Loading...

Wentscher Poultry Farm

Wentscher Poultry Farm
Posted by on 1 August 2015 and filed under

VOORWOORD

Die steeds groeiende eierbedryf in die land het die Feedmaster-suksesverhaalspan hierdie keer gelei na een van die oudste hoenderboerderye in die land – Wentscher Poultry Farm. Dié familiesaak brei al die afgelope 45 jaar uit en steeds is dit nie die einde nie met nog ’n hoenderhuis wat in die vooruitsig gestel word. In totaal word 50 000 lêhenne tans in die agt hoenderhuise gehuisves op die twee kleinhoewes, Wanscha en LM, buite Okahandja. Van die hoendermis word twintig ton kompos maandeliks vervaardig. Marietjie van Staden van-Agriforum-en voedingkundige Dala du Plessis het die intensiewe boerdery van nader bekyk en ook gehoor van die belowende toekoms vir eiers – die goedkoopste proteïenbron met die mees perfekte samestelling.-

EIERPRODUKSIE KOM ‘N LANG PAD VIR WENTSCHER POULTRY FARM-

Wentscher Poultry Farm by Okahandja is sinoniem met die eierbedryf in die land – al 45 jaar lank en die naasoudste in die land.-

Dit is hier waar Peter Wentscher, gebrei deur nagmerrie-ervaringe soos die Tweede Wêreld­oorlog in Duitsland en die vlugtog uit Oos- na Wes-Duitsland, op 12 jaar met net ’n rugsak op sy rug en nog ’n sak in sy hand, in 1967 begin nes skop het om uiteindelik ’n vooruitstrewende eierprodusent te word. Op 84 jaar word hy deesdae deur sy dogter en haar ge­sin in die familiesaak ondersteun. Omvattende landbou-opleiding in Duitsland, in onder meer hoenderboerdery, het handig te pas gekom. Op nog ’n flukse, flinke gang met ’n kierie in die hand vertel hy van die nederige begin van 8 000 lêhenne wat nagenoeg 7 000 eiers per dag gepro­du­seer het teenoor vandag se 50 000 lêhenne met ’n produksie van sowat 45 000 eiers per dag. En met die jonger lede in die familiesaak word nog uitbreidings beoog.-

Oor die meer as vier dekades het Peter, of Piet soos hy op Afrikaans heet, baie vooruitgang beleef. “Die produksieleeftyd van lêhenne verleng elke jaar met 2,5 dae danksy genetie­se vordering waarvoor die internasionale hoenderbedryf bekend is. Dit bring mee dat die piekproduksie-leeftyd van die aanvanklike 30 weke nou al verby 40 weke trek.” Peter voeg by dat ou toerusting net een eier op ’n slag kon weeg en deesdae se menere tussen 8 000 en 9 000 eiers per uur kan hanteer. Selfs behuising vir die lêhenne het aansienlik verbeter, voeg René Werner, sy kleinseun by. “Hokke van hout en sink het vroeër aan pale gehang. Deesdae is behui­sing van staal op stewige staanders en baie meer kiem- en brandbestand as hout. Die outomatisering van voerders en waterlyne het eier­produksie ook aansienlik vergemaklik.” René sien om na die hoenderboerdery en komposvervaardiging, sy ma Sybille doen die boekhouding, sy pa Jürgen staan aan die ­stuur van instandhouding en sy suster, Gerlind, is deeltyds verantwoordelik vir die winkel waar henne wie se produksieleeftyd verstryk het en eiers verkoop word. René is ook ’n bestuurslid van die Pluimveeprodusentevereniging.-

Aanvanklik is kuikens van voorsieningspunte in Suid-Afrika ingevoer, maar deesdae word jong lêhenne van 17 weke oud ingevoer. Volgens René is die henne op dertig, veertig weke op hul produktiefste – tot bo 90% – waarna hulle stadig afplat tot 70% op 75 weke en lewend vir die pot verkoop word. Elke 65 weke oftewel ’n jaar en drie maande, min of meer die produksie­leeftyd van ’n lêhen, word vervanging gedoen met tussen 8 000 en 14 000 henne wat vier keer per jaar (sowat 40 000 per jaar) vir die agt behuisingseenhede op die twee kleinhoewes ingevoer word.-

So het Peter ook rasse sien kom en gaan. “Aanvanklik het ons met Amberlink-lêhenne begin, toe was dit die Tokai en deesdae is dit die Lohman, afgelei van die Duitslandse maatskappy se naam wat die ras ontwikkel het en waar ek as ’n jong man drie maande lank praktiese ervaring vir my opleiding opgedoen het.”-

Verpakking sien ook heel anders daaruit. Peter het aanvanklik net dosyn-verpakkings bemark. Later het verpakkings vir dertig eiers en toe agtien eiers gevolg vir die verskillende groottes –-medium,-large,-extra large-en-jumbo.-

In totaal sien 23 mense om na die hoenderboer­dery en komposvervaardiging. In die sortering- en verpakkingsaanleg hou ses werknemers die wiele aan die rol, nog agt versamel eiers en maak die hokke skoon en ’n bykomende vier voer die 15 000 hoenders in die ses ou lêhuise wat nie geoutomatiseer is nie. Twee voltydse huis­hulpe is ook in diens vir die vier huishoudings.-

Voeding ’n prioriteit-

Voeding, ’n hoofpilaar in hoenderboerdery en die grootste uitgawe op ’n hoenderplaas wat 60% van die produksiekoste uitmaak, het aanvanklik gelol, vertel Peter. “Toe ek in 1970 eiers begin produseer het, het die destydse aanleg van Omruvoere op Omaruru nie veel van hoendervoer geweet nie. Wel baie van beeslek. Met my kwalifikasie van Duitsland kon ek ’n boek met formules vir die samestelling van hoendervoer aan hulle voorlê. Ek het toe saam met twee manne van Omruvoere koppe bymekaar gesit vir ’n voermengsel. Maklik was dit ook nie in daardie jare om die grondstowwe uit Suid-Afrika te kry nie. Voer en lek is destyds sommer met grawe gemeng. Ongelukkig het ek die boek nooit teruggekry nie, maar intussen het die wetenskap en nuwe navorsing aanpassings tot gevolg gehad. Maar net vir die sentiment ...”-

Die Wentscher-familie is opgewonde oor die goeie kwaliteit voer wat hulle van Feedmaster kry sedert dié maatskappy se ontstaan 32 jaar gelede. “Ons gebruik Lêmeel 105. Niks skort met die hoenders se gesondheid en produksie nie. Die outomatiese voerbande loop vyf keer op ’n dag om die bakke vol voer te hou. Water is ook altyd beskikbaar,” sê René. Feedmaster voorsien die volle reeks van vier hoendervoer­produkte vir verskillende behoeftes, naamlik Lêmeel 95, 100, 105 en 110.-

Oupa en kleinseun verduidelik verder dat water die gehalte van ’n eier bepaal. “Ons boorgat lewer artesiese water en het die top-gradering van A in laboratorium-toetsing gekry. A en B is geskik vir mens- en diergebruik, C net vir diere­ en plante en D vir niks en niemand nie. ’n Pyp­leiding van 1,3 km van die LM-kleinhoewe voorsien water aan die Wanscha-kleinhoewe.”-

Eierkwaliteit is op sy beste as die wit ferm en nie loperig is nie wanneer jy ’n eier oopbreek. Die kleur van die geel word deur voer bepaal. Die besondere sterk geel van ’n plaaseier word toegeskryf aan hul deurmekaar dieet. Hulle vreet tot hul eie mis, maar ook kombuisafval met selfs vleis in, goggas, wurms en gras, sê voedingkundige Dala du Plessis van Feedmaster. Dit is ook ’n bekende feit dat plaashoenders makliker siektes aan mense oordra as dié van intensiewe boerderye waar streng beheer oor voeding en siektes gehandhaaf word.

’n Lêhen verbruik sowat 114 gram voer en tussen 200 en 250 ml water per dag. Lêhenne word elk teen 50c per dag gevoer. Vir die 50 000 lêhenne is die voerkoste N$26 000 per dag. Gereken teen ’n lêpersentasie van sowat 85% produseer’n lêhoender in haar produksie­leeftyd van 60 weke sowat 355 eiers ofte­wel 30 dosyn. Eierproduksie per hen is gemiddeld 0,8 per dag.-

Die toekoms en uitdagings

Die feit dat eiers nie geklop kan word as die goedkoopste bron van proteïen nie en boonop oor die mees perfekte proteïen-samestelling beskik, bring mee dat die vraag daarna sal bly toeneem namate die bevolking groei, sê René. “Mense verdien ook al meer geld, wat eiers ’n gewilde produk in die verbruikersmandjie maak. En feitlik alle bakgeregte het eiers as ’n bestanddeel.” Teen hierdie agtergrond en navrae vir verhoogde lewering, beoog Went­scher Poultry Farm nog uitbreidings in die nabye toekoms – ’n bykomende hoenderhuis wat nie geoutomatiseer is nie teen ’n koste van sowat N$500 000. ’n Kapitaaluitleg van sowat N$1,5 miljoen is nodig vir ’n vol geoutomatiseerde hoenderhuis.-

Die grootste uitdaging in ’n hoenderboer­de­ry is volgens René siektes. “Dit kan gebeur dat ’n hele hoenderhuis van 8 000 henne binne twee dae doodgaan. In die 45 jaar van hoender­boer­dery het ons nog nie groot verliese gehad nie, maar soos in enige intensiewe boerdery, ook varke, bly vrektes ’n groot risiko. Die algemeenste siektes is Newcastle en brongitis.” So het ’n uitbreking van Newcastle-siekte in 2006 in Suid-Afrika ’n afname in plaaslike produksie en ondervoorsiening tot gevolg gehad toe lêhenne net van enkele goedgekeurde Suid-Afrikaanse plase kon kom.-

“Die lêhenne wat ons van Suid-Afrika in­voer, is almal besmet met-mycoplasma synovia, wat hulle meer vatbaar vir infeksies maak. ’n Voorkomende gesondheidsprogram word in dié verband gevolg met ’n ligte antibiotikum wat een keer per maand by die hoenders se water gevoeg word. Die gehalte voer van Feedmaster help ook vir beter weerstand,” sê René.-

Mortaliteit is hier op die normale vlak van 0,1%.-

Terug op ou spore-

Die gebruik in die sowat ’n dekade ná die Tweede Wêreldoorlog was om vakkundiges uit Duitsland na Namibië in te voer om hul kennis hier in te ploeg, vertel Peter. Die destydse Suid-Afrikaanse wetgewing het bepaal dat hier­die mense minstens vyf jaar in diens moes wees van die werkgewer wat hulle laat kom het. Die reël was natuurlik nie van toepassing op diegene wat geld gehad het om hier ondernemings te kom vestig nie. “So het ek op 23-jarige ouderdom by die Mertin-familie van Gocheganas beland – in daardie jare ’n plaas van 20 000 ha. Hulle was saam met die Voigtse die groot boere in die land en almal perdesport-liefhebbers.”-

Peter was 15 jaar oud toe hy skool verlaat het en van boerdery begin leer het by ’n landboukollege in Duitsland – varke, melk, vleisproduksie, akkerbou en hoenders. In die praktyk het gesoute boere en agri-ondernemings hulle verder touwys gemaak.-

In die eerste drie jaar op Gocheganas het Peter infrastruktuur geskep. “Ek het damme gebou, paaie gemaak, draadspore gesny en later op kontrak vir ander boere, tot in die ooste van die land, op die Caterpillar werk gedoen. Die laaste twee jaar was ek betrokke by die melk- en beesboerdery. In daardie jare was 800 melkkoeie in produksie en het ons ’n driekwart ton gouda-kaas weekliks vervaardig. ’n Koedoekop was deel van die handelsmerk.”-

In dié tyd het hy ook sy toekomstige vrou, Gisela Hohman, ontmoet wie se ouers, Ernst en Emmi, by Wilhelmstal geboer het. Haar ma was ’n Boost, ’n bekende familie in die land, met ’n huis op Swakopmund wat steeds dié van vertoon. Nog vier jaar van boer vir ander boere sou volg – eers in die Seeis-omgewing vir Erna Schmidt en toe vir Henner Volkman in die mieliedriehoek. Beesboerdery en die aanplant van mielies en bone was toe sy werk.-

“Met ’n ou Volkswagen, ’n vrou en twee kinders het ek op die ou end op Okahandja beland waar ek die eerste bestuurder van die Reit Klub was. Ek en my vrou het hier ons skoene vir amper vyf jaar vol gestaan. In daardie tyd het ek die Wanscha-kleinhoewe gekoop. Behalwe vir ’n verwaarloosde drievertrekhuisie was daar niks nie. Ek het oor naweke en vroeg soggens voor invaltyd die huis reggemaak en vergroot en la­ter nog ’n huis gebou waarin my afgetrede skoonouers gewoon het. Ek het besluit om eiers te produseer en het ’n kuikenhuis en behuising vir die lêhenne gebou. Ons het ons eerste eiers drie jaar later in 1970 bemark – aan winkels op Okahandja en in Windhoek.”-

Om Saterdae en Sondae “nie leeg te lê nie en my uit die kwaad te hou”, soos Peter sê, het hy deeltyds begin boer op huurgrond. Dit het hy 14 jaar lank gedoen en in ’n stadium 120 koeie gehad. Dit het hom baie gehelp om die hoenderboerdery te vestig en vorentoe te kom. Vir nog tien jaar was hy die lewendehawe-agent op Okahandja vir die boere­koöperasie, wat toe BSB en later BKB was, nog voor Agra se tyd, wat ook gate help toestop het.-

Peter vertel: “Ons was aanvanklik net drie eierprodusente in die land – Waldschmidt by Brakwater oor wie se skouer ek gaan loer het toe ek begin het en op kleiner skaal die Langs van Omaruru, wat nie meer eiers produseer nie. Intussen het Osona en Bokomo as groter rolspe­lers toegetree, en kleiner produsente aan die kus waaronder Riverside, Rosenthal en Desert Chicken.”-

Só is daar uitgebrei

In 1992 het Peter se seun, wyle Gerd, hand kom bysit tot middel 2009 toe hy tragies dood­geskiet is in ’n rowersaanval op die kleinhoewe. Die Pluimveeprodusentevereniging waarvan Gerd die stigtervoorsitter was, was ook sy inisiatief. Peter vertel trots hoe sy seun die boerdery vinnig uitgebrei het tot 20 000 lêhenne, wat hy beskou het as die minimum vir winsgewendheid. Die bou van skure en hokke verg heelwat kapitaal wat saam met die hoë koste van voer, vervoer en perso­neel nie ’n kleinskaal-boerdery toelaat nie. Intussen het die familie nog ’n kleinhoewe, LM, bygekoop waar drie geoutomatiseerde hoenderhuise vir onderskeidelik 10 800, 11 200 en 12000 lêhenne verrys het.-

Ter wille van diversifikasie en waardetoe­voe­ging het Gerd in 2008 ook begin met die vervaardiging van kompos uit hoendermis waarvoor hy twee kursusse in Suid-Afrika voltooi het. ’n Winddraaier wat deur ’n trekker aangedryf word, dien vog toe, sorg dat die komposhope genoeg suurstof kry tydens die omkeerpro­ses (twee maal per week) en versnel ontbin­ding. Die hope kompos lê vir sowat drie tot vier maande voordat dit verpak en versprei word. “Ons koop nie hoendermis in vir die vervaardiging van kompos nie. ’n Mens koop net siektes in. Ons bemark nagenoeg 20 ton kompos maandeliks aan die akkerbouers in die noorde, hoofsaaklik vir mielie- en tamatie-aanplantings, en aan kwekerye in Windhoek, op Otjiwarongo en op Swakopmund,” sê René. Dié kompos is on­kruid­vry en van die beste vir tuinbou.-

’n Mooi saamstaan

Uit die gesprek met Peter en René was dit duidelik dat eierprodusente in die land hande vat en mekaar ’n onselfsugtige markaandeel gun – nog ’n rede waarom dit goed gaan in die bedryf en ’n goeie toekoms voorspel word. Sukkel dit in tye van ondervoorsiening om in die vraag van kliënte te voorsien, help hulle mekaar uit met voorraad. Daarby het die eierbedryf die voordeel van geen middelmanne nie. Bemarking en die vervoer van eiers na hul eindbestemmings word self deur produsente behartig, wat die winsgrens hoër maak. Tans voorsien eierprodusente in die land in meer as 80% van die plaaslike markbehoefte.

  • Print this article
  • Email this article
  • Share this article