Loading...

Beefcor Benut Volle Waardeketting

Beefcor Benut Volle Waardeketting
Posted by on 1 July 2015 and filed under

VOORWOORD-

Wat ’n belewenis om op een dag ’n vol benutte vleiswaardeketting te beleef! Die Beefcor-gesinsaak van die Du Rands van Okahandja het dit vir die Feedmaster-Suksesverhaal moontlik gemaak om die skakels in die ketting gade te slaan.-

Eers is aangedoen op die plaas Okatjetswambo van Coen en Lida Prinsloo in die Hochfeld-omgewing waar ’n voerkraal met ’n staankapasiteit vir 800 beeste bedryf word en veldafronding vir die nuwe abattoir op Okahandja eersdaags ook gaan volg.-

Coen bestuur die plaas en voerkraal. Sy kennis as eertydse voorligtingsbeampte en akkerbouer kom handig te pas. Op Okahandja self het die Beefcor-abattoir (klas A) beïndruk – klinies net soos ’n hospitaalteater met uitgebreide geriewe en toerusting van ’n hoë standaard. Hier is selfs ’n kombuis wat twee eetkamers uit verskillende luike bedien vir onderskeidelik die werkers in die skoner ontbeningsaanleg en dié wat op die slaglyn en in die krale werk.-

Die 160 werkers mag ook eers ná uitvaltyd met mekaar kontak hê ter wille van voedselveiligheid. Teetyd kry hulle brood en tee en daarna ’n gebalanseerde middagete. Neffens die kombuis is ’n was- en strykka-mer vir die fabrieksklere. In hierdie stadium word 18 ton vleis hier per dag verwerk, wat binnekort opgestoot sal word sodra goedkeuring gekry is vir SADC-uitvoer.-

Die Beefcor-slaghuis en die Opuiri Centre vir die laer inkomstegroepe in die sakesentrum op Okahandja was ook op die besoekerlys. Pa Fanna, ma Lenette en hul twee seuns Stéfan en Dewald hou al die skakels in hul waardeketting ge-olie. Marietjie van Staden doen verslag van die dag.-

DU RANDS SE BEEFCOR BENUT VOLLE WAARDEKETTING-

Dit is met trots dat die Du Rand-gesin van Okahandja vandag kan terugkyk op die voltooiing van ’n volwaardige vleiswaardeketting. Die laaste tree van ’n hele paar is in Februarie vanjaar gegee toe die Beefcor-abattoir op 2 200 vierkante meter en die krale op ’n bykomende 1 800 vierkante meter by Okahandja in bedryf gekom het. Ingenieursvernuf uit Suid-Afrika is aan die einde van die vier jaar lange bouprojek ingespan vir die jongste tegnologie om aan deesdae se streng vereistes vir voedselveiligheid te voldoen – van verslagting en verwerking tot verpakking en bemarking. Maar voordat hierdie groot taak aangepak is, het die Du Rands eers indringende huiswerk gedoen deur vyf top-abattoirs in Suid-Afrika te besoek. Die beste van elkeen het die boustene vir hul spog-abattoir gelê waar net­heid en elke letter van al die regulasies nougeset gevolg word.

Finale veeartseny-goedkeuring sal binne weke op streek- en binnelandse vlak nog deure vir die Du Rands oopmaak, met voornemende kliënte wat reeds toustaan. Uit die staanspoor was internasionale stelsels vir voedselveiligheid in plek – die HACCP-bestuurstelsel en ISO 22000 van die Internasionale Organisasie vir die Standaardise­ring van Voedselveiligheid. Goedkeuring vir Halaal-verslagting is ook reeds gekry vir dié klas A-abattoir.-

Fanna du Rand, oorhoofse bestuurder en ge­sins­hoof, sê die hoofdoelwit was om die skakels in die waardeketting van ’n eie boerdery, ’n voerkraal en ’n slaghuis end-uit te vat tot by ’n slagplaas. Fanna word in die groter gesinsondernemings ondersteun deur sy vrou, Lenette, en hul twee seuns, Stéphan en Dewald.

Nege jaar gelede het Fanna sy eerste groot kontrak met ’n spysenieringsonderneming vir myne in die verre suide gesluit waarmee steeds volgehou word. Dit is nou ook al agt jaar dat die Du Rands die groothandel, slaghuise, restaurante, lodges, spyseniersondernemings, hospitale, skole en nog myne van vleis voorsien. Hoender word ook verskaf omdat dit ’n behoefte onder kliënte is. “Mettertyd het ons al groter geraak en kon ons nie meer slagplek kry wat aan die gesondheidsvereistes van die klante voldoen nie – ’n rede waarom die abattoir sy beslag gekry het. So het ons ook die middelman uitgeskakel wat voorheen vir ons moes slag. Dit was ’n gesukkel om lorries en slagbeurte vir die veertig beeste per week te kry. Nou is ons in die posisie om ’n wye reeks hoë gehalte-, gesondheid-gesertifiseerde vleis aan kettingwinkels te lewer.” Agt verkoelingstrokke word reeds daagliks ingespan vir verspreiding landwyd en twee beestrokke vervoer beeste vir verslagting van die voerkraal na die abattoir of van veilings na die voerkraal.

Die groter Beefcor (abattoir, slaghuis en voerkraal) het tans 162 permanente werkers in ­diens. Die slagkapasiteit van die abattoir is 150 beeste per dag, maar in afwagting op finale veeartseny-goedkeuring vir groter afset word nou gemid­deld 60 beeste per dag geslag. Een keer per week word sowat 650 skape per dag geslag vir markbehoeftes. In die vyf maande dat die abat­toir in bedryf is (1 Februarie tot 30 Junie vanjaar), is 3 500 beeste en 3 200 skape geslag, versnit, verwerk en vakuum verpak. Bykomend is 100 stuks grootwild en 400 springbokke vir ’n biltong­fabriek geslag.-

Die nederige begin-

Ry jy van die abattoir net buite die dorp na die Beefcor-slaghuis in die sakehart van die tuindorp, vang die Opuiri Centre oorkant die straat jou oog – hier waar die Du Rands nederig en klein begin het met eers ’n mieliemeule en la­ter om die lae inkomstegroep van vleis en krui­deniersware teen baie billike pryse te voorsien – hul manier om terug te ploeg in die gemeenskap. Beesknieskywe teen N$12 per kg, hoe­der­rûe met lekker vleis aan teen N$22 per kg en vleissaagsels teen N$4 per kg is nie te ver­smaai nie. Hier doen Fanna en Lenette sedert 1996 saam sake nadat hy uit die polisiediens bedank het – eers bekend as die Okahandja Maize Mills, waar hulle vier jaar lank mielies gemaal en verkoop het. In 2007 het die egpaar die ou Lewcor-slaghuisgebou (later Butcher on Wheels en nou Beefcor) en ’n lorrie gekoop. Van­dag bedryf Lenette steeds die gewilde Opuiri Centre.-

Presies waar die abattoir nou pryk met sy blinknuwe sinkdakke net links van die Swakoprivier-brug soos jy Okahandja van Windhoek se kant binnery, het die Du Rands ook ’n groenteboerdery en later ’n melkery, Okahandja Dairy, en ’n koeikudde van 120 bedryf. Die melkery is destyds amptelik deur die huidige president van die land, dr. Hage Geingob, geopen.-

“Jy kan maar sê ek het my liefde vir boerdery met moedersmelk ingekry,” vertel Fanna. Sy pa, Frans, destyds bestuurder van Model Supermarket (vandag Woolworth) in Windhoek, het al die jare meentgrond oos van Windhoek by die munisipaliteit gehuur. “Hier het ek leer jag en slag.” Ná sy skoolloopbaan is Fanna na die polisiekollege in Pretoria waarna hy eers in Windhoek diens gedoen het en later jare was hy in die Kamanjab-omgewing. Hier het hy in sy vrye tyd net soos sy pa begin spekuleer. Die boerdery op huurgrond het later so sterk geword dat hy vier slagbeurte per week by die Oshakati-abattoir gehad het. Hy hou nog al die jare sy beesboerdery op huurgrond aan die gang, maar ’n “hartelose slagter” is hy allermins. Die seuns verkies dat hy nie by is wanneer die trokke slag­plaas toe gelaai word nie, want as Fanna sy sin moet kry, sal die meeste op voerkraal bly. Een os het egter so diep in die hele gesin se harte gekruip dat dit betwyfel word of hy ooit aan ’n haak sal hang. Kom die Du Rands die voerkraal in, is hy hondmak gou by om hulle met sy skurwe tong ’n hartlike welkom-lek op die voorarms te gee en die kop te sak vir ’n lekker boerehandvryf.-

Stéphan vat vas by die abattoir

In Maart 2010 is die eerste penne ingekap vir die bou van die Beefcor-abat­toir. Bouwerk het in Oktober daardie jaar begin. Dit was ’n reuse-taak wat op die jong ­skouers van Fanna se oudste seun, Stéphan, gerus het. Hy het ’n maand lank op Otavi in ’n tent gebly waar hy ge­moeid was met aftakelingswerk van bruikbare materiaal by die ou Meatco-slagplaas wat hy by ’n boer in die omgewing gekoop het. So is koel­kamerpanele, staalstrukture en die skiet­boks goedkoper in die hande gekry en met platbaklorries na Okahandja aangery waar die nodige opknappingswerk gedoen is. En tipies in Du Rand-styl vertoon alles blinknuut.-

Stéphan het ook vyf top-slagplase in Suid-Afrika besoek waar hy gaan “afkyk” het, soos hy sê. Dit is hier waar sy paaie gekruis het met die abattoir-ingenieur Wim van der Vliet, wat as ’n konsultant aangestel is om toe te sien dat die bouwerk volgens die ingenieursplan vir uitvoer-standaarde voltooi word.-

Fanna vertel die bouwerk het maar stadig gevorder omdat eie finansiering gebruik is. “Geen kommersiële bank was bereid om in die projek te belê nie. Die gesin wou ook nie van ’n private belegger gebruik maak nie. In ’n latere stadium het die Ontwikkelingsbank goedkeuring vir finansie­ring verleen wat tot die suksesvolle voltooiing van die projek gelei het. Ons het ook net van vakmanne op die dorp en hande-arbeid gebruik gemaak. Veilings dwarsoor die land is bygewoon om die nodige materiaal te koop, ook die treinspoorstawe wat vir die krale gebruik is. Die vloere van die abattoirs is met die hande uit ’n betonmenger gegooi. Harde, plaaslike hande-arbeid het hier ingegaan, want uit die staanspoor was dit die plan om die klein sakemanne op die dorp deel van die projek te maak.”-

Stéphan se verantwoordelikheid is steeds die abattoir, waar hy bygestaan word deur Paul Zah, die ervare fabrieksbestuurder.-

Beur jy op teen die hoë, steil trappe na die kantoor en raadsaal vertel Stéphan sy beplanning was hier nie so lekker nie, maar pa Fanna sien goedig daarin die simboliek “dat dit nie maklik was om bo uit te kom met die familiesaak nie”.-

Dewald woeker op veilings en by die voerkraal

Einde 2013 het die Du Rands die Hochfeld-plaas Okatjetswambo by Coen Prinsloo begin huur. Coen, bekend as oud-landbouvoorligter en -onderwyser (sonder ’n onderwyskwalifikasie) in die omgewing, vertel Stéphan het hom kom besoek op die plaas met ’n voorstel dat die Du Rands die plaas wil huur. “En daardie nag dink ek dis mos glad nie so ’n slegte plan nie.” Coen is vandag 73 jaar oud (eintlik jonk) en handhaaf steeds ’n ongelooflik flukse pas as die bestuurder van die plaas en die voerkraal.-

Coen se twee bestaande voerkrale van 30 by 40 vierkante meter elk en ’n voerbak van 60 m het die Du Rands uitgebrei tot nog ses krale van 30 by 50 vierkante meter wat deur ’n voerbak van 180 m bedien word. Middel 2014 is die voerkraal in bedryf gestel en ontwikkeling duur steeds voort. Die voerkraal het ’n staankapasi­teit vir 600 beeste. Veldafronding vir nog 400 slagbeeste volg binnekort. Hier ondersteun die jongste Du Rand-broer, Dewald, vir oom Coen. Hy woon gemiddeld twee veilings per week by om aankope vir die voerkraal te doen en behartig ook aankope van beeste vir die slagplaas.-

Die agt krale is 30 by 60 vierkante meter. “Toe ons begin bou het, het ons 30 cm vreetspasie en 15 vierkante meter leefspasie per bees toegelaat. Ons het gou agtergekom dat ’n kraal 100 beeste kan vat, maar hulle het mekaar begin uitdruk. Die getal is met 20 verminder en dit werk goed. Voorheen is die voerkraalrantsoen net eenkeer per dag uitgegooi. So het die skaam vreters, wat moeiliker aanpas, agtergebly en die dominantes het weggelê,” sê Coen.-

“Beter kon ons dit nie tref nie,” vertel Dewald oor oom Coen se akkerbou-ervaring van elf jaar wat handig te pas kom om mielies en sorghum (Honey Green) vir die kuilvoer te produseer. Om konstante deurset vir die Beefcor-abattoir te verseker werk Dewald nou aan sy planne om bykomend sowat tien boere vir gereelde lewe­ring te identifiseer, veral vir wanneer uitvoerstatus na Suid-Afrika eersdaags ’n werklikheid word.

Oor seisoenale tendense vertel hy dat pryse in goeie reënseisoene opskiet omdat boere hul kuddes wil aanvul. Dit is ook eers ná die reënseisoen wanneer die voerkraal bestok word. Die baie modder en moeiliker bestuur in die natter omstandighede, is die hoofredes waarom beeste in die reëntyd nie op voerkraal gehou word nie.-

“Die tipe beeste wat ek aankoop, is stoorosse en verse van 300 kg en meer asook koeie wat nie te maer of te vet is nie. Die koeie moenie te oud wees nie, want dan pas hulle moeilik in die voerkraal aan. Ek werk nou saam met oom Coen as dit by die afronding van die beeste kom. En as ek nie veilings bywoon nie, help ek by die abat­toir,” sê Dewald.-

Afronding op voerkraal-

Aanvanklik is al die voerkomponente self gemeng. “Ons het groot sukses met groei gehad, maar dit was moei­lik vir die werkers om die regte hoeveelhede uit te sit sodra die beesgetalle in die krale gewissel het. Dit het ’n geleentheid vir foute geskep,” vertel Dewald en oom Coen.-

Oor die belangrikheid van kuilvoer voeg Christo du Plessis, bemarkingsbestuurder van Feedmaster, by: “Ek glo die ’n boer moet ’n voerkraal oorweeg as hy nie minstens sy eie kuilvoer produseer nie. Dit maak ’n groot deel uit van die ruvoer- en energie-komponente van die daag­likse rantsoen en bring ’n groot mate van besparing in voerkoste mee. Ons toets gereeld die gehalte van die kuilvoer waarvolgens ’n spesiale voermengsel vir die Beefcor-voerkraal saamge­stel word om saam met die kuilvoer uitgegooi te word. Dit is ook nie ’n eenmalige oefening nie. Voerrantsoene word van tyd tot tyd aangepas vir verbetering en dit gebeur as jy groeisyfers begin kry. Feedmaster voorsien weekliks ’n vol vrag van 32 ton Beefcor Custom Mix aan dié voerkaal. Meatco se Okapuka-voerkraal en vyf kleiner voerkrale word ook deur Feedmaster met roumateriaal en/of klaargemengde produkte as komponente vir hul rantsoene bedien.”-

Vir die kleiner grasgedeelte in die ruvoer word hooi self gesny – sowat 450 bale van 250 kg elk in goeie reënjare. “Ons kan nie alles self benut nie en verkoop van die bale, maar hierdie jaar was ’n ander jaar met net die helfte van die normale hooi wat weens die lae reënval gesny kon word.”-

Coen wys voorts daarop dat dit tyd kos om ’n koei-kalfboerdery uit te faseer. “Ná byna twee jaar is ons nou eers by die punt waar ons ook die­re op beskikbare weiding kan begin afrond vir bemarking. Die groot rubber-voerbakke is reeds gemaak.” Vir dié diere gaan Feedmaster ’n produksielekprogram met Beesmix 4:1:5 as basis saamstel tesame met die bestaande Beefcor-voermengsel wat die nodige energie, verbyvloei-proteïen en giskulture bevat. Feedmaster pas die mengsel gereeld in die fabriek aan volgens die kwaliteit en die tipe kuilvoer.

As ’n mens in ag neem dat dit groot beeste is wat op voerkraal afgerond word en nie diere vroeg in hul groeikurwe met ’n beter groeipotensiaal nie, is die gemiddelde aansit van 1,4 kg per dag, hoofsaaklik in die vorm van vetneerlegging, goed. Diere word net vir 40 dae afgerond.-

“Ons het al blylê-maer koeie in die voerkraal gehad en ná 28 dae nie ’n beduidende gewigs­toename aangeteken nie, maar wel aansienlik beter gevaar in gradering – van nul na C1 en C2. Fanna was beïndruk met hierdie resulta­te­,” sê Coen.-

So met die deurstap in die netjiese voerkraal het Dewald opgemerk dat hier nie onderskeid of vergelykings tussen rasse getref word nie. Nguni’s en Afrikanerbeeste waarvoor party Suid-Afrikaanse voerkrale hul neuse optrek en diere van dié rasse selfs weier, vaar goed in die Beefcor-voerkraal.-

Laastens het Dewald groot waardering vir oom Coen as plaas- en voerkraalbestuurder uitge­spreek. “Hy het soveel kennis en vir sy ouder­dom is hy nog baie aktief. Hy kan nie stilsit nie en sal selfs naweke inspring met meganiese werk soos sweis.”-

WATERDROOM WORD WAAR-

Die mooiste storie het ontvou oor die sterkste water op Okatjetswambo, Beefcor se huurplaas in die Hochfeld-omgewing, tydens die Feedmaster-suksesverhaalspan se besoek.-

Coen Prinsloo, eienaar van die plaas, vertel: “Ek het altyd gesê ek gaan nie boor vir akkerbou-produksie nie, ek wil nie die aarde se water opsuig nie. ’n Hele klomp boere in die omgewing het toe reeds met akkerbou onder besproeiing begin. Op ’n dag het ek en my vrou besluit om saam te maak. Of ons gaan pomp of nie pomp nie, gaan nie ’n verskil maak nie.”-

Die besluit is deur ’n droom voorafgegaan. “Ek was in ’n tonnel onder die aarde en sterk water het my heen en weer geslinger. Toe ek wakker word, was dit op ’n spesifieke plek op die plaas nie ver van die opstal nie. My voorgevoel was hier moet sterk water wees. Die waterwyser is laat kom en die stok het woes gedraai – presies daar. Nie lank daarna nie, was die boorman op pad. Ek het hom vertel om nie dieper as 50 m te boor nie. Hy stop toe op dié diepte. En die water was min. Ek vra hom om nog 10 m dieper te gaan. Op 2 m dieper slaan die boormasjien ’n wateraar van 2,5 m breed. Die boorman het wel tot op 60 m gegaan... maar toe was dit al net water waar jy kyk. Die gat pomp 55 kubieke meter per uur, maar eintlik veel meer, want ’n groot genoeg dam is nie gebou om die presiese sterkte van die gat te bepaal nie.”

Coen vertel verder dat die sterk boorgat in 2003 gesink is en die water­vlak 18 m van die aarde se oppervlakte was. “Ondanks besproeiing wat gevolg het, is die watervlak die laaste klompie jare gunstiger – tussen 6 en 10 m. Die opvanggebied is goed en die goeie reënjare het na­tuur­lik gehelp.”-

In 2004 het die eerste aanplantings gevolg onder een spilpunt. Die mie­lies op 20 ha het uitstekend gevaar met ’n opbrengs van 12 ton per ha. Nog 20 ha se winterhawer het nege jaar later onder ’n tweede spilpunt gevolg. “Die groeiseisoen is eenvoudig te kort om mielies met ’n wintergewas op dieselfde grond te wissel. Vlakvarkskade op die lap aarde met die hawer was egter enorm. Die een winter se koring plant was ook ’n mislukking. Ek het toe sorghum (Honey Green) met groot sukses vir kuil­voer begin plant nadat Beefcor by my begin huur het. Deesdae word die mielieoes (die hele plant van stam, blaar, stronk en pit) van 50 ton per ha ook vir kuilvoer gebruik saam met die sorghum op 20 ha.

Prinsloos trap diep spore-

Sy beskeie aandeel in die suksesverhaal van weiveldbestuur in die Hochfeld-omgewing as voorligtingsbeampte was lank voor die tyd van omvattende studies, die nasionale beleid wat pas geïmplementeer is om weiding tot sy eertydse glorie in die land te herstel en die afgelope jare se kommer oor veldagteruitgang in die algemeen.-

Coen Prinsloo was van 1966 tot 1973 voorligtingsbeampte in dié omge­wing waar hy in die agt jaar deelgeneem het aan verskeie aktiwiteite onder die vindingryke bestuur van wyle oom Annes Kolver, jare lank sekretaris en toe voorsitter van die Hochfeld Boerevereniging. “Met oom Annes se hulp het ons met ’n droëland-akkerboukompetisie in die omgewing begin wat ’n klompie jare aangebied is. Droogtes het meegebring dat ons nie lank daarmee volgehou het nie. Eintlik leen die omgewing hom ook nie tot droëland-akkerbou nie. Die volgende baie suksesvolle stap was die weidingkompetisie waaruit die nasionale meesterbewaringskompetisie voortgespruit het. Hochfeld het dan ook met sy voorsprong in kennis en die toepassing daarvan dié kompetisie oorheers deur elf meesterbewaringboere op te lewer.”-

Volgens Coen het die weiding in die omgewing aansienlik verbeter met aktiewe deelname aan hierdie kompetisie. “Hochfeld is goeie beeswêreld wat met die boerevereniging se sterk fokus op weiveldbestuur net nog verbeter het.”-

Om self boer te wees was Coen se ideaal. Hy het ná sy loopbaan as voorligtingsbeampte met ’n BSc-landbougraad van die Vrystaatse Universiteit en ’n honneursgraad in landbouvoorligting van die Universiteit van Pretoria in sy sak ’n jaar lank vir wyle Werner List van die Ohlthaver & List-groep en ’n klompie jare vir wyle Jan Tromp geboer. “Toe kruis my pad met dié van wyle oom Martin Rust. Ek het die saadjie geplant dat ek graag sy plaas wil huur – hier op die stoeptrappie. Ons het ’n paar jaar later saam by ’n kommandokamp beland. Gou was die teikenskiet vergete en het ons kopstukke oor boerdery gesels, wat die weg gebaan het vir die oorname van vandag se waterryke Okatjetswambo. Ironies is dat die plaasnaam afgelei is van ’n fontein wat opgedroog en die destydse boere ’n ander koers laat inslaan het.” Van 1977 het Coen die plaas gehuur en in 1981 het hy die eienaar geword. In sy eerste boerderyjare het hy ook vir Agra, Rumevite en ander landbou-instansies deeltyds gewerk.-

Beide Coen Prinsloo en sy vrou, Lida, se bydraes in die Okahandja-distrik word hoog aangeslaan. Behalwe vir betrokkenheid op boerevereni­ging-vlak, was albei in ’n stadium onderwysers op die dorp.-

Hulle was ook onder die ouer garde wat tydens die Meatco-braaifees op Hochfeld vroeër vanjaar met toekennings vereer is vir jarelange bydraes tot die boerevereniging.-

En ja, Lida was Namibië se eerste dieetkundige. “My eerste werk was by die staatshopitaal. Hier het hulle nie mooi geweet wat om met my te maak nie. Ek het toe die hoof-sjef geword. Later jare het ek my onderwys­kwalifikasie verwerf en so in die klaskamers beland.”

Die Prinsloo-egpaar, albei in hul vroeë sewentigs, het twee seuns en ’n dogter. Die oudste seun, Coenie, het ses jaar gelede tragies verongeluk toe hy van Otjiwarongo op pad was na Windhoek om eksterne vraestelle (geografie, graad 12) na te sien. Die jongste seun, Faan, woon in Duitsland, waar hy jagters werf en met taksidermiste skakel. Hul dogter, die oudste, is Hanlie van Zyl, wat ook soos Coenie nou by die Edugate Privaat Skool op Otjiwarongo skool gee. Sy het ook sy Mind Move-breinprofielprojek oorgeneem. Eintlik is sy ’n biologie-onderwyser vir graad 12s.

  • Print this article
  • Email this article
  • Share this article