Loading...

'N Sakeman-Boer Wat "Oop Loop" Sonder Vernis

'N Sakeman-Boer Wat "Oop Loop" Sonder Vernis
Posted by on 1 August 2016 and filed under

‘n Plaasnaambord wat jou dwing om stil te hou en goed te kyk. Oor dié spotprent skerts Pieter von Wielligh dis hoe die manne in die ou dae geboer het. Ooploop Boerdery het sy oorsprong in die feit dat dit lekker is vir Pieter om te boer. “As iets lekker is, sê ons mos dit loop oop. Dit klink ook soos ‘n besigheid wat loop en nie stilstaan of kwyn nie.” Nooitgedacht Nr 112 was die oorspronklike titelakte van die plaas op ou kaarte. Pieter het besluit om dié naam op die bord aan te bring omdat hy “nooit gedink” het hy sou die grond koop nie. “Ek het maar net op die veiling rondgestaan vir interessantheid. Toe is die plaas nie verkoop nie. Dieselfde dag het ek die kooptransaksie beklink.” Daarby is ‘n titelakte geregistreer van nog ‘n Vogelstruispan, die plaas se eintlike naam, naby hom. “Die twee name op die plaasnaambord loop vir my mooi saam,” sê hy.

Vir ‘n man wat onder en weer begin het, het Pieter von Wielligh dit al ver gebring, want hy het ‘n visie om suksesvol te wees, al verg dit berekende risiko’s – ‘n veld wat hy goed ken in sy loopbaan in korttermyn-versekering. Net so glo hy jy moet ‘n passie vir boerdery én die lewe hê “anders vat jy ‘n ent mis”. Hy vertel sy loopbaan in boerdery het vir hom in standerd twee begin en kleur die prentjie woordryk in, net soos hy kan. Deesdae is hy ‘n bekende Boerbokteler met ‘n sterk kommersiële boerdery van Dorpers, Wit Dorpers, kruisings met Van Rooy, Persie-skape, Bonsmara-beeste en wild. En hy het geluister na sy ma wat sy oorlede pa aangehaal het: Om die krale vol te boer en nie vol te koop nie. “My pa se sêgoed en humor bly my vandag nog by.” ‘n Voorvereiste vir hom is dat infrastruktuur in plek moet wees voordat jy begin boer. Daarby glo hy aan boer met die oog – vir korreksieparing en om weidingstand te bepaal. In mense sien Pieter ‘n ongelooflike bate – of dit die rolmodelle in sy nasionale rugbyloopbaan was of later jare die leermeesters wat hom gehelp het en steeds help om beter te kan boer. Die grootste bate is natuurlik die mense aan wie jy as stoetteler jou diere bemark. Lees hiernaas wat die ondeunde en pittige, maar ook ernstige Pieter te sê gehad het tydens Marietjie van Staden van-Agriforum-en Danie de Lange van Feedmaster se besoek aan sy plaas Vogelstruispan op die Kalk buite Mariental.

“Ek verf niks blink nie, want dan is die veiling naby,” skerts Pieter von Wielligh terwyl hy na sy netjiese, maar onopgesmukte laaibank beduie. Die bord wat sy plaasnaam, Vogelstruispan, so komies uitbeeld, vertel grappige vermaak wag hier, behalwe vir groot erns met boerdery – Boerbokteling, ‘n kommersiële skaapboerdery met hoofsaaklik Dorpers, Wit Dorpers, Persie-skape, Bonsmara-beeste, en deesdae ook wildteling.

Eiesoortig aan Pieter is om sy diere kostelike name te gee. Wie sal ooit sy Gatskop-Boerbokram vergeet wat in 2006 as die Windhoek Skou se eerste “champion of champions” van die kleinvee aangewys is? Dit was een van Pieter se laaste skoue omdat sy eintlike beroep as sakeman te veel tyd begin verg het. Nog sulke lekker-op-die-oor-val name wat hy vir sy ramme gegee het, is Tipex wat teelfoute moes “uitvee, Hannon vir daardie skoongesig-ram, Joker en Bullet. Vernoemings was daar ook na Pohamba, voormalige president van die land, en Bi-Lo, ‘n restaurant op Upington.

So met die rondstaan by die krale vertel hy van sy ma wat op ‘n dag met hom geraas het: “Jou pa het gesê jy koop nie jou krale vol nie, jy boer hulle vol. Jy luister mos as jou ouers praat en toe boer ek maar. Met erns.”

As plaasseun van die Karasberge, vertel Pieter, het hy eintlik al in standerd twee begin boer. “Dit was toe ek ook my eerste briefie huis toe geskryf het. ‘n Poenskop-bokram het van die lorrie afgeval, maar hy was nog pure ram en het een van my pa se top-ooi gedek. Toe kom ‘n poenskop-tweeling. Ek wou opsluit daardie lammers hê en het mooi daarvoor gevra in my briefie. My passie vir boerdery het vir my daar begin. Later het ek ook so ‘n wollerige bont skaaplam, ‘n Swakara- en Afrikaner-kruising, by my pa gekry vir wie ek so lief was dat hy saamgeboer het. As die plaasbakkie se wiel gedraai het, moes hy saam klim.”

Mettertyd het Pieter sy twee boklammers vir skape geruil en so ‘n boerderytjie opgebou. “In 1990 het ek alles verkoop. My broer het die grond oorgeneem en daar was nie meer plek vir my diere nie.”

Ná ‘n jaar in die onderwys op Mariental het die boerdery-gogga weer gebyt. Hy en kollega Bertus Roux het op huurgrond sowat vyftig Dorper-ooitjies aangehou. Naweke het van die leerlinge alte gretig saamgegaan plaas toe om skaap te werk en saam ‘n worsie op die kole te geniet. “Die einde van dié boerdery op die plaas Pronto teen die asgate was toe dorpshonde ‘n derde van my boerdery doodgebyt het. Dit was ‘n Desember-vakansie en ek was in die Kaap. Ek wou toe al wat ‘n hond is skop, ook sommer die Kaapse honde.”

Die verlies het hom nie gestuit nie. Hy het grond verder van die dorp begin huur by Job Louwrens en was toe reeds in die versekeringswese. Dit is toe dat sy boerdery momentum begin kry het nadat hy ‘n paar bokooie by sy broer, Retief, gekoop het en ‘n klompie skape op uitstel. “Die uitstel-besigheid het my op die been gehelp, maar ook my besluit om die hand van kenners te vat om my in seleksie by te staan. In die beginjare was dit Danie de Lange van Feedmaster, toe die Upingtonse konsultant Daan Bosman en deesdae die Dorper-pionier Paul Klein wat naby hom boer. ”

Eie grond en geleggings in goeie genetika het gevolg – Kosie Esterhuizen se Wit Dorpers en Boerbokramme van Dirk Louw. “Later het ek en Dirk ‘n ruiltransaksie aangegaan met Wit Dorpers van my vir Boerbokke van hom. Die Van Rooys het ek by Henry Cohen gekoop vir kruisteling met die Wit Dorpers. In 2007 het ek my eerste Bonsmaras by Joggie Briedenhann gekoop. Ek is maar ‘n man wat hou van my suiwer rasse. My keuse het op die Bonsmara geval omdat ek van rooierige beeste hou en bewus was van Joggie se goeie genetika. Verder doen ek korreksieparing met die oog waarvoor ek die beste vroulike diere uitsoek en hoop vir die beste. Gatskop is ‘n goeie voorbeeld. Jy weet, ‘n blinde hoender kan ook raak pik!”

Danksy spekulasie in eiendom op Mariental kon Pieter grond koop en weer verkoop om op die ou end sy huidige twee plase, Vogelstruispan en Barenklau, nader aan mekaar te hê. “Anders boer jy uit die hand en bestuur is net moeiliker. En elke keer as ek ‘n plaas gekoop het, het ek eiendom op die dorp verkoop om die deposito van die nuwe plaas te kan neersit.” Eers het hy vir Querida (4 000 ha) op die Kalk in 2001 gekoop wat hy die volgende jaar verkoop het om Barenklau (3 000 ha) in 2002 aan te skaf. In 2003 het Paradys se 2 265 ha tussen Stampriet en Aranos gevolg wat hy weer verkoop het toe hy Vogelstruispan met sy 6 394 ha einde 2009 aangeskaf het.

Deesdae is Pieter sommer ‘n sterk boer wat onder meer ‘n goeie mark vir sy Boerbok-teelmateriaal in Zambië het wat hy uit sy stoet-ooikudde van by die 305 teel, ‘n Bonsmara-beesboerdery van 105 koeie, ‘n skaapboerdery van 1 300 ooie (Dorpers en Wit Dorpers met laasgenoemde wat hy nou met Van Rooy-ooie begin kruis), so by die 130 Persie-skape en deesdae ook ‘n wildteel-boerdery met kleurvariante en eksotiese spesies. “Die Persies het ek minder gemaak, want die jakkalse laaik daai vetjies net soos ek.”

Hy bemark tot 90% van sy slagbare lammers plaaslik, hoofsaaklik by Farmers Meat Market op Mariental en onlangs ook by Brukarros, en die B- en C-grade op veilings in die najaar. Sowat tweehonderd skaaplammers per jaar gaan Suid-Afrika toe. Die beeste verkoop Pieter uit die hand of op veilings. Wild sal eers van vroeg volgende jaar beskikbaar wees.

Sy beleid is om-met minder diere meer vleis te produseer. “Dis waarheen ek op pad is ... om die produk te lewer wat die mark soek, en op die regte tyd natuurlik.”

Soos die meeste suideboere het Pieter erge sonde met die jakkalse. “Van verlede jaar Februarie tot vanjaar Junie het ons twintig jakkalse en twee rooikatte doodgemaak. Die koste om ‘n helikopter te ontbied en roepers en skuts te kry, het op nagenoeg N$50 000 te staan gekom. Lammerverliese is nie ingereken nie. Die groter konsentrasie van roofdiere het my nou genoop om van die heinings te elektrifiseer. Dit is ‘n groot kapitale uitleg, maar ‘n belegging vir die toekoms, ook om die vee beter te bestuur.”

Pieter glo, soos baie boere, dat die toename in vlakvarke vir die jakkals-ontploffing verantwoordelik is omdat hulle die pad onderdeur drade vir die roofdiere oopmaak. Hy voeg egter by dat beter kommunikasie in sekere mate meebring dat boere deesdae meer van mekaar se roofdierskade bewus is. “Samewerking van bure is ‘n baie belangrike aspek in roofdierbeheer,” beklemtoon hy.

Die groot meneer met sy lekker-op-die tong-val naam, Gatskop, wat vir Pieter von Wielligh groot roem as teler besorg het. Dié goeie teelram is as die Windhoek Skou se eerste-champion of champions-van die kleinvee in 2006 gekroon en was ook die junior en die grootkampioenram. Gatskop kom van vaderskant uit die bekende Fyfie-bloedlyn en van moederskant uit die 1406-bloedlyn van Dirk Louw. Pieter is ook ‘n senior Boerbok-keurder, maar kom nie meer daarby uit nie vanweë sy bedrywige skedule as streekbestuurder van Hollard Insurance.

Die tipe Boerbokramme wat Pieter von Wielligh teel. Hy bemark sy Boerbokke jaarliks op twee Namboer-veilings in April en November in Windhoek saam met mede-teler Danie Buys. So drie keer per jaar stuur hy ook ramme en ooie na Zambië waar hy vir hom ‘n goeie mark opgebou het. Nog markgeleenthede hoër op in Afrika word ondersoek. Pieter sê vir die Namboer-veilings het hy en Danie ‘n ooreenkoms. “Ek bemark groter in April en hy in November, of andersom. Ek sit sommer ook ‘n paar Wit Dorpers, Dorpers en Persie-skape by.”

‘n Trop Boerbokke

Wit Dorpers maak deel uit van Pieter von Wielligh se kommersiële skaapboerdery. Soos in die verlede gaan hy weer met kruisteling met die Van Rooy eksperimenteer, maar eintlik is hy ‘n voorstander van suiwer rasse.

‘n Paar suiwer Bonsmaras wat getuig van Pieter von Wielligh se beleid om in goeie genetika te belê.

Diversifikasie met wild

“Dié kommoditeit bring vir jou meer geld in per bek. Só kan jy met baie minder bekke op die veld ‘n hoër inkomste verdien,” gesels Pieter. Hy wys op aanvanklike beleggings wat hoog is. “Bespiegelinge is dat die wildbedryf gaan platval, maar dit is weer eens ‘n kwessie van risiko waarvoor party boere kans sien en ander nie. Al sak die prys vir ‘n swartspringbok tot N$3 000, is dit steeds vyf keer meer werd as die gewone springbok. Daal die prys vir ‘n goue gemsbok tot N$50 000, is dit nog steeds 15 keer meer as vir ‘n gewone gemsbok.”

Volgens Pieter hou wildteling die voordeel in dat jy dit suksesvol met jou kommersiële veeboerdery kan kombineer. ‘n Liefde vir wild het hom in 2007 laat besluit om ‘n paar gemsbokke te koop, “maar almal is binne ‘n week dood weens wanbestuur van my kant af – nog ‘n duur les in boerdery”. Sedert 2011 het hy stadig begin belê in wild, maar omdat dié bedryf van hom nog in sy kinderskoene is, doen hy nog nie bemarking nie.

Kleurvariante op sy grond is goue gemsbokke, witblesbokke, goue wildebeeste asook wit, koper en swart springbokke. Dan is daar ook eksotiese spesies soos njalas en letchwes asook gewone wild waaronder blesbokke, koedoes, elande, springbokke en swartwildebeeste.

Vir sy wildboerdery het Pieter von Wielligh ‘n spesiale passie.

Weidingbestuur en voeding

Een van die duurste lesse wat hy nog geleer het, was oorbestokking, sê Pieter. “So het ek in 2002-2003 en 2012-2013 amper my gat gesien op Barenklau omdat ek kwaliteit afgeskeep en te veel voete op die grond gehad het. Deesdae bestok ek lig en pas ek ‘n wisselweidingprogram toe. Sondagmiddae ry ek deur die veld en hou boek van die weidingstand, want alle kampe kry nie dieselfde hoeveelheid reën nie. Dit sien ‘n mens dikwels eers wanneer die grasse al taamlik uitgegroei is. As die fyn veld min is, skuif ek my diere. Dit is nou botseisoen en as die eerste reën geval het, skuif ek die diere tussen kalk en sand. In die reënseisoen skuif ‘n mens uiteraard jou diere meer en kry raad by hardebaard boere wat na aan die natuur ‘n lewe maak.”

Intussen het Pieter die waarde van grasboerdery besef en vir hom in 2014 ‘n tweedehandse trekker, ‘n bossieslaner en ‘n baler gekoop. “Die skure het vol gestaan van gras. Ek sny in die sand tussen die duinstrate en kon eintlik 10 000 klein ronde bale afhaal as ons vroeër begin het. Ek kon darem die skuur volpak en het omtrent nog 2 500 bale oor. Toe vernietig ‘n veldbrand boonop die oorblywende weiding in die najaar.”

Maar weiding, hoe goed ook al, moet aangevul word met lek, glo Pieter. “Die advies van voedingkundiges, in my area is dit Danie de Lange, is van onskatbare waarde. Daarom gebruik ek feitlik net Feedmaster-produkte. Op aanbeveling van Danie het ek die afgelope twee maande die skape wat bemark moes word Bosverteerlek op die Kalk gegee en die hele vrag, behalwe drie, het top gegradeer.”

Vir sy bokooie en lammers (afronding) gee hy Breker 12 ná lamming saam met lusern in die krale. “Ek het geen afhokstelsel vir die Boerbokke nie. Hulle word in klein kampies gesit ná lamming en dan na groter kampe geskuif voordat hulle weer uitgaan veld toe. In die droë seisoen kry die diere Droëveldkonsentraat. Ek gee dwardeur die jaar aanvullings en glo gesonde diere produseer beter. Doseer- en inentingsprogramme word daarom ook streng gevolg.”

Vanweë die variasie in weiding van kalk en sand gebruik Pieter op die kalk Bosverteerlek vir sy diere en in die sand Droëveldkonsentraat en sout.

“En gooi nie die kameeldoringpeule en die witgatte se bessies in die najaar en sy groenlote in die voorjaar weg nie. Dit is goeie kos vir vee en wild.”

Oor bosindringing wat die suide nie spaar nie, vertel Pieter van sy kopseer met die prosopisbome. “Ek het hulle al so ‘n bietjie aangeval, maar het nog nie ‘n oplossing nie. Die bosdoderkorrel werk baie meer doeltreffend om die soetdorings pak te gee.”

Geseën met goeie grasveld. Gha-gras in die duine, dis nou daardie grys polle, sorg saam met lang- en kortbeen-Boesman, blinkaar, suurgras en die goeie haasgras op die Kalk vir goeie kos.

Infrastruktuur ‘n prioriteit

“Sit eers jou infrastruktuur in plek. Dan kan boerdery volg, waarmee jy ook al boer.” Dit is hoe sterk Pieter oor dié belangrike aspek van boerdery voel. Hy glo as infrastruktuur goed gevestig is, is dit op lang termyn die moeite werd.

In al die kampe vir vee en wild het hy dubbele waters aangebring sodat die diere minder energie gebruik deur korter afstande na die waters af te lê, maar ook om veldvertrapping te bekamp, veral in kampe met baie wild.

Kampgroottes wissel aansienlik – van die ou volstruiskampies se 50 ha wat omgeskakel is na bokkampe tot 446 ha waar die beeste is. Intussen het Pieter sonkragpompe by die ses boorgate op Vogelstruispan aangebring. “Bestuur en onderhoud is net soveel makliker as windpompe.”

Pieter vertel dat goeie water ‘n groot bate is. So het hy een pomp by die opstal op 35 meter wat vier damme, twee huishoudings en die ablusiegeriewe van die werkers bedien. ‘n Bystand-pomp staan gereed vir wanneer ‘n fout insluip by die hoofstelsel of onderhoudswerk gedoen word.

Om die baie water doeltreffend te benut, beoog Pieter spilpunt-besproeiing op 1,2 ha waar hy lusern en beweibare gras vir sy diere wil plant. “Ons weet mos hoe lyk droogte. Ons moet die spens so vol as moontlik probeer hou.”

Netjiese, nuwe infrastruktuur wat hy op Vogelstruispan aangebring het, sluit in vier drukgange met krale en twee laaibanke vir onderskeidelik beeste en kleinvee by die opstal. Dan is daar ook nog die elf watertenks wat met pypleidings bedien word en elkeen het minstens drie krippe. In totaal is daar 27 krippe. Pieter het pypleidings van 6 km bygesit en die langste pypleiding is 1,5 km.

Op Barenklau het Pieter agt nuwe wildskampe ingerig. Dié grond wil hy heeltemal wildwerend omhein.

Sonkragpompe het windpompe vervang by die ses boorgate op Vogelstruispan en Barenklau. Elke pos het ook twee waterpunte sodat die diere minder energie gebruik oor die korter afstande en vertrapping terselfdertyd voorkom word. Op die foto is een van nege watertenks wat met pypleidings bedien word. By elkeen van hierdie tenks is minstens drie krippe.

Vier drukgange met krale maak veewerk op Vogelstruispan makliker.

Van die nuwe infrastruktuur wat Pieter von Wielligh op Vogelstruispan aangebring het, is twee laaibanke vir onderskeidelik kleinvee en beeste by die opstal.

Sport en rolmodelle gee goeie greep

Pieter vertel rugby het ‘n groot rol in sy lewe gespeel. Hy het van 1991 tot 1996 aan en af vir Namibië gespeel – meer seweman as vyftiental waar hy as agsteman uitgedraf het. Sy broer, Retief, was vir ‘n hele paar jaar as agsteman in die nasionale rugbyspan. “Enige sport leer ‘n mens selfdissipline en tydsbestuur, en verbreed jou horisonne. Ek kon toe ook wyer begin kyk as Keetmanshoop, waar ek skoolgegaan het.” Later jare, in die versekeringswese, het Pieter meer geleer van tydsbeplanning en risikobestuur, wat hy ook met groot sukses in sy boerdery toepas. Hy is die afgelope twee jaar Hollard Insurance se streekbestuurder in die land.

“In rugby het ek opgekyk na die top-spelers en in boerdery het ek ewe goeie voorbeelde gehad – my pa Johnny, my swaer Piet ‘Kat’ Steenkamp, telers soos Kosie Esterhuizen, Joggie Briedenhann, Dirk Louw, Kola Steyn en Willie Coetzee asook die sakeman-boer Ronnie Coleman wat almal suksesvol is omdat hulle ‘n passie vir boerdery het. As jy dit nie het nie, vat jy ‘n ent mis. Dit is ook by die suksesvolle boere by wie jy idees kry en kan-copy-en-paste-wat vir jou werk. Vir naweekboere soos ek is beplanning uiters belangrik om die maksimum uit tyd te haal.”

Sakeman-boere het meer opsies

Die sogenaamde “dasboere” het die opsie om hul boerderye soos die aandelebeurs te bedryf, meen Pieter. Boere wie se grond reeds betaal is of wat min skuld op hul grond het, val ook in hierdie kategorie. “Die grond is jou beurs en die diere jou aandele. Jy het die keuse om byvoorbeeld nie jou diere te bemark wanneer die tyd nie reg is nie of die pryse swakker is. Jou lewenskoste kom ook nie noodwendig uit jou boerdery nie.” Motiveringspreker Claude Moller se boek,-Who moved my cheese, het bygedra tot sy verkenningstog van opsies, voeg Pieter by.

Hy vertel sy beplanning lyk anders. In sy werk is hy gewoond daaraan om risiko-bestuur te doen, en dit wat hy nie weet van boerdery-risiko’s nie, leer hy by swaargewig sakeman-boere. “Party boere sien kans om risiko’s te bestuur, ander nie. In die versekeringswese is ons daaraan blootgestel waar jy eerstehands voorbeelde ervaar. Dit bly egter belangrik om nie impulsief te wees nie, maar berekende besluite te neem. Gepas hier is Junior Smith Trucking se slagspreuk, “the logic will amaze you.”

Die toekoms van boerdery?

“Maklik gaan dit nie wees nie weens wetgewing en impulsiewe besluite van owerhede. Dit plaas beplanning en boerdery onder druk. Ons dink hier aan die omstrede skaapbemarkingskema wat uitvoer al langer as ‘n dekade beperk en meer onlangs die omgewingsministerie se openlike verset teen kleurvariante. Dit het gelei tot ‘n verbod op die verkoop daarvan op die AGB-katalogusveiling en die Erindi-wildveiling. Appèl-hofaansoeke het darem geslaag en dié bokke kon toe wel verhandel word, maar pryse is steeds onder druk omdat hierdie optrede vertroue in die bedryf geskaad het.”

Pieter betreur die feit dat wetgewing nog nie in plek is vir wildteling en moderne hulpmiddels soos hommeltuie (drones) nie. “Ons rolspelers sal moet byhou by tegnologie ter wille van vooruitgang. Verder sal die regering moet toesien dat sy regswiele vinniger loop. Hier by ons in die Mariental-omgewing sloer veediefstalsake al sedert 2012.”

Daarby glo Pieter die kosteknyptang se al stewiger greep en arbeid sal groot uitdagings vorentoe wees. “Ons sal meer presies moet boer en in die opleiding van plaaswerkers belê.”

Georganiseerde landbou ‘n moet

Pieter het in ‘n stadium aan twee boereverenigings behoort – Stampriet en Kalkplato – so belangrik glo hy is georganiseerde landbou. Dit was toe hy nog grond in albei omgewings gehad het. “In enige model waarin jy ‘n magsposisie nodig het vir bedinging, moet jy aan die meerderheid mense se behoeftes voldoen. Dit is wat die NLU vir kommersiële boere in die land is. Ons is soveel boere met soveel menings en het die NLU nodig om te sif vir die feite. Hierbenewens verseker georganiseerde landbou ‘n samehorigheidsgevoel wat nodig is as regmenings ingewin of hof toe gegaan moet word. Die manne wat emosionele besluite neem en glo hulle is reg, is ‘n-one-man show. Almal kan nie reg en gelukkig wees nie. In georganiseerde landbou werk dit anders. Hier gaan dit oor realiteite en rasionele denke, en ons luister na mekaar.”

Arbeidsverhoudinge belangrik

Betroubare werkmense en goeie verhoudinge is ‘n groot plusplunt vir ‘n boer. “Hulle is jou oë, hande en alles,” sê Pieter. Hy het in goeie akkommodasiegeriewe vir hulle belê en gee bonusse vir daardie ekstra myl wat hulle loop soos wanneer die bokke voorberei moet word vir veilings, hulle ongediertes vang of inligting deurgee wat bruikbaar is in bestuur. Hy het vyf werknemers in diens, onder wie ‘n plaasbestuurder, Frikkie Kühn, en ‘n voorman,-Jonison Haubab.

Waar die wortels lê

Pieter het in die Karasberge grootgeword met Swakaras, blinkhaar-Afrikanerskaap en sy pa se welbekende Boerbokke. Dit is hier waar sy ma se ouers, die Van Niekerks, groot grond gehad het en waar sy ouers en nou sy broer, Retief, boer. Hul pa, Johnny, het in 1924 die land ingekom en met Maggie getrou. Agt kinders is uit die huwelik gebore en Pieter was die laatlam. Hy en die oudste twee, ‘n tweeling, verskil 21 jaar – Christa, Piet “Kat” Steenkamp van Koës se vrou, en Johnny, die bekende afslaer wat nou sy aftrede op Okahandja geniet. Johan, nog ‘n broer van Pieter, is ‘n sakeman van Lüderitz wat eers in Outjo se wêreld grond gehad en pas die plaas Terminus by Helmeringhausen gekoop het.

Pieter het op Keetmanshoop skoolgegaan en onderwys aan die Windhoekse Onderwyskollege studeer. Hy het net vier jaar lank skoolgehou – twee jaar by die Laerskool Pionierspark in Windhoek en twee jaar by die Laerskool Danie Joubert op Mariental. Sy vrou, Marlene, is nog al die jare in die onderwys – eers by die staat en nou by die Private Skool Elnatan op Stampriet. Sy loopbaan in versekering het einde 1993 begin toe hy vyf jaar lank lewensversekering vir Ou Mutual verkoop het. ‘n Jaar as makelaar by Bank Windhoek het gevolg voordat korttermyn-versekering sy nering geword het. Hy is twee jaar gelede van takbestuurder van Hollard Insurance op Mariental bevorder tot landwye streekbestuurder en is trots daarop om met die naasgrootste korttermyn-versekeraar in die land geassosieer te wees. “Ons raak al bedrywiger in alle sektore, ook in landbou.”

Pieter en Marlene het twee kinders waarvan albei iets van Pa “geërf” het – ‘n loopbaan in korttermyn-versekering en rugbytalent. Die oudste, Esmar (26), doen onderskrywing by Hollard se korporatiewe tak in Windhoek en Wihan (19) is by die Sharks se rugby-akademie en is pas in die o/19 Curriebeker-groep opgeneem.

  • Print this article
  • Email this article
  • Share this article