstens 3 generasies (‘n beesgenerasie is 3 jaar) prestasie getoets moet wees om sinvolle teelwaardes te kry. Meeste bulle word egter op 3 jaar ouderdom verkoop en dan is die akkuraatheid van hulle teelwaardes oor die algemeen baie laag. Dit verhoog die koper se risiko.

    • Teelwaardes word bepaal deur metings wat gedoen word. Hoe hoër die oorerfbaarheid van die eienskap is wat gemeet word, hoe akkurater is die teelwaardes. Baie ekonomiese belangrike eienskappe soos kalfgemak, vrugbaarheid, langslewendheid en hoeveelheid melk kan eers laat in ‘n dier se lewe suksesvol bepaal word en is laag oorerfbaar.

3. Genomiese tipering en Genomiese Merkerverrykte BLUP Teelwaardes

  • Eienskappe in beeste soos byvoorbeeld groei, vrugbaarheid en karkaseienskappe word deur baie gene beinvloed. Dit staan bekend as multigeen eienskappe. Teelwaardes soos verkry deur die BLUP genetiese ontleding weerspieël die somtotaal van die uitwerking van al die gene wat betrokke is by die bepaling van ‘n eienskap. Die hoeveelheid bydrae wat elke spesifieke geen tot die eienskap maak, kan egter nie bepaal word nie.

  • Aan die anderkant, genotipiese tipering laat toe vir identifisering van geen-merkers (merkers binne of naby gene) en die identifisering van individuele gene wat ‘n sekere eienskap beinvloed. Dit laat ons toe om meer akkuraat en vinniger te selekteer vir spesifieke eienskappe van ekonomiese belang in beeste.

  • Genomiese Merkerverrykte BLUP Teelwaardes is ‘n samevoeging van alle voordele van BLUP Teelwaarders en Geen-merkers in een Teelwaarde.

4. Voordele van Genomiese Merkerverrykte BLUP Teelwaardes

  • Dit verhoog die akkuraatheid en voorspellingsvermoë van die teelwaardes van beeste betekenisvol. Dit beteken dat jy baie meer akkuraat ‘n bul kan uitsoek vir die eienskappe wat jy wil verbeter in jou kudde.

  • Diere kan op ‘n baie jonger ouderdom alreeds geselekteer word of hulle enige bydrae in die kudde gaan maak of nie. Indien die Genomiese Merkerverrykte BLUP Teelwaardes alreeds direk na geboorte aandui dat daar ‘n afwesigheid is van die genetiese merkers, wat jy benodig om prestasie in jou kudde onder jou produksietoestande te verbeter, kan die dier dan alreeds uitgeskot word. Dit behels outomaties dat slegs die heel beste diere gaan oorleef om verder in teling gebruik te word en op veilings gaan kom.

  • Dit behels outomaties dat slegs die heel beste diere gaan oorleef om verder in teling gebruik te word en op veilings gaan kom.

  • Daar is sekere geslagsbeperkende eienskappe soos byvoorbeeld vrugbaarheid wat huidiglik net by koeie gemeet word en groei-eienskappe en voerdoeltreffenheid wat weer net by bulle gemeet word. Genomiese Merkerverrykte Teelwaardes het ‘n hoë akkuraatheid om te wys watter genekombinasie ‘n dier verkry het vanaf sy ouers. “Aard” hy meer na sy pa of ma.

  • Genomiese Merkerverrykte Teelwaardes het ‘n dramatiese invloed op die beesvleisindustrie deurdat dit versnelde genetiese vordering, verhoogde akkuraatheid van “uitkies van regte bul of koei” bevorder en verhoogde seleksie druk op diere toepas. Een van die heel belangrikste voordele is dat generasie intervalle verkort kan word. Dit beteken dat stoettelers die “beter” bulle alreeds op ‘n jonger ouderdom kan uitkies om in die kudde te gebruik. “Beter” in hierdie sinsverband is dat die jonger bul nog beter as die ouer gebruiksbulle sal presteer en nog beter nageslag teel. Hierdie voordeel word dan outomaties oorgedra na die bulkoper se kudde.

  • Genomika en Genomiese Merkerverrykte teelwaardes is alreeds goed beproef in die suiwelindustrie. Onderstaande is wat hulle vermag het in die tydperk 2008 tot 2014.

    • 37% verkorting van generasie interval

    • 71% meer melk, 111% en 81% verbetering onderskeidelik in vet- en proteieninhoud.

    • Mastitis is een van die mees ekonomiese belangrike winsvreters in die suiwelindustrie. Die aantal selle in die melk is ‘n aanduiding of mastitis besig is om te ontwikkel of alreeds aktief is. Genomiese seleksie het hierdie eienskap met 300% verbeter.

    • Langslewenheid en produktiewe lewe van melkkoeie is in hierdie 6 jaar tydperk ook merkwaardig verbeter.

Dit is nie meer ‘n kwessie of Genomiese Merkerverrykte Teelwaardes werk of nie – dit is suiwer ‘n kwessie van hoe gou en doeltreffend ons dit in die vleisbeesindustrie gaan maak werk. My opinie is dat stoettelers nie in een leeftyd van stoetteling hierdie verbeterings in vleisbeeskuddes sal bewerkstelling met die huidige sisteme nie. Slegs die gebruik van Genomiese MerkerverrykteTeelwaardes in vleisbeeskuddes sal hierdie tipe en volume van positiewe veranderinge bring. Hartebeestloop Bonsmaras het klaar die besluit geneem om deel te wees van die genomika-rewolusie in die verbetering van die vleisbeesindustrie. Behalwe vir die 2018 veilingsbulle en die bulmoeders het ons ook alle gebruiksbulle en alle koeie wat ‘n betekenisvolle bydrae tot die kudde maak, genotipies laat tipeer. Hierdie voordeel word in sy geheel oorgedra na kopers van beeste op die veiling. Onthou genetiese vordering is permanent en syfer deur in kuddes soos hierdie diere met goeie Genomiese Merkerverrykte Teelwaardes gebruik word.

Dit sal vir ons almal op Hartebeestloop baie lekker wees om jou op die Boeredag en Veiling te verwelkom. Al is jy nie ‘n voornemende koper nie, om kyk gerus hoe ons die nuutste wetenskaplike tegnologie kombineer met aanpasbaarheid, strukturele korrektheid en fenotipiese doeltreffendheid.

  • Print this article
  • Email this article
  • Share this article