Loading...

Droogtevoeding strategieë en bestuursmaatreëls

Koei_kalwers
Posted by on 27 February 2024 and filed under

Droogtes in Namibië word beskou as die hoof oorsaak van onstabiele diereproduksie en dus moet droogtes as sodanig 'n fundamentele aspek wees wat altyd in ag geneem moet word tydens die beplanning van langtermyn produksie doelwitte en strategieë. Omdat veld weiding in Namibië die goedkoopste bron van voeding vir herkouers is, sal die beskerming en bewaring van hierdie natuurlike hulpbron die middelpunt moet vorm waarom droogte strategieë beplan moet word.

Die beplanning van droogtevoeding strategieë moet twee verskillende tipes droogtes in ag neem, nl:

  • die normale en voorspelbare seisoenale droë periode, wat in die geval van die Suidelike Afrika sub-kontinent vir ongeveer 5 tot 6 maande duur, met 'n neerslag van minder as 15 mm per maand; en
  • rampdroogtes, wat onvoorspelbaar is in hul aanvang, omvang en duurte, met 'n neerslag van minder as 70% van die jaarlikse gemiddelde reënval.

'n Rampdroogte word beskou as 'n boerdery toestand waar die natuurlike weiding en drinkwater voorraad, as gevolg van onder normale neerslag tot so 'n mate verswak dat indien daar met die langtermyn veelading volgehou word, diereproduksie sal daal tot 'n onekonomiese vlak, wat gepaard gaan met diere verliese.

1. Vermindering van die aantal weidende diere

Die eerste fundamentele aspek om droogte toestande te oorbrug, is om die aantal weidende diere op natuurlike weiding te verminder. Gedurende rampdroogtes sal die kostes om diere vir 'n onbepaalde tydperk te voer so hoog word, dat dit nie meer ekonomies is nie. Dit word aanbeveel dat vee in die volgende volgorde verminder moet word:

  • alle uitskot vee,
  • volwasse bemarkbare vee,
  • uitskot jong aanteelvee,
  • laag vrugbare, oud en swak aangepaste teeldiere (manlik en vroulike vee),
  • gespeende vee,
  • oorskot vervangingsdiere wat nie in produksie is nie,
  • vroeg-gespeende aanteelvee.

Dus bly slegs vrugbare en goed aangepaste vroulike en manlike teeldiere oor, wat as dit nodig sou wees, gevoer moet word. Die persentasie jong vroulike diere vermeerder, terwyl die ouer diere, wat slegs een of twee teelseisoene oor het, uitgeskot sal word.

2. Veldaanvulling

Aanvullende voeding op natuurlike weiding moet gerig wees daarop om die hoof voedings tekorte van die verskillende ekologiese areas op te hef gedurende seisoenale droogtes. Die mees populêre, praktiese en ekonomiese metodes om seisoenale droogtes te oorbrug en tekorte op te hef is deur die aanwending van lekke. Die primêre doel tydens oorbrugging van seisoenale droogtes deur die aanwending van lekke is om te poog om die liggaamsmassa van die diere konstant te hou en om te hoop op moontlike kompensatoriese groei na die eerste goeie reën.

Feedmaster beskik oor 'n reeks produkte wat gerig is daarop om aan elke boer se behoefte te voldoen. Die volgende produkte word reeds 'n geruime tyd met groot welslae in Namibië gebruik:

Onderhoudslekke Beeslek 40
  Eco Grasveldlek
  Bosverteerlek
Produksielekke Produksielek
  Koei & Kalflek
  Energielek
Lekkonsentraat Droëveldkonsentraat 
  Bosverteerkonsentraat
  Beesmix 415(Beesmix + Ureum + Sout + Enerfeed)

Hierdie produk moet verder self vermeng word om as 'n onderhoudslek of produksielek gebruik te kan word.

ʼn Tipiese voorbeeld van die gebruik van natuurlike hulpbronne in selfgemengde produksielekke in droogte toestande is die volgende:

4 sakke(200kg) Beesmix415 ™
1 sak (50kg) Ureum
5 sakke(250kg) Sout
5 sakke (250kg) Gemaalde Kameelboom/Annaboom-peule
5 sakke (250kg) Feedmaster Enerfeed/Enermol

Soortgelyke mengsels met natuurlike hulpbronne kan deur enige Feedmaster Tegniese Personeel saamgestel word vir u eie behoefte.

In die lig van verskille in voedingstatus van die verskillende ekologiese areas en tussen die voedingbehoeftes en benutting van voedingsbronne van groot- en kleinvee word produsente aangeraai om 'n voedingkundige te raadpleeg voordat tuis-gemengde lekke aangewend word.

Die normale veldtoestande gedurende seisoenale droogtes word soms vererger deurdat die verwagte reën nie voorkom aan die einde van die winter nie en aanvullende voeding langer moet aanhou as wat verwag was. Sulke verlengde droë periodes is nie ongewoon nie en mag ontwikkel in ernstige droogtes. Soos verwag word onder rampdroogte toestande is daar baie min of geen weiding oor nie en sal die behoefte aan ruvoer primêr wees.

Dit is van uiterste belang dat genoegsame droë weiding beskikbaar moet wees as daar van lekke gebruik gemaak word. Lekke moet nie gesien word as 'n wondermiddel en kits oplossing nie, maar eerder as 'n hulpmiddel om seisoenale voedingstekorte op te hef.

3. Droogtevoeding tydens rampdroogte toestande

Dit is vanselfsprekend dat waar daar geen of baie min weiding beskikbaar is, lek geen doel sal dien nie en dat die keuse op voere sal val. Droogtevoeding moet van ander voedingpraktyke onderskei word, deurdat die hoofdoel van droogtevoeding is om diere aan die lewe te hou vir 'n betreklike lang en onbepaalde periode en dat daar geensins klem gelê word op enige produksie aspekte van die diere nie.

Indien alle ou en oorskot diere verwyder is as deel van die verminderingsproses van weidende diere, sal daar gekyk moet word na moontlike metodes om die oorblywende diere te onderhou. Drie moontlikhede bestaan nl.

  1. om diere op die veld te voer en 'n ligte weidingsdruk te handhaaf
  2. om diere totaal te onttrek vanaf die weiding vir oorlewingsvoeding in krale
  3. om gebruik te maak van lae produksie voeding onder kraaltoestande.

A. Voeding onder veldtoestande

Die mees algemene metode in die verlede om rampdroogtes te oorbrug was om lusernhooi en mielies aan diere op die veld te voer. Indien die weidingtoestande nog nie baie swak is nie of waar daar pro-aktief opgetree word om diere vinniger markklaar te kry en sodoende die weidingsdruk te verlig, kan die praktyk nagevolg word. Feedmaster produkte wat gebruik kan word is:

  • Lusernkorrels (droogte onderhoudvoer)
  • Breker 12 korrels
  • Beefpro 14 / Rumen Optimizer korrels
  • Rangeland Grower
  • HPK30 vermeng met Enerfeed of Enermol

Gebruik klein kampe om onnodige energie verbruik deur lang afstande te loop te beperk. 'n Daaglikse voerinname gelykstaande aan 1 tot 2 % van die diere se lewende massa word vir bostaande produkte aanbeveel. Verskaf genoeg vreetspasie, sorg dat die diere vrye toegang tot water het en dat genoeg vreetbare weiding altyd beskikbaar is.

In die lig van die agteruitgang van die natuurlike weiding en die feit dat uittrapping van die veld bevorder word, word die waarde van hierdie praktyk egter bevraagteken in tye van weiding skaarste. 'n Vergelykende studie het egter getoon dat weidende skape wat gemiddeld 9 km per dag loop, 77% meer energie benodig as kraalgevoerde skape. Dit word egter aanbeveel dat hierdie praktyk nie gebruik moet word as diere reeds in liggaamsmassa verloor het en/of waar die veldtoestande baie swak en kwesbaar is nie.

B. Oorlewingsvoeding onder kraaltoestande

Die primêre doel van hierdie praktyk is om die hoeveelheid oefening van diere te beperk en so ook die hoeveelheid energie wat benodig word vir oorlewing. Die volgende voorvereistes en praktyke moet altyd in ag geneem word:

  • Voorsien 6 m² kraal area per grootvee eenheid (GVE) en 2 m² per kleinvee eenheid (KVE)
  • Voorsien 900 mm kripspasie per GVE en 400 mm per KVE
  • Skaduwee moet voorsien word
  • Skoon drinkwater moet altyd beskikbaar wees
  • Alle diere moet behandel word teen interne parasiete
  • Ent skape teen bloednier voordat hulle in voerkraaltoestande aangehou word
  • Groepeer diere volgens produksie-status en massa en voer hulle in aparte krale
  • "Skaam vreters" moet verkieslik apart gevoer word
  • Beeste moet twee tot drie keer per week gevoer word en in die geval van skape sal een tot twee keer per week voldoende wees. Dit sal totale rumenvulling van diere verseker, asook die kompetisie tussen diere verminder.
  • Lakterende diere moet elke dag gevoer word.
  • Die voedingspeil sal bepalend wees van die produksie-status van die groep diere en kan wissel van 1.5 tot 2 % van liggaamsmassa per dag. Die ekwiwalent daarvan sal dus met elke voeding aan die diere verskaf word.
  • Vermorsing moet tot 'n minimum beperk word.
  • Die kragvoer of konsentraat komponent moet geleidelik aan die diere verskaf word om verteringstoornisse te verhoed.
  • Alle diere moet ingespuit word met Vitamiene A, D en E voordat kraalvoeding begin.

Die primêre nutriënt (voedingstof) wat tydens droogtes gevoer word is energie, gevolg deur die voorsiening van proteïene in 'n gebalanseerde dieet. As gevolg van die relatief klein hoeveelhede minerale wat deur nie-groeiende diere benodig word vir oorlewing, asook die feit dat minerale beskikbaar gestel word deur die afbreek van weefsel, word dit nie nodig geag om addisionele minerale aan te vul nie. Sorg moet gedra word dat daar aan die minimum behoeftes van energie en proteïen voldoen word. Feedmaster Lusernkorrel is spesiaal geformuleer om aan diere te kan verskaf tydens oorlewingsvoeding in krale. Hierdie rantsoen kan ad lib aan vee verskaf word soos in bogenoemde voedingspraktyk.

C. Produksievoeding onder kraaltoestande

Produksievoeding sal vanselfsprekend duurder wees as wat die geval met oorlewingsvoeding onder kraaltoestande sal wees. Verder is dit ook so dat die voeding van ouer diere duurder sal wees as die van jonger diere. Dit is dus duidelik dat die vermindering van dieregetalle 'n leidende rol speel in toepassing van hierdie praktyk.

Die doel van produksievoeding sal dus wees om ou diere uitsluitlik vir bemarking af te rond, om dragtige en lakterende diere te voer volgens produksie, om lammers en kalwers op 'n vroeë ouderdom te speen (8 en 10 weke respektiewelik) en om jong teeldiere te behandel volgens normale bestuurspraktyke nl. paring, kalwing en afronding van die nageslag op gepaste diëte.

Die volgende produkte wat deur Feedmaster vervaardig word kan aangewend word vir produksievoeding onder kraaltoestande:

Volledige rantsoene Breker 12 korrels (volledige herkouer voer)
  Skaapafrondkorrels
  Stoetveekorrels
Aanvullende rantsoene* Rangeland Grower
  Beefpro 14 / Rumen Optimizer korrels
  HPK30 vermeng met Enerfeed en/of Enermol

* Voldoende ruvoer moet ad lib beskikbaar wees. Voer aanvullende rantsoene ad lib in 'n kafeteria stelsel na 'n aanpassingsperiode van minstens tien dae.

Indien u enige verdere inligting benodig kan u gerus met Feedmaster se kundige personeel in verbinding tree by tel: 061 – 290 1300

  • Print this article
  • Email this article
  • Share this article