Loading...

Florerende Wildboerdery

Florerende Wildboerdery
Posted by on 1 June 2015 and filed under

VOORWOORD

’n Dag is ver te min om die baie aktiwiteite van die Otjiwa-wildoord digby Otjiwarongo gade te slaan en in een artikel vas te vang. Hier gebeur eenvoudig te veel. Dit kan jy duidelik sien in die haastige gang van uitskieter-wildboer WP Barnard en sy vrou, Julandi.

Wildteling, trofeejag, die deurlopende verfyning van infrastruktuur, ontbossing, die sny van gras en die bestuur van ’n groot gastebedryf hou die egpaar en hul personeelkorps van 63 op hul tone. Maar so tussendeur die baie ry en kyk om ’n effense idee van die spog-infrastruktuur en die baie aktiwiteite te kry, is ook baie geleer – oor sukses in wildboerdery, maar ook van die slaggate wat vermy moet word, selfs oor hoe bees- en wildboerdery teen mekaar opweeg en die ongelooflike beleg-gingsmoontlikhede wat die wildbedryf nou op die kruin van sy golf bied.

’n Noue ontkoming was daar ook met ’n swartmamba van by die 2,5 meter in ’n boomtak – gevaarlik naby WP van waar hy na ’n pas ontboste 50 ha beduie en oor sy doeltreffende metode van ontbossing gesels het.

Gelukkig was Christo du Plessis van Feedmaster- op die regte oomblik ag-ter die kamera en het die kameraflits die mamba laat besluit om blitsig na sy nes in die miershoop terug te seil. Die Feedmaster-suksesverhaalspan en WP, gelukkig nog in lewende lywe, het gou tot verhaal gekom om nog ’n unieke verhaal te vertel – ook oor die herlewing van Otjiwa se eerstes in die land soos die onlangse wildveiling en volgende jaar se omajova-fees. Marietjie van Staden van-Agriforum-doen verslag van die opwindende dag op Otjiwa.-

SPOG-INFRASTRUKTUUR LÊ-GRONDSLAG VIR WP SE FLORERENDE WILDBOERDERY

Top-infrastruktuur wat hoofsaaklik van nuuts af verrys het op Namibië se eerste wildplaas, Otjiwa digby Otjiwarongo, en waaraan steeds hard gewerk word, onderskei WP Barnard as ’n uitskieter-boer. Die vyf werkers wat hy agt jaar gelede as die nuwe eienaar oorgeneem het en nou op ’n stewige personeelkorps van 63 met 250 afhanklikes staan, vertel hier word teen ’n snelle tempo vorentoe geboer. In sy kort loopbaan van agt jaar as wildboer het WP ook al die prestasie behaal van die enigste Namibiër te wees wat ’n swartwitpensbul vir N$1 miljoen of meer verkoop het. Sommer drie van hulle, danksy goeie, gesogte Zambiese genetika wat wyle Werner List van die Ohlthaver & List-groep, die vorige eienaar, op Otjiwa ­gevestig het en wat WP gekoop het. Die veilingpryse vir dié bokke was N$1,3 miljoen, N$1,05 miljoen en N$1 miljoen.

Tipies boer raak WP se planne nie op nie, soos die edele strewe om die eerstes van die ou, glorieryke Otjiwa te laat herleef. Die eerste plan is pas deurgevoer – die herinstelling van die eer­ste wildveiling in die land wat in 1974 op Otjiwa gehou is. Op 23 Mei het die Waterberg Plato-wildteelgroep, waarvan WP ’n lid is, weer so gemaak om die tradisie van ouds te laat herleef (sien-bl. 86). Begin volgende jaar is die omajova-fees ook weer terug op die Otjiwa-kalender. “So einde Februarie of begin Maart, afhangende van die reën, om ’n goeie oes van die miershoop se smulkos te verseker vir ’n buitelug-kookkompetisie,” vertel WP. Bloot die idee laat jou in jou geestesoog ’n nasionale fees sien kom om soos die Meatco-braaikompetisie ’n hoogtepunt op die landboukalender te word. “Kry solank julle resepte reg,” lui Otjiwa se hartlike uitnodiging aan Namibiërs. Nog twee groot geleenthede is onlangs hier aangebied – Feedmaster se eer­ste inligtingsdag op 1 April vir wildboere om die genetiese potensiaal van wild te ontsluit en die amptelike bekendstelling van die wildlek-produkreeks en ’n nasionale bergfietskompetisie.

So terloops, Otjiwa was in die vroeë tagtigerjare een van die eerste vestings vir renosterbewaring in die land waarheen die ministerie van omgewing en toerisme swartrenosters van nasio­na­le parke uitgeplaas het in ’n poging om hulle te be­skerm. In 1990 is ’n witrenosterkoei en haar kalfie (toe N$330 000 werd) ook hier gestroop. Hul horings is met byle afgekap. Die twee skuldiges, albei jong mans van Otjiwarongo, is elkeen ses jaar tronkstraf opgelê.

Intussen het die wen-kombinasie van WP en sy vrou, Julandi, al groot dinge op Otjiwa laat gebeur. Hy is ’n rekenkundige wat kort duskant sy kwalifikasie as geoktrooieerde rekenmeester uit sy kantoor teruggevlug het plaas toe waar hy meer tuis voel in die oop ruimtes. Eers as beesboer en later as abattoir-eienaar. As verbruikerswetenskaplike wat ’n slag met binneversiering het, staan Julandi haar man by om ’n stylvolle, elegante stempel af te druk op sy kuns­tige ontwerpe vir eksklusiewe lodge-geriewe, versprei op die sowat 12 000 ha.

Maar sukses kom nie sonder stampe en stote nie. Die eerste wildtelling, wat volgens normale praktyke elke drie jaar gedoen word, het in sy jong, nuwe en nog kwesbare loopbaan gedui op wildverliese van N$12 miljoen weens roofdiere. “Ek kon dit nie glo nie. Ek het die wild drie keer laat oortel.” Vandaar WP se groot beleggings in stewige, hoër heinings om ver­al die vlakvarke te stuit wat die pad oopmaak vir roofdiere. Nog ’n terugslag was 2013 se erge droogte toe Otjiwa gemiddeld 100 mm gemeet het en 30% van die wild gevrek het. “So ’n landwye droogte veroorsaak dat jy nie ’n mark vir jou diere het nie. ’n Mens moet goed beplan, voorbereid wees en die skuur vol hooi hou om nie onkant gevang te word nie. Dit kan sommer gou-gou gebeur dat voerkoste dubbel die waarde van ’n wildsbok beloop,” sê WP. Vanjaar knyp dit ook maar op Otjiwa, wat die meeste van sy 200 mm reën in November gekry het, en nie die laat reën wat baie boere gemakliker gaan deurtrek nie. “Gelukkig is grootskaalse bosuitdunning my reddingsboei. Met minder reën en minder bos sal ek droogtejare soos hierdie een kan oorleef.”-

Unieke vlakvark-bestande heinings-

Kyk jy na vandag se infrastruktuur op Otjiwa wys die bedrywige WP se hande bloed en sweet het hier ingegaan, en gaan nog steeds hier in. Otjiwa was die eerste plaas in die land wat wild­werend omhein is. Dié wildplaas is gevestig deur die legendariese Kosie Steyn, wat as ’n pionier in die wildbedryf wyd bekend was. Hy was ook ’n helikopter-vlieënier wat die era van massa-vangste van wild ingelui het.-

Ses jaar gelede het WP die oorspronklike 3 m hoë heining oor 46 km vervang teen ’n koste van N$95 per meter. Tans is hy besig om die enigste 500 ha van sy grond oos van die hoof-teerpad na die noorde volgens ’n unieke konsep in te rig vir twee intensiewe wildkampe. Die wild­werende heining oor 12 km is op 3,3 meter heelwat hoër as die vereiste 2,4 m om byvoorbeeld ’n waardevolle koedoebul met ’n horinglengte van 60 duim binne te hou en roofdiere uit te hou. Die koste van dié heining beloop N$220 per meter – ’n kapitale uitleg van N$2,64 miljoen, wat volgens WP binne ’n jaar gedelg kan word as roofdierverliese alleen ingereken word sonder die waarde van veral koedoes wat oor laer heinings kan verdwyn.-

En hierdie heining is netjies én uniek. WP het in Italië ’n slootgrawer (trencher) gekoop wat 60 cm diep die grond weggekalwe het op die hei­ning se spoor. Toe is die wildwerende heining en diamant-sifdraad van 1,8 meter met sterk stut­pale in die sloot geanker. Vir eks­tra ste­wig­heid het WP dik, buigbare staalkabels elke meter aan die onderkant van die heining aangebring (sien foto links bo). Dit absorbeer skok, soos wanneer 'n vlakvark storm, baie beter as onbuigbare materiaal om heiningskade te voorkom. Die sloot met al die drade is toe opgevul met beton om tot die moedswilligste vlakvark te stuit. Lemmetjiesdraad aan die bokant van die heining verhoed dat koedoes probeer oorspring en skrik stropers af.-

Nog merkwaardige ontwikkeling-

Aangesien die grond groot is, het WP goed voorbrand teen vuur gemaak. Teen die 43 km lange grens is die brandpaaie 60 m breed, terwyl nog 40 km lange brandpaaie van 30 m breed aangebring is om ’n moontlike veldbrand te stuit. Hy let ook daarop dat voorkomende maatreëls jaarliks in plek is voor die brandseisoen. As lid van die Otjiwarongo Boerevereniging geniet hy ook die voordeel van bystand van die wyd bekende en doeltreffende reaksie-eenheid van dié boerevereniging.-

In totaal is 440 km netjiese grondpaaie aangebring. Pyp­leidings van 10 km maak watervoorsiening aan ses klein wildkampe en agt oop suipings moontlik. “Ek glo daaraan dat die wild nie te lang ente na water moet loop nie om velduittrapping te voorkom.” Netjies groen geverfde staalplaathekke kondig ook toegang aan tot die ses kampe waar swartwitpense en bastergemsbokke aangehou word. WP wil nou dieselfde doen vir die ander skaars spesies – njalas, letschwes, bastergemsbokke en basterhartbeeste (tsessebes) – waarmee hy teel.-

Al sewe boorgate op Otjiwa werk met sonkragpompstelsels. WP is trots op dié belegging wat hom 50 liter diesel oftewel N$2 500 per maand spaar sonder die tydrowende ergernis van pype trek en masjiene regmaak.-

TELING IN PERSPEKTIEF

Die huidige geldwaarde van wildteling word duidelik weerspieël uit WP se inkomste met die helfte wat uit wildverkope verdien word, en trofeejag en die gastebedryf wat elk 25% bydra. Hy teel met 250 stuks eksotiese wild (swartwitpense, bastergemsbokke, nyalas, letschwes en witrenosters) en 6 500 stuks vlaktewild (gewone spesies).

Die nuwe era wat sowat drie jaar gelede in wildteling aangebreek het, maak WP opgewonde. “Wildteling word so intensief en wetenskaplik dat ons binne ’n paar jaar by veeteling se streng seleksie vir die identifisering van top-diere gaan wees. Die tyd van beoordeling van top-wild net volgens horings, veral in die geval van swartwitpense en bastergemsbokke, is verby. Ons begin nou ook fenotipies kyk na algemene voorkoms, bouvorm, manlike en vroulike eienskappe, skrotum-omtrek en vrugbaarheid. Ons moet dit doen om op die voorpunt te bly. Onder die vel, oftewel genotipies, ondersteun DNS-toetsuitslae van haar- en bloedmonsters die klassifikasie van top-diere.” WP maak gebruik van die pretasietoetsprogram van Wildlife Stud Services (WS2) om goeie stambome uit te wys wat onontbeerlik is vir selektiewe te­ling en nou ook die nuwe veld van genomika betree het om seleksiebe­sluite verder te verfyn.-

Volgens WP is die direkte plaaskoste van ’n veearts om monsters te neem vir DNS-toetsing N$5 000 per dier. Dit sluit in pyl-verdowing en die wakker maak van die diere. Terselfdertyd geskied dose­ring teen parasiete en siektes asook vitamien-aanvullings. Vir die wildwerkery, ook die verskuiwing van wild, het hy ’n groot opvangkraal gebou in boma-styl en sirkelvorm wat opeenho­ping van bokke en beserings voorkom.-

WP beskou goeie genetiese materiaal, veral in ’n intensiewe wildteelprogram, as belangrik om inteling met al sy nadele en defekte te vermy en kwaliteit te bly verbeter. “In so ’n intensiewe teelprogram ontstaan mineraaltekorte omdat diere nie vrye toegang tot ’n vol, natuurlike dieet het nie. Dit is veral tekorte aan kobalt, koper en selenium wat dan aangevul moet word. Op dié gebied doen Feedmaster goeie navorsing om alles-in-een wildlekprodukte volgens verskillende voedingbehoeftes te voorsien.”-

Hoewel die meeste van WP se kampe 70 ha groot is, beveel hy kampgroottes van 250 ha aan om nie bokke elke twee maande te skuif nie. Groter kampe laat ook toe dat meer as een spesie daarin aangehou kan word soos die njalas en swartwitpense wat goed oor die weg kom sonder dominansie by die voerbakke.-

In die twee nuwe kampe van 250 elk vir intensiewe teling wat vinnig voltooiing nader, het WP reeds indringerbosse op ’n breë strook teen die teerpad en die rivier uitgehaal om brandskade te voorkom. Hier gaan hy njalas, swartwitpense en basterhartbeeste (tsessebes) aanhou.-

Nog ’n goue reël wat hy volg, is om bulle nie te gou te laat paar nie. “Hulle is op drie jaar geslagsryp, maar om hulle te vroeg te laat paar, strem groei en horinglengte. Verse word al op agtien maande by bulle gesit. Wildsbokke se horings is tussen vier en vyf jaar hoofsaaklik uitgegroei. Groei geskied daarna, maar die afslyt balanseer hierdie groei min of meer uit.” Hy gaan ook nou die konsep van ouma-kampe (granny) op sy plaas skep om nog so twee, drie kalwers ekstra uit ou koeie of ooie te kry. Hier word daar mooi gekyk na die ou vroulike die­re, veral wat aanvullende voeding betref.-

Tussen 25 en 30 trofeejagters wat gemiddeld twee tot drie bokke skiet, word jaarliks geakkommodeer. “Dit is die toelaatbare oes op my grond om ekologiese balans te handhaaf,” sê WP.-

WEIDING EN VOIDING HIER ‘N PRIORITEIT-

In totaal is 4 000 ha van die net onder 12 000 ha op Otjiwa reeds ontbos – ’n derde van die grond. “Ek het alles probeer – uitkap met die hand, chemiese vliegtuig-bestryding en die strooi van bosdoderkorrels per hand – maar behaal die grootste sukses met my twee 824 C wiel-gemon­teerde kruiptrekkers (wheel dozers), spesifiek ontwerp vir beweeglikheid en spoed, tot drie keer vinniger as die spoor-tipes (track). Dit is die mees ekonomiese metode en grondversteuring is minimaal. Ons maak op een dag tot 50 ha selektief skoon van indringers. Die rosyntjiebosse wat die wild vreet as die blare groen is en die kosbare groot bome word behou.”-

Op dele wat reeds ontbos is, het die drakrag op Otjiwa drie tot vier keer verhoog, sê WP. Hy gebruik bosdoderkorrels in sy nasorgprogram.

Op uitgetrapte grond laat WP die dooie bosse lê om saadbeddings te skep vir die hervestiging van gras. Maar netjies soos hy is, verdra hy nie die slordige, dooie bosbondels daar waar hulle nie van nut is nie. “’n Mens kan nie eens die wild agter die digte, deurmekaar boskasies sien nie. Ek verwyder hulle.”

WP beskou wildweidingbestuur as een van die moeilikste boerdery-praktyke. “Al hoe jy dit kan doen, is om waterpunte toe te maak en nuwes oop te maak om die bokke daarheen te dwing.”-

Ná die reënseisoen verskuif die fokus na die padreserwes waar WP sowat 6 000 vierkant-grasbale maak vir droogtejare. Die vierkant-bale hanteer baie makliker vir my doel. In goeie jare sny ek ook gras in die ontboste dele. ’n Mens kan die bale tot 15 jaar lank berg sonder dat dit voedingswaarde verloor. Ek meng dit met molassestroop om die gras te bind en dit smaakliker vir die diere te maak.”-

In sy ekstensiewe wildboerdery vul WP voedingbehoeftes ad lib aan met Feedmaster se Wildlek wat een keer per week in voerbakke uitgegooi word. In die winter, wanneer innames styg, word groter hoeveelhede Wildlek uitgesit. Klipsout is in die somer beskikbaar vir die diere.-

Die skaars wildspesies waarmee intensief in kleiner kampe geteel word, kry daagliks Feedmaster se Wildkorrels (Stud Game Pellets) as aanvullende voeding. Net voor en net ná die winter bestel WP ’n spesiale besending van dié korrels met ’n voorgeskrewe hoeveelheid ontwurmingmiddel by Feedmaster om sy teeltroppe te ontwurm. Dit is om te verseker dat diere, wat reeds swaar kry in die droë seisoen, nie nog ook ’n las van parasiete het nie.-

Voerbakke moet genoeg wees, beklemtoon WP verder, veral om dominansie te vermy en die jonger bokke ook vreetkans te gee. Hy be­veel 10% meer voerbakke as die getal diere aan. Jong kalwers vreet nog saam uit ’n voerbak, maar nie die groter diere nie.-

WP voeg by dat wildboere nie sonder lekaanvulling suksesvol kan wees nie. “In hul natuurlike habitat kry wild 100% van hul aanvulling, maar in gekonsentreerde getalle in wildkampe moet 30% van hul voedingbehoeftes met lek aangevul word om mineraaltekorte te voorkom.”-

BEESBOERDERY TEENOOR WILDBOERDERY-

WP Barnard kan met gesag praat as die winsgewendheid van beesboer­dery teenoor wildboerdery opgeweeg word. Hy was twintig jaar lank betrokke in die beesbedryf, toe vyf jaar in die bees- en wildbedryf en die afgelope agt jaar was dit net wild. “Ons ry nou die hoogste ­kruin van die golf nog in die wildbedryf. Niemand weet hoe lank dit gaan hou nie, maar ek het vertroue in voortgesette groei. Die belangstelling raak al groter en al hoe meer mense belê in die bedryf – ook diegene wat nie noodwendig grond het nie.”-

As ’n syferman het hy reeds sy somme gemaak. “Indien die borrel wel sou bars en skaars spesies soos ’n swartwitpenskoei se prys terugsak na sewe jaar gelede se N$150 000, sal die inkomste steeds vier keer meer as uit beeste wees. So sal minder gesogte skaars spesies ook steeds ’n ­goeie belegging wees, al sak die prys vir byvoorbeeld njalas van die huidige N$35 000 terug na N$7 000 of letschwes se N$40 000 terug na N$8 000.”-

Volgens WP verdien gevestigde wildboere op die oomblik twaalf keer meer as beesboere wanneer inkomste teenoor kapitale uitleg gemeet word, “maar om in enige boerdery te belê, bly beter as die rente wat banke op beleggings bied. Beesboerdery se groei staan immers op 17%”.-

Moontlikhede vir jong, nuwe toetreders-

WP se advies vir jong of nuwe wildboere is om kleiner beleggings in goedkoper spesies soos die njala, letschwe of tsessebe hul vertrekpunt te maak ter wille van risiko-verspreiding. “Vir so ’n intensiewe, klein boerdery is ’n stuk grond van 500 ha voldoende.”

Maar hy waarsku: “Onkunde soos om te versuim om wildsbokke teen byvoorbeeld milt-, spons- en lamsiekte te doseer, kan verliese veroorsaak. So is daar jong kalwers wat byvoorbeeld vrek omdat kalwers van die vorige jaar nog nie gespeen is nie en die ma’s uitsuip. Dit kan egter reg bestuur word om te verseker jong kalwers kry genoeg melk. Dan is daar ook nog die risiko’s van verliese weens roofdiere, weerlig en slangbyte.”-

Desondanks is die huidige groei op beleggings in die wildbedryf 50% per jaar. Dit bring mee dat beleggers, wat byvoorbeeld pakkette op veilings by telers koop en nie ’n vinger hoef te verroer nie, ’n groei kan verwag van tot 150% oor ’n tydperk van drie jaar wanneer daardie bokke waarin jy belê het, begin paar.-

Die toekoms in oënskou-

“Afrika is ’n jagbestemming en so sal dit bly. Telers sal daar ook moet wees om goeie trofee-materiaal te bly voorsien. Daarby raak die ­behoefte aan gesonde natuurlik geproduseerde rooivleis al groter – nog ’n opkomende mark vir wildboere wat oor sterk moontlikhede vir groei beskik. In Europa is daar mense wat bereid is om tien keer meer vir ’n gemsbok-steak te betaal as vir ’n steak van ’n voerkraal-bees van dieselfde gewig. Dit is ook ’n mark wat ontgin kan word.”

WP wys voorts daarop dat volhoubare bewaring en groot beleggings om biodiversteit en die natuur te beskerm, meegebring het dat ons nou baie meer wild het as honderd jaar gelede.-

Hy noem Angola as ’n goeie bestemming vir lewende wild-uitvoer. “Baie van ons wild is al Angola toe, want hier het die wildbevolking feitlik in sy geheel uitgesterf weens die 33 jaar lange bosoorlog in dié land. ’n Groot oplewing in die wildbedryf word tans hier ervaar.”

In ’n neutedop som hy die velerlei inkomstebronne uit wildbenutting op as biltongjag, trofeejag, lewende verkope, teling met sy ongeëwenaarde beleggingsmoontlikhede en die vleismark wat hy, met sy abattoir-agtergrond, glo baie potensiaal het en nog baie groot gaan word. “En nie een van hierdie vertakkings sal verdwyn nie.”-

‘N UNIEKE BESOKERSERVARING--

Die Otjiwa-wildoord van net onder 12 000 ha is met sy 21 gronddamme en sy ryk voël- en wildlewe ’n gesogte bestemming vir beide toe­riste en jagters wat ’n lushof-ervaring wil smaak. By die veertig wildspesies en die baie visarende met hul kenmerkende lang “kyeow-kou-kou”-roep, saam met nagenoeg 150 voëlspesies, verseker ’n besoek van blywende herinneringe.

Otjiwa beteken gepas in Herero “die plek van baie water en bome” – ’n erfenis wat die Barnards mooi bewaar en benut. Wildbesigting maak die ervaring van die besondere natuurskoon moontlik – begeleide toere in wildvoertuie of te voet en een van die dae ook op roei­bootjies op die groot dam by die hoof-lodge. Daarby is daar die avontuurlustige-rhino tracking-– op die spoor van die groot wittes sonder dat tegnologie verklap waar hulle is. Vars spore word gesoek en gevolg. Staproetes word ook aangebied in die kampe waar swartwitpense en bastergemsbokke aangehou word. Voetslaan begin by die hoof-lodge, rivierlangs en dan om die groot dam die veld in. Alles ’n heerlike ervaring in wisselende topografie van vlaktes, berge en rivierlope – ook die rede waarom een van die vier bene in die nasionale bergfiets­kompetisie jaarliks hier aangebied word. Vanjaar se kompetisie was op 16 Mei – ’n week voor die wildveiling.-

Toe die Barnards in 2008 die nuwe eienaars van Otjiwa geword het, het die hoof-lodge uit ’n groot, oop stoep en ’n kombuis bestaan. Die voorafvervaardigde akkommodasiegeriewe is afgebreek en deur die Ohlthaver en List-groep op ’n veiling verkoop.-

Vandag is dit ’n gastedorp met sewe rushuise en twaalf eksklusiewe kamers, almal baie privaat met ruim stoepe wat ’n prag-uitsig bied op die watergat en saans druk besoek word deur wild. Die kampeerplek op riviersand bied akkommodasie vir 150 mense, veral gewild onder Suid-Afrikaanse besoekers en skool- en kerkgroepe. Die lodge self het binne- en buite-kuierplekke, groot ysterherde vir vreugdevure en pragtuine. Vir groot spesiale geleenthede soos die onlangse wildveiling, troues of ander gesellighede, kan die netjiese saal tot 250 gaste akkommodeer. Dan is daar ook die pragtige dubbelverdieping-woonhuis, 30 personeelhuise en ’n aanloopbaan van 2 km vir vliegtuie.-

Sowat 8 km van die hoof-oord is die Mountain Lodge, die enigste gevestigde struktuur op Otjiwa toe die Barnards oorgeneem het. Intussen is die lodge opgeknap en opgegradeer. Die uitsig hier is asemrowend – oor die Water-, Erongo- en Omatako-berge. Vyf luukse rus­huise skuil in ruie boswêreld neffens die swembad op ’n bergkrans. Intussen het die Barnards nog ’n eksklusiewe lodge, The Nest, gebou wat ook tien mense kan akkommodeer – 5 km van die hoof-lodge af. Die twee onafhanklike eenhede is privaat en elkeen op sy eie stuk plaas. Elkeen beskik oor sy eie kombuis-, kroeg- en swembadgeriewe, en ’n mini-vertoonkas waar leesmateriaal en aandenkings gekoop kan word.

En nog is dit nie die einde nie. Otjiwa is ook ingestel op bewaring en het bekendheid verwerf as die tuiste vir bedreigde spesies soos die aasvoël. Die Eagle Rest Camp, nog ’n nuwe ontwikkeling, was lank die tuiste van ’n be­waringprojek vir dié roofvoëls wat op die rand van uitwissing staan weens veral boere se onoordeelkundige gebruik van gif in dierekarkasse om roofdiere te beheer. ’n Nuwe bewaringsprojek word nou hier in die vooruitsig gestel waar ’n groep van 72 geakkommodeer kan word.

Om die besoekerservaring van toeriste, ver­al buitelanders, nog meer die moeite werd te maak, beoog die Barnards die instel van donkie­karritte en daarmee saam ’n skemerkelk­onthaal bo-op ’n koppie.-

WAAR ALLES BEGIN HET

Wildboerdery was die groot geleentheid waarop WP Barnard, ’n plaasseun van Gobabis, tot in sy laat veertigs moes wag. Hy het as boer en abattoir-eienaar hom in sy peetjie gewerk – tot 18 ure op ’n dag, sewe dae van die week. Dit was in die 20 jaar toe hy op Potchefstroom die Syferfontein Slagpale gevestig en opgebou het. Van hier af is gemiddeld 100 ton vleis (bees, skaap en vark) per dag aan die mark gelewer, veral groot kettingwinkels en slaghuise. Hy het ook ’n stuk grond gehad waar hy sy Bonsmara-kudde op klein skaal in die voerkraal afgerond het om in die vraag te help voorsien. Hy het egter ook die meeste diere van groot voerkrale en op veilings gekoop.-

Die rede waarom hy hom so kaduks gewerk het, was die klein winsgrens van so min as N$3,50c op ’n skaapkarkas en die feit dat hy nie verliese weens diefstal kon bekostig nie. “So het ek gemiddeld tien lorries op ’n dag gelaai. Later het my gesondheid daaronder begin ly en ek het my geduldige gesin belowe ek sal ’n nuwe begin maak sodra die geleentheid opduik.”-

So het WP aan Sven Thieme, die huidige grootbaas van die Ohlthaver & List-groep, se deur geklop met ’n aanbod vir Otjiwa – die wild-oord waarop hy verlief geraak het, wat anders as in sy grootwordwêreld in die ooste van die land ook mooi berge het. Van die markverwante aanbod van N$800 per ha het hy vir lank niks gehoor en toe ’n hoër aanbod gemaak. Vir lank was dit stil, tot op ’n dag toe Sven bel en onderhandelinge begin. “Ek het nie geweet hoe ek dit gaan bekostig nie. Die 93 swartwitpense en 11 witrenosters wat op die grond was, het ek teen markverwante pryse gekoop.”-

Gelukkig vir WP het hy halfpad die hoogste kruin van die golf in wildboerdery saam met mede-boere begin ry. Vandag kyk hy nie terug nie.-

Behalwe vir sy matriekjaar by die Potchefstroom Gimnasium het WP op Gobabis skoolgegaan. Sy pa, Pollie, het jare lank skoolgehou by die Laerskool Ben van der Walt – ook vir bekendes soos landbouleiers Ryno van der Merwe en Sakkie Coetzee van die Namibië Landbou Unie. Pollie was in sy onderwyserjare al ’n deeltydse boer en later voltyds. WP het op Potchefstroom agtergebly om BRek aan die universiteit te studeer. Die vereiste honneursgraad om as geoktrooieerde rekenmeester te kwalifiseer het gevolg, maar toe kom die kantoorgebonde internskap-opleiding (articles) en die twee raadseksamens oor ’n tydperk van drie jaar wat nie vir die boerseun se natuurgees bestem was nie. “Ek het toe vir twee jaar vir my oom Johannes Smit by Gobabis gaan boer en nog twee jaar sy boerdery by Potchefstroom behartig. Vir nog twee jaar het ek saam met my pa by Gobabis geboer voordat ek terug Potchefstroom toe is om my eie abattoir en beesboerdery op die been te bring.” Albei WP se ouers is oorlede.

Dit was ook op Potchestroom waar WP sy vrou, Julandi, ontmoet het – toevallig ook ’n boorling van Gobabis en die dogter van Willem en Rita van Vuuren, wat deeltyds in die omgewing geboer het en nou hul aftrede op Hentiesbaai geniet. Julandi het BSc-verbruikerswetenskap aan die Potchefstroomse Universiteit (vandag Noordwes) gestudeer. Op skool was sy bekend as ’n skrander atleet, onder meer die Suid-Afrikaanse kampioen in verspring in die o/16-ouderdomsgroep. WP was weer ’n goeie rugbyspeler.-

Die egpaar het drie kinders – Marguerite, wat dieselfde universiteits­graad as haar ma verwerf het en nou ’n diplomakursus in binneversie­ring in Kaapstad volg, Schalk, wat in sy tweede studiejaar in meganiese ingenieurswese aan die Universiteit van Noordwes is, en Anja, ’n graad 10-leerling van die Private Skool Edugate op Otjiwarongo, wat ma se sporttalent geërf het en met nasionale kleure in netbal en atletiek (verspring, driesprong en hekkies) kan spog.-

Omgee vir gemeenskap-

Swaarkry en hard werk het geboorte gegee aan ’n mooi omgee by die Barnards en terugploeg in die gemeenskap.-

Die trofeevleis word teen billike pryse aan 16 klein ondernemings in die informele mark op Otjiwarongo verkoop, terwyl gratis vleis van tyd tot tyd aan klein, omliggende skooltjies voorsien word.-

Daarby is die Barnards se Otjiwa-wildoord die hoofborg van een van vier bene in die nasionale bergfietskompetisie wat jaarliks hier aangebied word. Inkomste uit dié geleentheid word net so aan prysgeld be­stee. Kerk-, skool- en studiegroepe word ook teen net kosprys geak­kom­mo­deer.

Na die werkerskorps van 63 word ook goed omgesien. Ná vyf jaar kry die getroue plaaswerkers elkeen ’n beesvers. Vir een van sy langdiens-werkers het WP al ’n bul en twee verse gekoop. Hy het toe net ’n paar koeie gehad en het deesdae al ’n sterk beesboerdery in Kamanjab se omgewing. Die feit dat die oorspronklike vyf werkers wat oorgeneem is steeds in diens van die Barnards is, vertel dat hier sommer baie dinge reg gedoen word.

  • Print this article
  • Email this article
  • Share this article